Sakeman skenk werpsel hondjies aan SAPD

Bashir Pattel oorhandig die hondjies aan ao Hennie Steenkamp en ao Jacques Meyer Foto: SAPD

Bashir Pattel oorhandig die hondjies aan ao Hennie Steenkamp en ao Jacques Meyer Foto: SAPD

Bashir Pattel, ʼn sakeman van Bergville in Ladysmith, in KwaZulu-Natal, het vandeesweek ʼn werpsel hondjies aan die polisie se honde-eenheid oorhandig.

“Pattel en sy gesin het besluit om die hondjies aan die polisie te gee nadat hulle ʼn berig in ʼn plaaslike koerant gelees het oor ʼn hond wat geskenk is,” het kaptein
CM Struwig, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê.

“Ek en my vrou het besluit om dit te doen omdat die honde-eenheid baie goeie werk doen met die honde, veral in misdaadbestryding teen dwelmmiddels,” het Pattel gesê. “Soveel gesinne word uitmekaar geskeur weens dwelmmiddels en ons het dit as ʼn geleentheid beskou om ʼn goeie daad vir die gemeenskap te verrig.”

Pattel het die vier reuntjies en een tefie Woensdag aan die polisie oorhandig. Die Duitse herdershonde is nou 12 weke oud. Die tefie se naam is Niki, maar die reuntjies het nog nie name nie.

Die honde sal by die Roodeplaat-opleidingsinstansie opgelei en geëvalueer word om te bepaal vir watter kategorie opleiding hulle geskik is. Daar is 11 kategorieë waarin die honde opgelei word, naamlik patrolliehonde wat vir misdaadbestryding gebruik word; spoorsny; dwelmsnuffel; skaaphonde wat teen veediefstal gebruik word; soek- en reddingshonde; honde wat menslike liggaamsvloeistowwe kan ruik; brandsnuffel; honde wat beskermde spesies soos perlemoen, renosterhoring of ivoor kan snuffel; karkas- en velhonde; en honde wat kontantnote kan uitsnuffel.

“Ons weet dat die honde goed versorg gaan word,” het Pattel gesê. “Ons bid dat God elke hondjie sal gebruik om ʼn beduidende en positiewe bydrae te lewer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.