Sakeman in hof ná vrou by lodge sterf

Herman van Tonder. Foto: Via Facebook.

Herman van Tonder (50), die eienaar van ʼn bekende lodge buite Bela-Bela in Limpopo, het Vrydag in die plaaslike landdroshof verskyn waar hy aangekla word van die moord op sy vrou, Elrina.

Die staatsaanklaer, wat geweier het om sy naam aan Maroela Media te bevestig, het versoek dat die saak uitgestel word hangende opdragte van die direkteur van openbare vervolging. Die saak is daarna tot 4 Mei uitgestel.

Van Tonder is die eienaar van Mbizi-lodge en ʼn bekende sakeman in die gemeenskap. Sy destydse vrou, Elrina (42), is in November 2014 oorlede. Die plaaslike koerant het destyds berig dat sy vermoedelik gesterf het weens inwendige bloeding van ʼn maagseer.

Die staat voer egter nou aan dat Van Tonder vir sy vrou se dood verantwoordelik is.

Elrina van Tonder. Foto: Via Facebook

Konst. Monatse Mmabolo, woordvoerder van die polisie, het vroeër aan Maroela Media gesê die polisie het op 6 November 2014 omstreeks 10:10 gereageer op ʼn saak van ʼn vrou wat by Mbizi-lodge gesterf het. Sy is na die hospitaal geneem waar sy dood verklaar is.

Mmabolo het gesê daar was geen sigbare wonde, buiten ʼn merk aan die oorledene se gesig nie. Die polisie het aanvanklik ʼn geregtelike doodsondersoek begin, voordat die DOV besluit het dat Van Tonder op aanklag van moord vervolg moet word.

Die oorsaak van Elrina se dood sal na verwagting deur die loop van die hofverrigtinge bekendgemaak word. Die staatsaanklaer wou ná afloop van vandag se hofverrigtinge geen nadere besonderhede oor die saak aan Maroela Media bevestig nie.

Van Tonder het in Januarie vanjaar vir die eerste keer in die hof verskyn waarna hy op borgtog van R15 000 vrygelaat is. Sy borgtog is Vrydag verleng op dieselfde borgtogvoorwaardes.

Die Bela-Bela-landdroshof. Foto: Mariné Lourens

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

CAROL ·

Genade wat is dit met die besigheids manne wat hul vrouens doodmaak??? Dankie tog ek is enkel

Arend ·

So n besonderse mooi ou mensie wat deur euwels verwoes word..

jaco ·

Dis nie polities korrek dat die SAPD die ware moordenaar vang en verhoor nie. Een wit mens minder is immers wat hulle in elk geval wil hê. Hulle sê dit net nie openlik nie. So wat word gedoen? Blameer eenvoudig ‘n wit naasbestaande van die slagoffer. Daar is talle soortgelyke sake.

KG ·

As Suid Aftikaners glo ek met als wat in die ou land van ons gebeur, ons maar goed skepties en/of anderdogtig kan wees. Dis wel net altyd vir my interessant dat die persoon nog nie eers deur die reg skuldig bevind is nie en baie kere het ons nie eers al die nodige inligting nie, dan het Jan Publiek klaar besluit hy/ sy is skuldig…..

Lientjie ·

Ander mense se boeke is maar duister. Mens dink jy ken hulle, so dink jy jou lewens maat kan nie ‘n vlieg skade doen nie, maar back at the ranch agter toe deure gebeur daar baie dinge. Ek hoop regtig dat hierdie man onskuldig is.

Ovidius ·

Lees dalk weer die berig. Aanvanklik is gedink sy is aan ‘n maagseer dood. Ons almal weet dinge by die SAPD is ver van perfek af maar – met respek – in hierdie geval is jou kommentaar bietjie misplaas.

GM ·

Dalk is die man onskuldig, en nou word daar al klaar vas geglo dat hy skuldig is. Hoekom haar dood aan ‘n maagseer toeskryf en nou aan iets anders? En dit gaan altyd my verstand te bowe hoekom sommiges R15000 borgtog betaal, en ander wat bv. vir miljoene se bedrog aangekla word, word op borgtog van R500 of iets belagliks vrygelaat. En ja, moord vs. bedrog is nie ‘n goeie voorbeeld nie, maar nogtans..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.