Sakeraad wil namens VBS Bank ingryp

Lesetja Kganyago, goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die Black Business Council (BBC) het Maandag gesê hy het met kommer kennis geneem van die gebeure wat daartoe gelei het dat die beleërde VBS Mutual Bank (VBS) deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank onder kuratorskap geplaas is.

Volgens die BBC is hy tans besig om met al die relevante rolspelers in gesprek te tree om ʼn vriendskaplike oplossing te vind.

Lesetja Kganyago, goewerneur van die Reserwebank, het Sondagmiddag aangekondig dat VBS met onmiddellike effek onder kuratorskap geplaas is.

Kganyago het gesê VBS het oor die afgelope 18 maande toenemende likiditeitsuitdagings ervaar wat spruit uit die versuim van die raad van direkteure en uitvoerende bestuur om die bank se vinnige groei en sy befondsing en likiditeitsposisie te bestuur.

Dit het daartoe gelei dat VBS onder ʼn intense regulatoriese soeklig geplaas is.

Kganki Matabane, uitvoerende hoof van die BBC, het gesê die sakeraad is besorg oor die besonderhede van die situasie wat gelei het tot die betreurenswaardige kuratorskap van VBS.

“Die BBC is diep besorg omdat die Reserwebank en die nasionale tesourie nie die BBC in sy vertroue geneem het oor die kwessie wat die swart bank affekteer nie,” het Matabane gesê. “Die sakeraad is tans in gesprek met al die geaffekteerde partye: die nasionale tesourie, VBS en die Reserwebank om ʼn moontlike vriendskaplike oplossing vir VBS te vind.”

Kganyago het gesê dit is hoogs riskant vir die bank om groot munisipale deposito’s wat eintlik korttermyn is oor die langtermyn uit te leen. Die goewerneur het bewerings dat die bank “gestraf” word omdat dit onder swart eienaarskap is ontken en gesê alle banke word op dieselfde wyse gemonitor.

Artikel 7 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) stel dat ʼn munisipaliteit nie ʼn bankrekening by ʼn instansie mag oopmaak wat nie geregistreer is soos in die Wet op Banke uitgestippel word nie en onderlinge banke, soos VBS, is nie in terme van dié wetgewing geregistreer nie.

VBS Mutual Bank se naam het veral in 2016 bekend geword toe die instansie R7,8 miljoen aan destydse pres. Jacob Zuma geleen het om die geld terug te betaal wat die staat bestee het op nie-veiligheidsopgraderings by sy private woning in Nkandla in KwaZulu-Natal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Gestremde ·

Wens die blankes kan ook so saam staan in tye van nood. Moet ook maar begin met ‘n White, Indian and Coloured Business Council (WICBC) wat ons belange dra as die minderheid.

Johan ·

Mense – die feite is dat:
1. Die VBS ‘n Onderlinge Bank is wat NIE ingevolge die Wet op Banke geregistreer is nie.
2. Wat NIE depositos van Munisipaliteite mag aanvaar nie (Wie kommissie vir die werwing van beleggings van die publiek se geld in “bruin koevertjies” gekry het of betaal het kan mens net raai)
3. Toe die Munisipaliteite hulle belegging opvra het VBS nie genoeg geld om uit te betaal nie
4. Die Reserwebank tree in in plaas VBS onder kuratorskap soos dit met enige onbevoegde bank sal gebeur.
Vir die BBC om hiervan ‘n rasse kwessie te wil maak en/of te eis vir spesiale behandeling omdat dit ‘n Swart bank is spreek darem van ‘n inherente minderwaardigheid want dit sê in soveel woorde: “Hoe durf jy ‘n Swart bank meet aan beskaafde norme en standaarde”

MJL ·

Wat is ‘n “swart bank”? Ek dog mens kry net “banke”.

Adam ·

VBS bank het onstaan uit die ou Venda Bou Genootskap en die aandeelhouding van die bank was net meer as 97% in swart beleggers se hande, vandaar die benaming “swart bank”.

jaco ·

Mark my words :hierdie plasing van die VBS Bank onder kuratorskap is net die begin; net ‘n oefenlopie om te kyk of dit inderdaad gedoen kan word en of dit kan werk. Uiteindelik gaan dit met alle vanieljegeursel gedoen word. Dit beteken die afvat van grond sonder vergoeding gaan dan baie maklik wees, want dan gaan die banke wat hulle lenings wil terugbetaal hê, se monde behoorlik onder kuratorskap gesnoer wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.