Sakemanne tronk toe oor bedrog

(Argieffoto)

Twee sakemanne is in die Durbanse handelsmisdaadhof tot effektief agt jaar tronkstraf elk gevonnis ná hul skuldigbevinding aan bedrog van R3,1 miljoen.

Gideon Pretorius (51) en Vimal Amichand Rajbansi (51) het in November 2010 die klaer by ’n maatskappy genaamd Merchant genader vir finansiering om vir kantoortoerusting ter waarde van R3,1 miljoen vir Pretorius se maatskappy, Ditona, te betaal.

Hulle het dit gedoen via Rajbansi se maatskappy Brainwave Projects. Die beskuldigdes het ’n faktuur met reeksnommers van die toerusting gegenereer en op grond van hierdie faktuur het Merchant die finansiering verskaf.

Volgens Natasha Ramkisson-Kara, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), is die betrokke toerusting reeds deur ’n ander maatskappy genaamd Rentworks aangekoop en gefinansier.

“Ditona is later gelikwideer en Merchant het aansoek gedoen om vir die bates wat hulle gefinansier het, te eis sodat dit nie by die likwidasie ingesluit is nie. Dit is toe dat hulle besef het die bates behoort reeds aan Rentworks en hulle het bloot R3,1 miljoen aan die beskuldigdes oorhandig.”

Adv. Nevas Heeralall, staatsaanklaer, het tydens die verhoor die getuienis van verskeie getuies gelei, insluitend die klaer wat hom tot die hof gewend het om die artikel 300-bevel uit te reik. “Verder het die klaer aan die hof gesê dat die bedrog wat die mans gepleeg het, ’n ernstige impak op sy finansies gehad het en dit tot die ineenstorting van die onderneming gelei het.”

Rajbansi se maatskappy, Brainwave Projects, is ook met R500 000 beboet en dié boete is vir vyf jaar met voorwaardes opgeskort. Die hof het ook gelas dat elkeen van die beskuldigdes die slagoffer met ’n bedrag van R1 miljoen vergoed.

Met die vonnisoplegging het die hof van die minimum vonnis van 15 jaar gevangenisstraf afgewyk omdat hulle eerste oortreders was en hulle aan swak gesondheid ly. Die hof het ook hul ouderdomme in ag geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.