Sakeman sterf tydens skietongeluk op kleinhoewe

Tiaan Oosthuizen. Foto: Facebook

Die familie van ʼn sakeman van Bela-Bela in Limpopo is in rou gedompel nadat hy verlede week in ʼn fratsongeluk op ʼn kleinhoewe buite die dorp gesterf het.

Tiaan Oosthuizen (54) is Woensdag dood nadat hy met sy haelgeweer in sy hand deur ʼn wildsheining op die kleinhoewe geklim en die vuurwapen per ongeluk afgegaan het. Die skoot het hom getref en hy is op slag dood.

Adolph Vosloo, Oosthuizen se seun, het aan Maroela Media gesê sy pa was die oggend toevallig van die werk af huis toe om water te gaan haal toe die voorval gebeur het. “My pa was op die uitkyk vir slange op die kleinhoewe omdat hy en my ma onlangs twee hondjies weens slange verloor het,” het hy gesê.

Volgens Vosloo was sy pa omstreeks 9:15 besig om uit die erf te ry toe hy ʼn rinkhals langs die heining gewaar het. Oosthuizen het een van die werkers gevra om ʼn oog op die slang te hou terwyl hy vinnig die huis in is om sy haelgeweer te gaan haal.

“Toe hy by die slang kom, het hy die haelgeweer oorgehaal, maar die slang het onderdeur die heining na die kleinhoewe langsaan geseil. My pa het deur die heining geklim en hy moes die vuurwapen gestamp het of iets en ʼn skoot het afgegaan. Albert [die werker] het ʼn meter weg van hom af gestaan en gesien wat gebeur. My pa was dadelik weg.”

Volgens Vosloo is die voorval nog meer tragies omdat Oosthuizen ʼn bekwame skut was wat baie ingestel was op vuurwapenveiligheid. Oosthuizen was voorheen in die SAPD en deel van die polisiespeurdiens. Hy was ook ʼn gesoute jagter.

“Ons voel byna beroof deur sy dood. Hy was so bewus van vuurwapenveiligheid en het almal op die jagveld altyd moeilikheid gegee indien hulle nie hul wapens veilig hanteer nie. Hy was die dag seker haastig of het net ʼn simpel fout gemaak dat so iets moes gebeur,” het hy gesê.

Tiaan en Riekie Oosthuizen. Foto: Facebook

Oosthuizen en sy vrou, Riekie, was van 2003 tot 2015 die eienaars van die Marula Mountain Village buite Bela-Bela. Hulle is ook eienaars van ʼn nasionale skuldinvorderingsbesigheid. In 2015 het die egpaar die oord verkoop, omdat hulle ander sakebelange te veel van hul tyd in beslag geneem het. Hulle het egter steeds die kleinhoewe langs die oord gehou waar hulle sedertdien gewoon het. Die egpaar sou vanjaar hul 26ste huweliksherdenking vier.

“My pa was ʼn ongelooflike plat-op-die-aarde-mens. As ek hom in een woord moet opsom, sal dit wees ‘raadgewer’. Hy het baie tyd vir ander mense gehad en het altyd so baie belangstelling in ander getoon. En dit was nie net om voor te gee nie. Hy het werklik belanggestel in ander en wou altyd ander help. Ek dink dit is hoekom mense so lief was vir hom,” het Vosloo gesê.

Volgens Vosloo het honderde mense reeds laat weet dat hulle beplan om ʼn gedenkdiens vir Oosthuizen, wat die komende naweek gehou sal word, by te woon.

Hy het gesê hoewel dit vir die familie baie moeilik is om Oosthuizen se dood te verwerk, vind hulle berusting in hul geloof. “Dit is maar menslik om te vra hoekom en te wonder hoekom so iets moes gebeur. Maar daar is ʼn mate van berusting in die feit dat hy so ’n reguit pad gestap en so ’n goeie mens was en dat hy daarvoor onthou sal word.”

Oosthuizen word oorleef deur sy vrou, Riekie, sy seun Adolph, sy drie dogters, Denise Du Rand, Felecia Lawrence en Pamela Duka Oosthuizen en sewe kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Michael ·

Sterkte aan die familie en jammer oor julle verlies en vir die vuurwapen eienaars wees versigtig en pas die veiligheidsmaatreëls toe wanneer jy n wapen hanteer.

Swannie ·

Sterkte aan die familie.

( Maroela Media – `n persoon is `n bekwame skut en nie `n skieter nie)

Mariné Lourens ·

Dagsê Swannie

Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

Gerrit ·

Tragies….is ‘n under statement!!! Ek kry hierdie familie bitterlik jammer om iemanx van hierdie kaliber en stoffasie op so wyse te verloor. Mag die Vader self julle vertroosting en kalmte bewerkstellig! Jammer! Jammer!

al ·

My innige simpatie aan hierdie gesin wie se vader en eggenoot so vroeg weggeneem is.

Vrae ·

Vrae sonder antwoorde. Mag julle berusting vind met hierdie groot verlies wat onomkeerbaar en uiters tragies is. Mag ons ander leer uit hierdie gebeurtenis dat jy nooit ooit té versigtig kan wees. Selfs met die skoonmaak van jou wapen moet nooit gerus raak.

Anell ·

My innige simpatie aan die familie, die was ‘n frats voorval, deur ‘n ervare ‘skut’ nie ‘skieter’ asb.

Mariné Lourens ·

Dagsê

Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Mariné
nms Maroela Media

JS ·

Medelye aan die familie. Maar mens moet ook bysê, as iemand ‘n fout maak wat ‘n lewe kos dan noem jy dit nalatigheid, nie ‘n fratsongeluk soos hierbo nie. Dis nie lekker om dit te hoor nie, maar in ‘n tye waar meer en meer mense vuurwapens kry en dra moet ons nie doekies omdraai oor veilige hantering nie.

Leoni ·

Sommige mense verloor ‘n boom in ‘n woud … ons het ‘n hele woud verloor :-(

Susan ·

Dis nie die eerste keer dat ek hoor van ‘n geweer wat afgaan as mense deur heinings klim nie…baie tragies…:-( RIV

JS ·

Liewe Jeannette, dit gaan nie oor woordkeuse nie, maar waar die oorsaak van die tragiese ongeluk toegeskryf word. Skiet ongelukke gebeur nie vanself nie – daar is ‘n menslike handeling betrokke. Beste praktyk is om ‘n wapen veilig te maak voor jy oor ‘n draad klim, dan kan dit nie perongeluk skiet as dit sou val nie. Nou ek sê dit met alle respek, maar die oorledene het ‘n fout gemaak deur nie sy wapen veilig te maak nie en gevolglik was hy nalatig. Die rede hoekom ek dit uitwys is dat mense moet persoonlike verantwoordelikheid vat as dit by wapen veiligheid kom, daar is gans te veel onnodige skietongelukkige in ons gemeenskap.

SARIE VAN HEERDEN ·

Een troos is dat hy nie gemartel en vermoor is nie. Sterkte aan die familie.

Johan Pietersen ·

Tragies. Het al op ‘n baie jong ouderdom agtergekom mens kan nie ‘n vuurwapen veilig genoeg hanteer nie. My pa was ook in die SAPD en heeldag met vuurwapens gewerk en alle veiligheidsmaatreêls nagekom en ons heeldag op die gevare van wapenhantering gewys en dat hulle met respek behandel moet word. Een dag na ‘n jag uittog was hy besig om sy geweerloop in die slaapkamer skoon te maak toe ‘n skoot onverwags afgaan. Ons het almal slaapkamer toe gestorm. Dit was ‘n ongeluk, maar gelukkig is die skoot deur die dak!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.