‘Sakke vol geld’ vir Mkhize se seun

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en sy seun Dedani. (Foto: Twitter)

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, se seun, Dedani, het glo letterlik plastieksakke vol geld, of geld in bokse, van een van die beskuldigdes in die sogenaamde Digital Vibes-ondersoek ontvang.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het sy saak teen onder andere Digital Vibes se beweerde baasbreine Tahera Mather en Naadhira Mitha, asook Mkhize, dié se seun Dedani, dr. Anban Pillay, ʼn adjunk- direkteur-generaal by die departement van gesondheid, Radha Hariram, glo die eienaar van Digital Vibes, en verskeie ander in ʼn verklaring van meer as 80 bladsye aan die spesiale tribunaal uitgestippel.

Hariram is oënskynlik die eienaar van Digtial Vibes, maar dit was glo Mather en Mitha – wat albei noue bande met die minister het – wat eintlik die maatskappytoutjies getrek het. Die SOE voer aan Harira was ʼn blote front vir Digital Vibes om die betrokkenheid van Mather en Mitha te verdoesel.

In die aansoek vra die SOE dat die kontrak wat die nasionale departement van gesondheid aan Digital Vibes vir kommunikasiewerk toegeken het, ongeldig verklaar en ter syde gestel word. Dieselfde word gevra vir betalings wat gedoen is.

Die SOE vra die spesiale tribunaal ook vir ʼn bevel om die betrokkenes te dwing om die geld wat hulle ontvang het terug te betaal.

Die minister is tans op spesiale verlof terwyl die ondersoek na die omstrede R150 miljoen-kontrak voortduur.

Amptenare manipuleer glo tenderproses

Die SOE voer onder meer aan dat daar geen verkryging- of kontraktuele grondslag was vir die meeste van die betalings aan Digital Vibes nie en dat die maatskappy betaal is weens bedrieglike wanvoorstellings wat in sy boddokumente gemaak is.

Die verklaring lui voorts dat amptenare van die departement van gesondheid die verkrygingsproses gemanipuleer het sodat Digital Vibes die kontrak kry. Die departement het op sy beurt, lui die verklaring, weinig waarde gekry vir die miljoene rande wat hy aan die kontrak bestee het.

Mather is ʼn sentrale figuur by Digital Vibes. Luidens die verklaring het die departement miljoene rande betaal aan maatskappye wat deur haar en Mitha beheer word, asook aan familielede van Mather.

“Nagenoeg R90 miljoen van die algehele R150 miljoen wat Digital Vibes ontvang het, blyk verdagte uitgawes te wees,” lui die verklaring.

Die SOE sê hy het Digital Vibes ook gevra vir fakture en ander aanvullende dokumente, maar wag steeds daarvoor.

Die SOE sê in sy verklaring die kontrak is nie net onregmatig aan Digital Vibes toegeken nie, maar Pillay en ander amptenare by die departement het dit daarna glo onregmatig verleng en saam met Mather gewerk om die kommunikasiediens oor Covid-19 by die departement ook in te sluit.

Luidens ʼn verklaring van Harira, ʼn vulstasiebestuurder op Stanger met geen ervaring of kwalifikasie in die kommunikasieomgewing nie, het Mather haar aangeraai om ʼn maatskappy genaamd Digital Vibes te registreer. Sy voer aan Mather het gesê sy het ʼn span mense wat die werk kon hanteer en dat sy later ingelig is dat Digital Vibes die kontrak by die departement losgeslaan het.

Zweli en sy seun skep

Dr. Zweli Mkhize, sy vrou May, en hul seun Dedani. (Argieffoto: @MYANC/Twitter)

Die SOE voer voorts aan dat (Zweli) Mkhize regstreeks en onregstreeks gebaat het by betalings van Digital Vibes. Dit sluit in werk van R6 720 wat by Mkhize se eiendom in Bryanston gedoen is.

Benewens die tweedehandse voertuig wat Digital Vibes glo vir Dedani Mkhize gekoop het – volgens die minister het Dedani gesê dit was ʼn geskenk van Mather – het hy glo ook sakke vol kontant ontvang.

Ene Yusuf Ganie sou die boks met geld óf by Hariram se huis aflewer óf sy sou dit glo by sy huis op Stanger gaan oplaai, waarna Mather vir Hariram ingelig het dat Dedani ʼn pakkie by haar sou kom oplaai.

“Die insameling het plaasgevind by die Dawnside-vulstasie waar me. Hariram as bestuurder gewerk het. Dit het omtrent ses keer gebeur,” lui die eenheid se verklaring.

Dedani het Hariram glo self etlike kere voor só ʼn oplaaiery gekontak. Hariram het luidens die verklaring geweet die pakkies bevat geld, asook dat Dedani die minister se seun is, lui die verklaring.

Ganie het in ʼn verklaring gesê Mather het hom boonop gevra om geld na ʼn ander onderneming se rekening oor te betaal, waarna dié onderneming die kontant óf in bokse óf in plastieksakke sou aflewer.

Neem die minister in hegtenis

Philip van Staden, die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, sê pres. Cyril Ramaphosa moet onder groter druk geplaas word om die volledige verslag van die spesiale ondersoekeenheid oor Digital Vibes bekend te maak nadat minister Mkhize se beweerde betrokkenheid nou opnuut uitgelig is.

“Dit is in die SOE se verklarings duidelik dat Mkhize wel betrokke was by korrupte aangeleenthede en die departement onder druk geplaas het om wel die fondse aan Digital Vibes uit te betaal,” sê Van Staden.

Die VF Plus eis steeds dat Mkhize voor die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid verskyn om die verloop van sake te verduidelik.

“Indien hy steeds weier, moet Zweli Mkhize aangekla en vervolg word. Dan moet die reg sy gang gaan en moet hy die prys daarvoor betaal.

“Alle aanduidings is nou daar dat Mkhize iets het om weg te steek; dat hy wel die departement onder druk geplaas het om die fondse aan Digital Vibes onwettig uit te betaal en dat die tenderproses gemanipuleer is om die transaksie te laat plaasvind.

“Inhegtenisneming en ʼn verhoor moet nou Mkhize se voorland wees,” sê Van Staden.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

22 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elize

Skelm, skelmer en dan Mkhize en sleepsels

SjN

Trotse Anc leiers, Viva.

Kokerboom

Ek dink daar moet DRINGEND MEER tronke gebou word!!! As Valke werklik op parlement moet toeslaan, gaan dit byna leeg wees!!!

Juffrou

Dié gestelery verdiep by die dag!
Slim vang sy baas. Masker en all!

Heinrich

ANC lede en hulle familie wat korrup is…wat is nou eintlik die nuus hier? #ANCMustFall.