Sakemanne verwelkom ANC-besluit oor Zuma

Jacob Zuma (Foto: ANA)

Die sakeliggaam Business Leadership South Africa (BLSA) het Dinsdag gesê hulle verwelkom die besluit deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) om pres. Jacob Zuma te herroep nadat hy geweier het om vrywillig te bedank.

“Dit wys dat mnr. Zuma en sy ondersteuners gedryf word deur selfbelang en gierigheid, en wys dat hy onbevoeg is om dié belangrike amp te beklee,” het Bonang Mohale, uitvoerende hoof van BLSA, gesê.

Volgens die organisasie het die versuim om te reageer op Zuma se bewind onsekerheid geskep vir Suid-Afrika se ekonomie, aangesien belangrike kalendergeleenthede, insluitend die staatsrede, uitgestel moes word en dit is ʼn bedreiging vir die nasionale begrotingsrede.

“Dis nou belangrik om hierdie twee week lange chaos te beëindig. Ons maan die ANC se nuwe leierskap om vinnig, maar grondwetlik, op te tree sodat die werk, om ons toekoms te herstel, so vinnig as moontlik kan begin.”

Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid (SAKKN) het ook die NUK se besluit verwelkom.

“Die saak het baie angs veroorsaak en onsekerheid geskep wat betref die regering en beleid in die kort- en mediumtermyn. Ons maan die regerende party om vinnig op te tree om die prosedure af te handel, insluitend om die parlementêre proses af te handel om seker te maak die regering se program kan sonder vertraging hervat,” het Alan Mukoki, uitvoerende hoof van die SAKKN, gesê.

Mukoki het gesê verdere onsekerheid oor die program sal nog meer onsekerheid veroorsaak vir die rigting wat die land inslaan.

“Die land staar groot uitdagings in die gesig wat betref ʼn stadig groeiende ekonomie, werkloosheid, armoede en ongelykheid. Dis daarom belangrik dat die nuwe hupstoot in beleggersvertroue aangemoedig moet word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

linda ·

ek sien uit na die uitgawe ZUMA’S LONG WALK TO PRISON…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.