Piet Els (86) is Dinsdag in ʼn hospitaal dood amper vier maande nadat hy en sy vriendin wreed op sy plaas buite Kimberley in die Noord-Kaap aangeval is.
Els en Rikkie Alsemgeest (68), albei bekende sakelui van Kimberley, is die aand van 23 Januarie op Els se plaas sowat 10 km buite Kimberley aangeval. Vier aanvallers het die paar gedreig en aangerand voordat hulle hul hande en voete vasgebind het. Hulle is vir ure aangerand en gemartel en onder meer met ʼn strykyster gebrand.
Die verdagtes het die kluis met ʼn hoeksnyer oopgesny en met ʼn groot hoeveelheid waardevolle items, ʼn jaggeweer en ʼn wit Mercedes-Benz op die vlug geslaan. Die voertuig is later verlate op die R31 naby Phutanang buite Kimberley opgespoor.
Niel Alsemgeest, Rikkie se seun, het aan Maroela Media bevestig Els is Dinsdagoggend vroeg oorlede. Volgens hom was Els sedert die aanval in die hospitaal en is van die hoësorgeenheid na die waakeenheid oorgeplaas. Hy is ook in isolasie behandel. Volgens Alsemgeest het Els se toestand die afgelope paar weke versleg en het sy organe begin ingee.
“Hy het die afgelope twee tot drie weke erg gely. Dit is maar baie rof vir my ma, maar dit is ʼn verligting dat hy nie meer ly nie.”
Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, het intussen bevestig die drie verdagtes wat in verband met die voorval in hegtenis geneem is, is verlede maand in die Kimberley-landdroshof borgtog geweier.
Hulle staan tereg op aanklagte van huisbraak, roof met verswarende omstandighede, verkragting en oortreding van die immigrasiewet. Die beskuldigdes mag weens die aanklag van verkragting nie geïdentifiseer word voor hulle gepleit het nie.
Alsemgeest het gesê sy ma is seksueel aangerand en die klag van verkragting spruit hieruit voort. Sy het toestemming gegee dat sy geïdentifiseer mag word.
Die beskuldigdes sal intussen Woensdag weer in die hof verskyn waar die aanklagte teen hulle moontlik verander kan word ná Els se afsterwe.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
26 Kommentare
Ag nee…… oom Piet ek het voor jou groot geword! Eks so jammer om te hoor! ?
Innige simpatie met al die familie en vriende. So jammer. Mag die moordenaars spoedig gevonnis word. Die onwettige mense doen baie skade in hierdie land. Hul mag nie vrygelaat word nie.
Allerhande aanklagte, maar nie poging tot moord nie? Nie manslag nie?
Hoe gaan ons liberales nou probeer om dit toe te smeer? Seker deur om nie hieroor te berig in die massamedia nie, hierdie tegniek werk tog goe, wat dink jy Max?
My innige Simpatie aan die Familie en geliefdes… ek hoop dat die Moordenaars hul dag dubbel en dwars sal kry… n dierbare mens se lewe is geneem… Suid-Afrika … wat gaan ons doen omtrent die Plaas aanvalle en Moorde??? Wie gaan ons Red.. Ons moet net aanhou Bid…. God sal intree