Sakeman in Kaapstad ontvoer

Argieffoto: SAPD

Die polisie het ʼn volskaalse soektog van stapel gestuur na ʼn sakeman wat Maandagoggend by sy onderneming in Kaapstad ontvoer is.

Die Wes-Kaapse polisie het in ʼn verklaring gesê die sakeman, Layaqat Allie Parker (65), is glo deur vyf onbekende verdagtes by sy sakeonderneming in De Greens in Parow ontvoer.

“Die slagoffer het in die parkeerterrein onder sy sakeonderneming ingery toe ʼn dubbelkajuitbakkie hom agtervolg het. By die hek het die verdagtes ʼn vuurwapen op die veiligheidswag gerig, hom in ʼn toilet ingedwing, sy selfoon gevat en hom toegesluit,” het die polisie gesê.

Die verdagtes het Parker in die parkeergebied oorval en hom in hul voertuig ingeboender en weggery.

Die polisie ondersoek ʼn saak van ontvoering en gewapende roof.

Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om met enige inligting na vore te kom wat die polisie in sy ondersoek kan bystaan. Bel konst. Chesron de Vries by 082 493 8472.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.