Sakeregtewaghond nou ʼn sakegemeenskap

sakeliga-piet-le-roux

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, wat voorheen as AfriSake bekendgestaan het. Foto: Verskaf.

Die sake-organisasie AfriSake het Dinsdag aangekondig dat dit sy naam na Sakeliga verander. Die besluit vorm deel van ʼn volgende fase vir die organisasie, waarin dit sy strategie uitbrei: van sakeregtewaghond na sakegemeenskap.

In dié nuwe fase sal Sakeliga onder meer gekenmerk word aan ʼn netwerk van plaaslike sakekamers en ander affiliasies, sowel as inisiatiewe vir selfregulering en om sy lede so bestand moontlik teen skadelike staatsinmenging te maak.

“Van ʼn klein begin met senior sakelui in 2011, het AfriSake gegroei tot die primêre sakeregtewaghond in Suid-Afrika. Met 12 500 lede is dit vandag die grootste Afrikaanse sake-organisasie ooit. Terselfdertyd het die omvang van die probleme in Suid-Afrika só toegeneem dat die staat skynbaar óf onwillig óf eenvoudig onbekwaam is om sakeregte, vrye markte en ʼn konstitusionele orde in stand te hou. Danksy die saadkapitaal van ons ondersteuners kan ons ons strategie uitbrei: AfriSake, die sakeregtewaghond, word Sakeliga, ʼn selfstandige sakegemeenskap.

“Sakeliga bevorder voorspoed, vrye markte en ʼn konstitusionele orde in die belang van sy lede en in die gemeenskaplike belang waar ook al sy lede sake doen. Waar ons dit, as sakeregtewaghond, in die verlede veral gedoen het deur voorspraak te lewer en te beding vir ʼn beter sake-omgewing, mobiliseer ons nou ons lede se kapitaal vir bykomende oogmerke,” het Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, gesê.

Sakeliga se strategie vir ʼn selfstandige sakegemeenskap is drieledig:

  • Antisipeer politieke risiko’s en staan lede by om so staatsbestand moontlik te wees, sodat sakelui waarde kan bly toevoeg ongeag staatsinmenging;
  • Beding met die regering vir ʼn gunstige sake-omgewing, vrye markte en ʼn konstitusionele orde; en
  • Skep ʼn selfstandige sake-omgewing, waarbinne ʼn netwerk van sakelui met behulp van selfregulering en privaat infrastruktuur kan bly sake doen en voorspoed skep ongeag die sake-omgewing wat die staat skep.
sakeliga-nuwe-logo

AfriSake het ‘n nuwe baadjie vir ‘n nuwe fase aangetrek en sy handelsmerk opgedateer. Foto: Verskaf.

Le Roux het gesê die naam, Sakeliga, is afgelei uit die naam van die grootste sake-organisasie wat die wêreld nóg geken het, die Hanseliga: “Die Hanseliga was ʼn sakegemeenskap wat dieselfde drie oogmerke as ons gehad het en vir etlike eeue ʼn sleutelrol in die ekonomiese opbloei van Europa gespeel het. Dit het voorspoed en skoonheid geskep – nie net vir sy lede nie, maar vir alle gemeenskappe waar ook al sy lede sake gedoen het. Dit het nie eenkant gestaan nie, maar was wél selfstandig en kon daarom waarde toevoeg ongeag die eksterne politieke omgewing. Gaan besoek vandag die stede en streke waar die Hanseliga was en jy sien steeds die blywende invloed daarvan: van kerke tot universiteite, van paaie tot hawens, van kuns tot handel. Dit dien vir ons tot inspirasie.”

Hy het ook ʼn besondere woord van dank teenoor AfriForum uitgespreek: “Nadat AfriSake in 2011 gestig is, het ons in 2013 met AfriForum ʼn vyfjaar-ooreenkoms gesluit ingevolge waarvan AfriForum, as deel van die Solidariteit Beweging, AfriSake met kundigheid en bedryfsondersteuning in die oprigting van ʼn ondersteunersgefinansierde organisasie sonder winsoogmerk gehelp het. Die probleme in Suid-Afrika is groot en kan slegs te bowe gekom word as burgerlike organisasies mekaar ondersteun en samewerking opsoek – só in die verlede en só ook in die toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theo ·

Wonderlik. Help asseblief met totale selfbeskikking ook, gan gaan ons sake groei!

Eish ·

Die heel laaste sin van die berig dra myns insiens die meeste gewig.
” Die probleme in Suid Afrika is groot en kan slegs te bowe gekom word as burgerlike organisasies mekaar ondersteun en samewerking opsoek – so in die verlede en so ook in die toekoms.”
Ons het die leiers, gesetel in verskeie sfere, burgerlike organisasies, Landbou organisasies, die instituut vir rasseverhoudings, die FAK ensovoorts.
Elk in spesialis op sy gebied met die nodige kundigheid. Waarom kom die spektrum van organisasies nie byeen en stig n oorkoepelende bestuur wat almal streef na n gemeenskaplike doel wat elke organisasie toelaat om sy spesialisveld met die huidige outonomie en kundigheid te bestuur.
Tans is Afriforum op elke plaasaanval en bedien die slagoffers met traumaberading, maak die perseel skoon en hou statistiek by.
Die funksie is myns insiens dié van die onderskeie landbou organisasies.
Almal hol rond soos hondsdol hase op mekaar se terrein en dit is uiters onproduktief. Die leiersfigure van die instansies sal moet kyk na n gestroomlynde, gesamentlike plan waar niemand sy individualiteit verloor nie.
Genade mense, daar is 4.52m wittes oor in die helhool wat emigreer teen n gemiddeld van 21000 per jaar.
Ons het n totaal negatiewe gemiddelde groeikoers die afgelope kwarteeu. Staan verdomp vir n slag saam en doen dinge volgens n gesamentlike plan asseblieftog! Klim af van jul troontjies en dien ons mense met passie en nederigheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.