Sakeman-pa stabiel ná skietery

Schivas Rock in Lynnwood, Pretoria (Foto: Maroela Media)

Schivas Rock in Lynnwood, Pretoria (Foto: Maroela Media)

André de Almeida, die eienaar van die gewilde kuierplek Schivas Rock in Lynnwood in die ooste van Pretoria wat Dinsdagoggend in die kombuis van sy familieonderneming geskiet is, se toestand is stabiel.

Maroela Media het vroeër berig twee gewapende mans het Dinsdag omstreeks 10:20 die kuierplek binnegestorm en De Almeida (48) en sy dogter Claudia (21) geskiet.

Volgens Laurance Viljoen (24), praktykbestuurder van Life Lab wat langs die kuierplek geleë is, het hulle omstreeks 10:24 die slagoffers gaan bystaan, nadat De Almeida se vrou, Silvia, hulp ontbied het. Een van Viljoen se werknemers, Olivia Kasselman (24), is ʼn opgeleide traumasuster. Kasselman, Viljoen en ʼn dokter van ʼn nabygeleë praktyk het die pa en dogter te hulp gesnel.

De Almeida is in die linkerbors getref en Claudia in die gesig. Claudia kon self na die ambulans loop en is in ʼn stabiele toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

De Almeida het egter kritieke beserings opgedoen. Die dokter, suster en paramedici van Advanced Paramedic Assist het nagenoeg ʼn uur lank gespook om sy lewe te red. Hy is in ʼn bedenklike toestand na ʼn nabygeleë hospitaal geneem.

Graeme Clayton, geleentheidkoördineerder by Schivas, het Donderdag aan Maroela Media gesê volgens die jongste inligting wat hy van Silvia ontvang het, is De Almeida se toestand stabiel en lyk sy prognose goed.

“Claudia is baie gelukkig want die koeël het al die hoofare in haar nek gemis toe die koeël daar uit is. Dit lyk amper nes ʼn skraapwond,” het Clayton gesê.

Volgens Clayton was Sylvia en Loudres, hul jongste dogter, in die kantoor tydens die skietvoorval en is nie beseer nie.

Die motief vir die voorval word steeds ondersoek. Dit wil nie voorkom of iets tydens die voorval geroof is nie. Die verdagtes het in ʼn silwerkleurige Golf 7 van die toneel gevlug.

Die Brooklyn-polisiestasie ondersoek twee sake van poging tot moord. Maroela Media wag vir terugvoer van die polisie oor die stand van die ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niel ·

Helder oordag. Ons leef in ‘n misdaad paradys, niemand kan seker wees van sy lewe nie.

Rocky Bell ·

Ons moet almal paraat wees. Moet nooit iets as van nature aanvaar. Dank die Vader ons woon in ‘n dorpie waar jy nie elke oomblik oor jou skouer hoef the loer nie. Misdaad eintlik ongehoord.

LB S ·

Moet asb nie sê dit is van daardie Mafia-tipe groepe wat klub/restauranteienaars wil afpers vir proteksiebetalings nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.