Sakke vol perlemoen op ongelukstoneel gevind

Die perlemoen is op ‘n ongelukstoneel in die Oos-Kaap aangetref. (Foto: Verskaf)

Die polisie het die afgelope naweek op sakke vol perlemoen afgekom nadat die bakkie waarin dit glo vervoer is, in ʼn ongeluk betrokke was.

Die vermeende smokkelaar is boonop later vasgetrek nadat hy by die ongelukstoneel weg is en by ʼn vulstasie gaan skuil het.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê beamptes in die Oos-Kaap is Saterdag om 22:00 ingelig dat ʼn wit Toyota-bakkie op die R350 dalk perlemoen vervoer.

Lede van die Grahamstadse honde-eenheid en die misdaadvoorkomingseenheid het die pad gefynkam en die voertuig sowat 30 km buite Makhanda aangetref. Dit was in ʼn ongeluk betrokke en het verlate langs die pad gestaan.

Sers. Anthony Benade, ʼn beampte wat nie in daardie stadium aan diens was nie, het sy kollegas met die soektog na die bestuurder gehelp deur na ʼn plaaslike hospitaal te ry om navraag oor ʼn beseerde motoris te doen.

Niemand is egter na die hospitaal gebring ná ʼn ongeluk nie, maar Benade het deur nooddienswerkers vasgestel dat die persoon wat in die ongeluk betrokke was by ʼn plaaslike vulstasie afgelaai is. Hy het nie enige behandeling benodig nie.

Volgens Naidu is die beamptes na die betrokke vulstasie waar hulle die verdagte in ʼn kamer aangetref het. Hulle het hom na die ongelukstoneel teruggeneem waar beamptes die voertuig deursoek het.

(Foto: Verskaf)

“Niks is aanvanklik gevind nie, maar altesame 17 sakke vol perlemoen is later onder bokse naby die ongelukstoneel aangetref,” sê sy.

“Die geraamde straatwaarde van die gestroopte perlemoen is nagenoeg R1 miljoen.”

Die besending perlemoen was na bewering vir Bloemfontein bestem voordat die bestuurder in die ongeluk betrokke was.

Die 46-jarige verdagte is op die toneel in hegtenis geneem en aanklagte van die onwettige besit van perlemoen staar hom in die gesig. Hy sal vandeesweek in die hof verskyn.

Genl.maj. Zolani Xawuka, polisiekommissaris van die Sarah Baartman-distrik, het die betrokke beamptes bedank vir hul pogings om die verdagte op te spoor en die onwettige besending te beveilig.

“Hiermee word misdadigers wat ons paaie gebruik om onwettig handel te dryf gewaarsku dat ons wakker is en nie sal skroom om op hul goed beslag te lê en hulle in hegtenis te neem nie,” sê Xawuka.

“Ons sal voortgaan om hierdie georganiseerde sindikate, wie se aktiwiteite ook ernstige en gewelddadige misdade tot gevolg het, omver te werp.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Richard ·

Goeie werk dat hulle gevang is. Net hartseer daai perlemoen is klaar dood en verwyder uit die natuur.

Johan ·

Hoekom die bohaai oor perlemoen? Laat ons nou ook maar toe om te proe hoe dit smaak, of is dit net vir party mense.

AH ·

Daar is restaurante waar jy die lekkerny kan proe. Na my mening is dit nie al die bohaai en moeite om dit voor te bereik werd nie. Dit gaan egter oor die uitroei van die perlemoen wat so gewild in die Oosterse lande is.

Ronél ·

Behoorlik GELUK by die ongeluk……….jammer die perlemoen kon nie teruggeplaas word waar dit hoort nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.