SAKP moet ANC-vennoot bly, sê Blade

Blade Nzimande, algemene sekretaris van die SAKP (Foto: Zanele Zulu/African News Agency/ANA)

Met die SAKP se spesiale kongres in Kempton Park sopas verby die halfpadmerk, het daar nog dadels gekom van dié party se voorgenome grondvlak-opstand teen Blade Nzimande, die SAKP se sekretaris-generaal, en teen die ANC.

Nzimande het dit trouens duidelik gemaak dat hy geen toekoms vir die SAKP sien buite ʼn vennootskap met die ANC nie, en het dit as die SAKP se doel en doelwit gestel om die ANC te herstel en sover moontlik te versterk.

Hy is al 21 jaar lank die algemene sekretaris (in praktyk die leier) van die SAKP en daar was voor die kongres groot bewerings dat hy uit die kussings gelig kan word of dat hy gaan moet kies tussen sy leiersposisie in die SAKP en sy posisie in ʼn ANC-kabinet. Veral die Wes-Kaapse SAKP het die afgelope tyd te velde getrek teen Nzimande.

Hoewel die SAKP-kongres nog tot Vrydag duur en die omstandighede op ʼn kongres maklik en vinnig kan verander, lyk dit glad nie in hierdie stadium asof daar veel oemf is in die pogings teen Nzimande, of die pogings om die SAKP buite die regerende alliansie aan verkiesings te laat deelneem nie.

Nzimande het trouens op die kongres aangevoer dat die SAKP wel afsonderlik aan verkiesings kan deelneem, maar dan altyd met die doelwit om die ANC te steun en met die ANC in koalisie te wees.

Dit sou strook met die SAKP se gedrag die enigste keer sedert 1994 toe die party wel onder sy eie vaandel aan ʼn verkiesing deelgeneem het. Dit was in 2017 in die Metsimaholo-stadsraad in Sasolburg, waar die SAKP homself as opposisie-opsie teen die ANC opgestel het. Die party het tóé die posisie van magsmakelaar (king maker) in die verdeelde stadsraad verwerf en onmiddellik saam met die ANC in die politieke bed gespring.

Met twee en ʼn half dae van die SAKP-kongres oor lyk dit dus asof die status quo gehandhaaf kan word en diegene wat verandering nastreef op hul baadjie gaan kry, tensy die situasie drasties en skielik verander.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johann cb

Julle is nog altyd vennote!

André André

Geeneen van die ANC se vennote sal ooit wegbreek nie, nie solank hulle voordeel kan trek nie, ongeag die verskille.

John

Hoe kan die SAKP as ‘n party bestaan en geldelik daarby baat as dit die heeltyd deel van die ANC is. En dis groot geld vir bloot ‘n rooi naam. Dit behoort gestop te word. Hulle werk soos ‘n magtige unie wat deur belastingbetalers onderhou word.

aj

Die SAKP was staatskapers lank voor die Guptas op die toneel verskyn het.

Nzimande ontvang prominensie (soustrein) sonder ‘n kieser mandaat.

Dit verwring die demokratiese beginsel dat leiers VERKIES moet word deur die kiesers.

Die SAKP sit belangrike stoele vol ten koste van die regmatig verkose ANC leiers.

M.a.w. die SAKP parasiteer in der waarheid op die ANC!

Stiks

Ja nee , die vleispotte van Egipte skep nog al te lekker!