SAKP sê Zuma soek vergelding met kabinetskommeling

Dr. Blade Nzimande is Dinsdag van sy pos as minister van hoër onderwys in pres. Zuma se jongste kabinetskommeling onthef. Foto: Ntswe Mokoena

Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) beskou pres. Jacob Zuma se besluit om dr. Blade Nzimande uit sy pos as minister van hoër onderwys en opleiding te onthef in sy jongste kabinetskommeling as ʼn direkte aanval op die party.

Nzimande, wat voorheen ʼn ondersteuner van Zuma was, is die algemene sekretaris van die SAKP. Die party is een van die alliansievennote van die ANC.

Die SAKP het vroeër vandag tydens ʼn mediakonferensie ná die kabinetskommeling bevestig Nzimande is van sy ontheffing ingelig nadat die skuiwe aan die media oorgedra is.

“Zuma tree heeltemal outoritêr op, hy het die alliansie se protokolle blatant geïgnoreer en die alliansie se verhouding in troebel, onbekende waters gedompel. Ons verwerp hierdie die jongste kabinetskommeling wat die alliansie op die randjie van disintegrasie dryf. Dit is niks minder nie as ʼn berekende verwydering van kameraad Blade en ʼn direkte aanval op die SAKP,” het Solly Mapaila, tweede adjunk sekretaris-generaal van die SAKP, gesê.

Volgens Mapaila is die jongste kabinetskommeling niks anders nie as ʼn vergelding van Zuma se kant vir die oproepe van die SAKP en Cosatu, die ANC se ander alliansievennoot, vir die president om te bedank.

“Dit is ʼn bekende feit dat die kwaadwilligheid van korrupsie, bestuursverval en staatskaping eksponensieel vererger het onder die onbevoegdheid van pres. Zuma en sy vriende, die Gupta-familie.

“As die president dink hy kan die SAKP se mond snoer en ons verhoed om hierdie probleme te ontbloot deur Nzimande uit die kabinet te verwyder, maak hy ʼn reusefout. Dit sal ons party net nog meer toegewyd maak in die stryd teen korrupsie en staatskaping.”

Volgens die SAKP moet ʼn kabinetskommeling gebruik word om die staat te versterk, maar in hierdie geval was die bedoeling net om die faksie wat Zuma ondersteun se hand te versterk. Die SAKP glo ook die kabinetskommeling is ʼn poging van Zuma om te verseker dat sy kandidaat tydens die Desember-leierskonferensie van die ANC as opvolger verkies word.

Mapaila het tydens ʼn mediakonferensie kort ná die bekendmaking van die jongste kabinetskommeling gesê die SAKP sal nie toelaat dat die alliansievennootskap vou nie, maar dat die party hom nie sal laat beheer deur Zuma se patronaatskap nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Genieve ·

Ek wonder of zuma weet wat hy doen..hy bedink seker die skommelings wanr hy slaap. Dis reg SAKP moenie toelaat dat hy julle alliansie vennoot vou nie.

Johann ·

So presies hoe sterk is die SAKP op st eie? Ek bedoel…kommunisme as beginsel self? Maar dan is dit Afrika en selfs n Sneeu Plaas in die Karoo sal sin maak. Almal.dreig en blaas rook maar Zuma funksuoneer bloot op sy eie magsbasis. Onaantasbaar, gewetenloos
En kern korrup. Totsiens SA! Viva Zuptopia

Boet Fasie ·

Ag en daar trap Zuma vir Dr Blade Nzimande in die rug, goeie ondersteuning van die president . Baie manne wat in die laaste dae die skok van hulle lewe kry en sien hulle kan nie vir Zuma vertrou nie.

Hanna ·

Die SAKP raas en blaas ook maar net. Glo my, met die vlg verkiesing staan hulle weer bankvas agter die ANC. Oom Zuma weet dit maar net te goed. Daarom kan hy maak soos hy smaak.

hendrik ·

Jy ken hom daai “Animal Farm”? Nou hier is hy en moenie die moeite doen om die boek te lees nie want alles gebeur voor ons oe.

Oom Klasie ·

Siener het geskryf dat die faksies mekaar aan die keel gaan gryp.Raar maar waar.Hy het presies n 100 jaar gelede geskryf.Laat mens dink…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.