Sakeman voor onderneming ontvoer

Argieffoto: https://pixabay.com

ʼn 71-jarige man word vermis nadat hy glo Dinsdagmiddag voor sy onderneming in Woodstock, Kaapstad, ontvoer is.

Sers. Noloyiso Rwexana, woordvoerder van die polisie, het gesê Sadeck Zhaun Ahmed en sy bestuurder was teen 17:40 in ʼn voertuig voor die sakeonderneming toe ʼn onbekende dubbelkajuitbakkie agter hulle stilgehou het.

“Drie mans het [Ahmed] met ʼn vuurwapen gedreig en hom gedwing om in die bakkie te klim. Hulle het in die rigting van Victoriaweg weggery,” het Rwexana gesê.

Sy het gesê die bakkie is later verlate in Victoriaweg gevind, maar daar was geen teken van Ahmed nie.

“Enigiemand met meer inligting of wat die voorval sien gebeur het, word versoek om ao. David Miles by 021 486 2840 of Crime Stop by 08600 10111 te bel,” het Rwexana gesê.

Die polisieondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.