SAKP steun ANC, solank hy by ‘kommunistiese beginsels’ hou

Blade Nzimande tydens die ANC se verjaardagvieringe Saterdag in Kimberley. (Foto: @MYANC/Twitter)

Die SAKP het Saterdag sy steun aan die regerende ANC herbevestig en onder meer gevra dat werkers se pensioene gebruik word om die land se sukkelende vervaardigingsbedryf te finansier sodat werk só geskep kan word.

Blade Nzimande, sekretaris-generaal van die SAKP, het by die ANC se verjaardagviering in Kimberley in die Noord-Kaap gesê die party sal die ANC aanhou steun, solank die party voortgaan om “kommunistiese waardes” te omarm.

Dit sluit in om finansiëledienste-instellings te beveel om in projekte wat deur die staat goedgekeur is, te belê, asook om grond sonder vergoeding te onteien en die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) in werking te stel.

ANC-voorsitter Gwede Mantashe, wat Nzimande op die verhoog bekend gestel het, het gespot dat hy hoop Nzimande “het nie te veel bloed in sy alkohol nie”. Dit was ʼn verwysing na ʼn voorval verlede jaar toe Nzimande, destyds die minister van vervoer, aan die SAUK gesê het ʼn nuwe toets kan “bloed in jou alkohol” opspoor, pleks van alkohol in jou bloed.

“Ons sal voortgaan om ʼn ANC-bondgenoot te wees solank die ANC se primêre doelwit transformasie en die verbetering van die sosio-ekonomiese toestande van die land se armes en werkersklas is,” het Nzimande vroeër vandag gesê.

“Daar is ingrypende verandering in ons ekonomie nodig. Soos Cosatu, soek ons ook onteiening sonder vergoeding. Ons wil hê werkers se pensioene en voorsorgfondse moet gebruik word om die vervaardigingsbedryf van die land te bou om werk te skep. Dit moenie gebruik word vir die ydelheidsprojekte wat die private belange van enkelinge dien nie. Ons eis voorgeskrewe bates,” het Nzimande gesê.

Die SAKP is gekant teen die idee dat mense “siektes as grondslag gebruik om geld te maak” en Nzimande het gevra dat die NGV in werking gestel word.

Nzimande het verwys na verskeie struikelblokke in die ANC se pad. Dit sluit in faksiegevegte, staatskaping en ander vorme van korrupsie, wanbestuur en swak regering.

“Die lamlê van ons staatsinstellings en die plundering daarvan kan nie ongestraf bly nie en diegene daarby betrokke moet voor stok gekry word.”

Nzimande het gesê die organisasie is nie te koop nie en ʼn “goeie kommunis is veilig in die ANC”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

43 Kommentare

jongste oudste gewildste
stem

die hele lot, anc, sakp, eff, werker unies, ens., praat van staatskaping, wan bestuur, swak regering, tot ‘n einde kom, maar almal in die regering praat net en kan niks doen nie, SWAKKELINGE

Elizabeth

Dis reg, gebruik die ANC-werkers se pensioene gerus om enige mislukking te finansier …

Johann cb

En hoe beplan julle om die pensioene weer te vergoed?

Christine De Bruin

Hemelse Vader. Wees ons genadig asb

John

Waarom staan die Kommies nie ‘n slag in verkiesings nie eerder as om agter die ANC weg te kruip, maar daarna alles te wil voorskryf. Of is die ANC eintlik kommunisties en hou demokrasie kamma voor? Hoeveel wyke het hul kandidate al gewen? Cannabis-fabrieke is seker die nywerhede wat befonds moet word… Hoeveel bloed in die dagga-olietjies?