SAKP besorg oor Zuma se appèl teen staatskaping

Pres. Jacob Zuma tydens ‘n vorige geleentheid in die Nasionale Vergadering. Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Die SAKP het Saterdag pres. Jacob Zuma se aansoek om verlof tot appèl teen ʼn hooggeregshofuitspraak, wat sy vorige hofaansoek ter syde gestel het dat ʼn hoofregter die kommissie van ondersoek oor staatskaping sal aanstel, veroordeel.

“Alle alliansievennote, insluitend die ANC, en daarom dus ʼn groot getal besorgde Suid-Afrikaners, verwelkom die uitspraak en doen ‘n beroep op pres. Zuma om daaraan gehoor te gee,” het die SAKP in ʼn verklaring gesê. “Die appèlaansoek sal ʼn vermorsing wees van belastingbetalers se geld en is ʼn uitsteltaktiek, en dit moet daarom verwerp word.”

Die SAKP het gesê die opdrag om ʼn geregtelike kommissie van ondersoek aan te stel, is gebaseer op “fundamentele beginsels”. “Suid-Afrika moet korrupsie in al sy manifestasies met wortel en tak uitroei indien die land ʼn vooruitstrewende samelewing wil word binne ʼn volledige demokrasie sonder die uitbuiting van openbare hulpbronne en nasionale welvaart.”

Die party het gesê Zuma kan nie self as regter en jurie optree in ʼn saak waar hy geïmpliseer word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

zoom zoom ·

Zuma wys vir almal ‘n toffie. Hy slaan die kitaar en almal dans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.