Sakeman se beweerde moordenaars vas

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

Drie mans, insluitend ʼn metropolisiebeampte, is in hegtenis geneem in verband met die moord op ʼn Durbanse sakeman.

Kapt. Nqobile Gwala, woordvoerder van die polisie, het gesê lede van die polisie se nasionale intervensie-eenheid en ʼn private veiligheidsmaatskappy het Vrydag onverpoosd gewerk om leidrade op te volg ná die moord op Hoosen Dodha. “Hulle harde werk is beloon nadat drie verdagtes in hegtenis geneem is,” het hy gesê.

Dodha se liggaam is Maandagoggend by ʼn onderneming in Berea gevind nadat die polisie inligting oor ʼn moord ontvang het. Hy is verskeie kere geskiet. Die onderneming is geplunder, maar dit is steeds nie duidelik wat gesteel is nie.

Sewe 9 mm-patroondoppies is op die toneel gevind. Die verdagtes, tussen 21 en 32 jaar oud, sal Maandag in die Durbanse landdroshof van moord en roof aangekla word.

Genl.maj. Bhekinkosi Langa, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, het die vennootskap tussen die polisie en die veiligheidsmaatskappy wat tot die inhegtenisnemings gelei het, geloof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.