SAKP veroordeel EFF-gedrag

Julius Malema en EFF-LP’s verlaat die staatsrede (13 Februarie 2020)

Die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) het die EFF se ontwrigting van Donderdagaand se staatsrede ten sterkste veroordeel en gesê dit het niks met vryheid van spraak of demokratiese regte te doen nie.

Solly Mapaila, tweede algemene sekretaris (en dus min of meer onderleier) van die SAKP het die Kaapse Persklub Vrydagmiddag toegespreek en gesê dit was ontwrigting en niks anders as die misbruik van die parlement nie.

Oor oudpres. FW de Klerk het Mapaila opgemerk dat dit ‘n jammerte is dat De Klerk nie wil erken dat apartheid ‘n misdaad teen die mensdom was, en dat die staat onder De Klerk se bewind geweld aangestig het soos volgens Mapaila deur die Goldstone-kommissie van ondersoek bewys is nie.

Die SAKP staan bankvas agter die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, wat sy oorlog teen korrupsie en staatskaping betref, en veroordeel dus die EFF se gedrag teenoor Gordhan. “Dit is veral die rasse-ondertoon in die aanvalle op minister Gordhan wat ons pla,” het Mapaila verduidelik, en die gehoor daaraan herinner dat die SAKP die eerste nie-rassige politieke organisasie in Suid-Afrika was.

Volgens Mapaila sal die SAKP iewers in die toekoms “wanneer die tyd reg is” breek met die ANC en verkiesings selfstandig veg, maar tans kry hulle meer reg deur in die regering te wees.

As voorbeelde van idees wat nie regeringsbeleid sou wees as die SAKP hulle nie aangevoor het nie, het hy onder meer nasionale gesondheidsversekering, ‘n staatsbank en ‘n staatsmaatskappy vir farmaseutiese produkte genoem.

Mapaila het gesê privatisering ondermyn staatsbestuurde instellings en die SAKP sal sakeredding van die SAL net steun mits dit tot die hervorming eerder as die ontbinding van SAL meehelp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ronel ·

Almal veroordeel die uiterste swak gedrag en kinderagtige gedrag, maar niemand doen niks daaromtent nie. Is die mense dalk bang?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.