Sakeman se eksvrou, werker vas ná sy dood

Die pyp waar die gebrande liggaam gevind is. Foto: The Bulletin

Die eksvrou van ʼn bekende sakeman van Evander in Mpumalanga en ʼn werker van sy slaghuis moet weer in September in die hof verskyn nadat hulle vroeër vandeesmaand in verband met sy moord in hegtenis geneem is.

The Bulletin berig Mervin van Heerden (63), mede-eienaar van Karmer Meat Market, is op 2 Augustus vermoedelik in die slaghuis vermoor.

Die Evander-polisie het aanvanklik ʼn vermistepersonesaak ondersoek toe hy spoorloos verdwyn het. Die polisie het die volgende dag Mervin se bakkie verlate by die stortingsterrein by Evander gevind. Daar is vermoedelik bloed in sy bakkie gevind wat met bloed in die slaghuis verbind kon word.

Van Heerden se eksvrou, Karen (47), mede-eienaar van die slaghuis, en een van hul werkers, Darrello Soetmelk, is kort daarna in verband met Mervin se moord in hegtenis geneem.

Soetmelk het ná sy inhegtenisneming na bewering aan die polisie uitgewys waar die oorledene se liggaam in ʼn pyp in die veld naby Unicordam gestort is, waarna daar ʼn vloeistof oor sy liggaam gegooi en hy aan die brand gesteek is.

Die polisie het op ʼn liggaam in die pyp afgekom wat erg verbrand is.

Karen en Soetmelk het op 6 Augustus vir die eerste keer in die Evander-landdroshof verskyn waar hulle ontken het dat hulle iets met die moord te doen gehad het.

Albei is op waarskuwing vrygelaat en moet weer op 13 September in die hof verskyn. Die polisie se ondersoek duur steeds voort en daar word glo na nog ʼn verdagte gesoek.

Mervin van Heerden. Foto: Via Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wonder oor die ·

Hierdie dame is bekend daarvoor dat sy mans aanrand. Haar huidige kerel loop ook telkemale deur onder haar aanrandings.

ouch ·

Sjoe…………kan nie verstaan dat mense nie hul hande kan tuishou nie. Beter deesdae om ongetroud te wees.

Noeks ·

Waaaat! Hy het dan aan die polisie beskryf waar om die liggaam te kry en dat die man verbrand is. Hoe net op n waarskuwing vrygelaat word om weer in die hof te verskyn. Moes hy nie gearresteer gewees het nie.

Anoniem ·

Mense praat in klein dorpies, en indien dit waar is dat hy sy vrou en dogter aangerand het in ‘n slaghuis vol mense, wonder mens wat in privaat gebeur het vir so iets om te gebeur. Elke saak het drie kante.

Anoniem 2 ·

Mense skinder en las erger stiries aan in klein dorpies en daar is gewoonlik 4 kante aan n storie in n klein dorpie:
1. My kant
2. Jou kant
3. Die waarheid
4. Die skinder bekke se stertjies

Hettie ·

Hoekom vrygelaat!!!! Hulle moes by tronk gebly het want hulle het die man vermoor!

Wonder oor die ·

Blykbaar is haar vorige kerel / verloofde ook oorlede. Dit is algemene kennis dat sy haar kerels aanrand. Klink vir my maar baie fishy.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.