Sakeman, student vas oor renosterhoring

Argieffoto

ʼn Sakeman van Mpumalanga en ʼn 21-jarige student het Donderdag in die Hazyview-landdroshof verskyn nadat hulle in hegtenis geneem is tydens ʼn operasie om die onwettige handel van renosterhoring hok te slaan.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê die operasie is in Mbombela uitgevoer deur lede van die Valke, met behulp van ʼn spesiale taakspan, die polisie se forensiese eenheid en lede van SANParke. “Drie persele is deursoek as deel van die operasie en daar is op die loop van ʼn vuurwapen, ʼn jaggeweer, hoëkaliber patrone, ʼn knaldemper, ʼn aantal identiteitsdokumente, bankkaarte en Sassa-kaarte beslag gelê,” het Mulaudzi gesê.

Petrus Sydney Mabuza (54) en Nozwelo Mahumane (21) word ook daarvan beskuldig dat hulle handel gedryf het met renosterhoring in Acornhoek. Hulle staan onder meer tereg op aanklagte van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, sameswering om ʼn misdaad te pleeg en verskeie oortredings van die Kredietwet.

Mulaudzi het Mabuza as “ʼn vooraanstaande sakeman” bestempel en gesê Mahumane is ʼn student aan Unisa. Mabuza bly in aanhouding en Mahumane is op borgtog van R20 000 vrygelaat met streng voorwaardes. Die twee sal weer op 20 Junie in die hof verskyn.

Mulaudzi wou geen verdere inligting oor die bewerings teen die beskuldigdes bekendmaak nie omdat dit die ondersoek na die saak kan benadeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gestremde ·

Ondersoek die sakeman sommer vir ander misdade ook. Dit wil vir my voorkom of sy besigheid floreer op skelmstreke.

tamboti ·

Haai nee die manne moet van die agtergeblewenes wees wat van Sassa pensioentjies afhandlik is. Seker is ook heelwat van hulle familie oorlede die dat hulle ekstra id en bankkaarte het. En taamlik Sassa kaate ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.