SAKP sê Zondo moet omstrede Cedar Park-transaksie bekyk

Die Gautrein se Sandton-stasie. (Foto: Twitter)

Nóg bewerings van ongerymdhede gaan waarskynlik op adjunkhoofregter Raymond Zondo, voorsitter van die kommissie wat staatskaping ondersoek, se tafel beland.

Die SAKP gaan Maandag meer besonderhede bekend maak oor sy memorandum waarin hy eis dat dié kommissie ʼn ondersoek doen na die kooptransaksie tussen die Johannesburgse metroraad en Cedar Park. Luidens berigte het die metroraad ʼn waardevolle stuk eiendom in Sandton bykans verniet weggegee aan dié maatskappy wat bande met die omstrede Gupta-familie het.

Die transaksie is aangegaan toe die stad nog onder ANC-beheer was.

Die kooptransaksie het aan die lig gekom nadat die watertoevoer na die Gautrein-stasie in Sandton vroeër weens agterstallige munisipale skuld afgesny is. Gautrein besit gedeeltes van die grond, maar die res behoort aan Cedar Park, wat weer deel is van die Regiments-groep. Die groep word al ʼn geruime tyd by bewerings van staatskaping betrek, weens kontrakte wat hy glo, danksy sy Gupta-bande, by staatsinstellings gekry het.

Rapport het vroeër berig Cedar Park het nie ʼn sent van die koopsom van R280 miljoen in 2009, toe die grond gekoop is, aan die Johannesburg-metro betaal nie. Hy het dit boonop gedoen met ʼn verband van die metro self en hoef nie ʼn sent te betaal voordat hy ʼn wins uit die ontwikkeling maak nie. Die koerant het voorts berig Cedar Park het ook nog nooit ʼn sent eiendomsbelasting betaal nie en voer aan hy is daarvan kwytgesteld ingevolge die kontrak met die stad.

Omdat Cedar Park nie sy R8 miljoen-skuld aan die metro vereffen het nie, is Gautrein se water ook afgesny, al hét hy sy gedeelte betaal. Nadat ʼn ooreenkoms tussen die Bombela Concession Company, wat Gautrein bedryf, en die stad aangegaan is, is die watertoevoer herstel.

Herman Mashaba, Johannesburg se burgemeester, het ná die onthullings aangekondig dat ʼn volledige ondersoek na die kooptransaksie gedoen gaan word.

Die SAKP het hom gekap daaroor en sê pleks daarvan om ʼn oplossing te vind wat pendelaars nie negatief raak nie, het Mashaba gekies om die situasie vir politieke gewin uit te buit. “Hy het ook gedreig dat hy die kooptransaksie gaan ondersoek, iets wat hy nie bevoeg is om te doen nie,” het die SAKP in ʼn verklaring gesê.

“Die SAKP glo die [Zondo-] kommissie is die enigste liggaam wat wetlik bemagtig is om die beweerde korrupte kooptransaksie van die grond aan ʼn maatskappy met Gupta-bande te ondersoek. Die ondersoek na Gupta-verwante korrupsie word reeds deur die kommissie se verwysingsraamwerk gedek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dries ·

Vir wat om nog geld te mors ons weet mos nou al daar waar bedrog is sal jy die ANC kry

Sinies ·

Die feit dat die SAKP aandring op aleenlik n Zondo ondersoek, bring Zondo kommisie en sy einddoel onder verdenking.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.