Sakevrou gedeeltelik terugbetaal ná bedrog

geld 4 kontant rand

(Argieffoto)

ʼn Sakevrou wat uit derduisende rande bedrieg is met die aankoop van grondverskuiwingstoerusting, het ʼn groot gedeelte van dié geld teruggekry. Dít nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se batebeslagleggingseenheid (AFU) beslag gelê het op ʼn groot bedrag geld in ʼn bedrieglike bankrekening waarin sy dit aanvanklik oorbetaal het.

Tanya Koegelenberg het dié week net meer as R100 000 teruggekry van die R147 000 wat sy verlede jaar per ongeluk in ʼn bedrieglike rekening inbetaal het. Dié geld kon ook nie op ʼn beter tyd gekom het nie, aangesien sy en haar man tans nie ʼn inkomste kan verdien nie weens die afsonderingsregulasies wat sedert Maart geld.

Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê Koegelenberg het in Oktober ʼn maatskappy genader vir ʼn lening om grondverskuiwingstoerusting vir haar en haar man se onderneming aan te koop.

Ngcakani sê kuberkrakers het die amptelike e-poskommunikasie tussen onderskeidelik Koegelenberg, die maatskappy by wie sy geld sou leen en die maatskappy wat die toerusting sou verskaf het onwettig onderskep.

Gevolglik is die verkeerde bankbesonderhede aan Koegelenberg verskaf waarin sy die maatskappy wat die toerusting sou verskaf, moes vergoed. Sy het toe R147 500 in die verkeerde bankrekening betaal. Ngcakani sê Koegelenberg het eers haar fout agtergekom toe die maatskappy aan wie sy eintlik die geld moes oorbetaal, hul betaling versoek het.

Die batebeslagleggingseenheid (AFU) van die NVG in Oos-Londen, wat die bepalings van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca) toepas, het die saak aan die finansiële intelligensiesentrum (FIC) oorhandig. Die FIC het die rekening waarin Koegelenberg die geld verkeerdelik inbetaal het, tydelik gevries. Dié bankrekening het toe R100 056,84 bevat.

Ngcakani sê die AFU het op 26 November verlede jaar ʼn bewaringsbevel van Oos-Londen se rondgaande hooggeregshof bekom, wat die oorblywende bedrag in dié bankrekening effektief gevries het. Dit is gedoen op die grondslag dat die geld wat hierin bewaar word op ʼn bedrieglike wyse bekom is.

Die AFU het aansoek gedoen dat die oorblywende bedrag geld (R100 056,84) in die rekening as verbeurd verklaar word. Dit is op die hofrol vir 31 Maart vanjaar geplaas, maar moes uitgestel word weens die instelling van die landwye afsondering.

Ngcakani sê Koegelenberg en haar man het intussen dringend die geld wat van hulle gesteel is, nodig gekry nadat hul onderneming weens die afsonderingstydperk tot stilstand gebring is en hulle geen inkomste kon verdien nie. Die AFU het die registrateur genader en versoek dat die saak weer op die hofrol geplaas word. Die saak het op 12 Mei voorgekom.

Die AFU kon daarin slaag om die geld as verbeurd te laat verklaar en waarnemende regter Amelia da Silva het opdrag gegee dat die geld aan Koegelenberg oorbetaal word. Dié betaling het Maandag plaasgevind.

Nog niemand is in verband met dié bedrogvoorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Misky ·

Ek is bly vir die egpaar en hulle verhaal het soortvan n gelukkige einde. Dis min dat mens deesdae so iets hoor en dat die geld weer die eienaar bereik

capie ·

Dit is moeilik om te glo dat met al die besonderhede wat mens moet verskaf om ‘n bankrekening oop te maak, daar niks kan van kom nie. Dalk weer ‘n politieke verbintenis?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.