Sakeman veilig ná ontvoerders losprys van miljoene eis

Foto: Verskaf

Die polisie in Limpopo het ʼn verdagte in hegtenis geneem en ʼn sakeman bevry nadat sy ontvoerders miljoene rande as losprys geëis het.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes het Woensdagaand inligting ontvang oor die ontvoering van ʼn sakeman in Thohoyandou. Die ontvoerders het ʼn losprys van miljoene rande van die sakeman se familie geëis. Die familie is beveel om die losprys by ʼn afgespreekte plek in Polokwane af te laai.

Volgens Ngoepe het polisiebeamptes die punt tot omstreeks 01:00 Donderdagoggend dopgehou waarna die vermeende ontvoerders opgedaag het. “Die beamptes het die verdagtes genader en beveel om oor te gee. Die verdagtes het egter weggejaag en die beamptes het hulle agternagesit.”

Ngoepe het gesê beamptes het die verdagtes vir omtrent 43 km agtervolg terwyl daar kort-kort op die polisievoertuig losgebrand is. Die bestuurder van die verdagtes se motor het later beheer oor die voertuig verloor en ʼn botsing veroorsaak.

“In dié proses kon een van die verdagtes daarin slaag om te ontsnap terwyl die ander verdagte beseer en in hegtenis geneem is. ‘n Onbekende bedrag kontant is in die verdagtes se voertuig gevind. Die sakeman, in sy 50’s, is ongedeerd gered.”

Volgens Ngoepe sal die gearresteerde verdagte binnekort in die Thohoyandou-landdroshof verskyn op aanklagte van gewapende roof, ontvoering en uitbuiting. Ngoepe het gesê die tweede verdagte is intussen geïdentifiseer maar dat die polisie nog op soek is na hom.

Die ondersoek na die voorval duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.