SAKP-leiers moet tydlyn verskaf vir breuk met ANC

Dr. Blade Nzimande, algemene sekretaris van die SAKP (Foto: Zanele Zulu/African News Agency/ANA)

Die Wes-Kaapse provinsiale leierskap van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het hom ten gunste van ʼn verbreking van die SAKP se verkiesingsalliansie met die ANC uitgespreek en wil hê partyleiers moet aandui wanneer dit gaan gebeur.

Die voorstel is dat die SAKP op eie stoom en afsonderlik aan verkiesings deelneem, het Benson Nqweshu, provinsiale sekretaris van die Wes-Kaapse SAKP, bevestig.

Dit sal ʼn herbevestiging wees van ʼn vroeëre besluit om van die ANC-geleide regerende alliansie weg te breek. Die SAKP in die Wes-Kaap wil egter hê daar moet op ʼn duidelike tydlyn ooreengekom word waarvolgens hierdie wegbreking sal plaasvind. Die voorstel sal dien voor die SAKP se nasionale kongres wat in Desember vanjaar plaasvind.

Waar so ʼn besluit om afsonderlik van en teen die ANC deel te neem aan verkiesings reeds geneem is, het die SAKP-leierskap, en by name die algemene sekretaris, dr. Blade Nzimande, die besluit so getooi dat daar wel een of ander tyd ʼn breuk met die ANC sal wees, maar geen besluit is geneem oor wanneer dit sal gebeur nie.

Dit het weerstand teen Nzimande laat ontstaan binne die SAKP, en luidens ʼn berig in die Sondagkoerant City Press is daar nou ook druk dat Nzimande en ander SAKP-leiers wat die uitvoer van die besluit vertraag, vervang moet word.

Daar is tans meningsverskil oor die moontlikheid om Nzimande tydens die kongres as leier uit te stem, want dit is nie tans ʼn kongres waar leiers veronderstel is om verkies te word nie. ʼn Mosie van wantroue word egter oorweeg.

In die verlede het die SAKP-leierskap aangevoer die tyd is nie geleë om met die ANC te breek nie omdat die SAKP nie goed voorbereid is vir ʼn verkiesing nie en die SAKP meer invloed op regeringsbeleid kan uitoefen van binne die ANC en as ANC-LP’s.

Teenstanders van Nzimande en ander SAKP-leiers in die kabinet soos Thulas Nxesi, minister van arbeid en werkskepping, voer aan die geldelike voordeel wat hulle uit hul kabinetslidmaatskap put, sal beteken dat die SAKP-leiers nooit met die ANC sal breek nie. Hierdie teenstanders meen ook dat die ANC te korrup is en te min doen vir die proletariaat om die SAKP se teenwoordigheid in die regering te regverdig.

ʼn Groot geveg lê dus in Desember voor, met moontlike impak op die ANC, die SAKP en die regerende alliansie.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dereck Le Roux

Die SAKP sal nie sonder die ANC oor die weg kan kom nie, hulle het te gewoond aand die soustrein met al sy byvoordele en om nou van die rug af te klim van die wat hulle abba terwyl hulle nog nie kan loop nie sal vir hulle politieke selfmoord wees en daar is hopeloos te veel kamerade wat al die politieke voordele gesmaak het wat hulle nie sommer so net sal versaak nie.

Anoniem

Verban asb die SAKP vlag tot haatspraak, ek voel gegrief wanneer ek dit sien.

KrokodilBotha

SAKP moet liewers Sjina of Rusland toe trek met hul volgelinge.

Jerry

Die SAKP is nie teen korrupsie nie, was nog nooit nie. Die SAKP wil n groter deel van die staatskoek he en om deel te wees van die ANC in verkiesings, het dit nie laat realiseer nie, want die ANC het nie hulle beloftes teenoor die SAKP nagekom nie. Die SAKP hoop dat as hulle dreig om as n party te registreer vir die verkiesing, die ANC sal toegee aan hulle eise en indien nie, dat die SAKP dan by die stembus n groter deel van die koek kan bekom. Dit gaan dus vir die SAKP, net soos vir die… Lees meer »

aj

GOOD RIDDANCE! Watter SA Kommunistiese party? Hoe kan die SAKP aanspraak maak op status as politieke PARTY sonder dat hulle aan verkiesings deelneem? Is die SAKP ooit geregistreer by die IEC as politieke party? Hulle depositos betaal voor elke verkiesing … en die geld verloor omdat hulle geen stemme gekry het in die verkiesings nie? Namens wie praat die SAKP as hulle nog geen stemme ontvang het vanaf SA burgers nie? ‘Fake’ party, ‘fake’ leiersposisies, ‘fake’ beleid? Die SAKP was die eerste staatskapers wat sedert 1994 hoë posisies (en salarisse) ontvang SONDER enige bewese steun van kiesers. Parasiete wat teer… Lees meer »