SAL benodig sóveel om skuld te betaal

Argieffoto

Die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge het Dinsdag tydens sy sitting bevestig dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) onder geweldige finansiële druk verkeer en dat daar daadwerklik ingegryp moet word om die lugredery uit sy penarie te red.

Dit volg nadat die vakbond Solidariteit op 8 April tydens ʼn mediakonferensie bekendgemaak het dat hy gaan poog om SAL onder besigheidsredding te laat plaas.

Tydens Dinsdag se sitting is daar vir die SAL se uitvoerende hoof, Vuyani Jarana, gevra wanneer SAL ʼn moontlike reddingsboei sal benodig. Sy antwoord was volgens die vakbond ʼn onomwonde: “Dadelik”.

Jarana het bevestig dat die lugredery ʼn reddingsboei van sowat R5 miljard van die tesourie benodig aangesien hulle nie hul skuld kan betaal nie.

“As ons maar net die bestaande patroon voortsit, gaan ons met net nog meer van dieselfde  probleme opgeskeep sit,” het Connie Mulder, hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut, na afloop van die sitting gesê.

“Dit is verregaande om te veronderstel dat die tesourie ʼn verdere reddingsboei aan ʼn maatskappy, wat so diep in die skuld is, kan toeken terwyl dit duidelik is dat die maatskappy oor ʼn jaar presies op dieselfde plek of selfs nog dieper in die skuld sal wees.”

Volgens Mulder het dit Dinsdag nog duideliker geword dat besigheidsredding die enigste gangbare opsie is wat vir die beleërde lugredery oorbly, maar dat die komitee nog nie hierdie opsie as alternatief daarstel nie. “Solidariteit het reeds uitnodigings aan president Cyril Ramaphosa sowel as die minister van finansies, Nhlanhla Nene, gerig om hom in sy sakereddingsaansoek te steun.”

Mulder het gesê dit is verstommend en teleurstellend dat SAL se bestuur en die regering dit regkry om ten spyte van al die gegewens wat hulle in die rigting van besigheidsredding druk, steeds daarop ingestel te wees om op dieselfde, onvolhoubare pad voort te gaan wat noodwendig net ʼn verkwisting van belastinggeld inhou.

Solidariteit het aangekondig dat hy op 8 Mei die parlement gaan petisioneer om ʼn debat rakende die SAL-kwessie aan te vra.

“Dit is nog R5 miljard van belastingbetalers se geld wat in die plunderput van die SAL gegooi word. Ons kan nie langer so aangaan nie; belastingbetalers is moeg vir verskonings en verliese.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Tokkie ·

Dudu was n onderwyseres voordat sy aangestel is by die SAL – skoenmaker hou jou by jou lees

Johanna Botha ·

Wat n groot gemors ! Vlieg gladdie saa of mango nie uit beginsel !

Boeta ·

As mens in lughawe sit en wag vir vlug en al SAL se vlugte is vertraag of gekanselleer, dan weet jy waarom hulle geldsake so beroerd is.

cc ·

sit die melkkoei uit sy”missery”….of dalk is die nuwe bestuur en raad slegs ‘n voortsetting van die geplunder!!!

Gemaskerder Sopbeen ·

Wag nou, wag nou….moenie net toemaak en afbreek nie. Die SA belastingebetalers het nou al soveel keer “gered” met ‘n xtra geldjie dat ons almal seker darem elkeen 5 keer êrens heen kan vlieg voordat die deure toegemaak word? Ons het allermins tog vooruit betaal vir daardie kaartjies, nie waar nie?

Bokkie ·

Kyk, daai gravy trein sal gery word tot die wiele heeltamal afgeval het – dan sal daar wraggies nog verder op die onderstel gery word.

JJ ·

Dit sal seker “weer” befonds word uit die STAATSDIENS PENSIOEN FONDS

bgj van der westhuizen ·

verkoop dit of verkoop 51% aan privaat dat hulle dit kan bestuur wand die regering kan dit nie bestuur nie kan nie eers die land bestuur behoorlik nie

jakes ·

Wat n lagwekkende storie. Daar werk 3 keer soveel mense by SAL as wat dit nodig is. Boonop was daar n paar dae gelede n berig oor n loods van SAL wat beskonke opgedaag het vir n vlug vanaf Londen na SA. Die kaptein van die vlug het sy kollega self by die lughawepolisie gaan verklae. Wees maar versigtig voor jy SAL kies as jou redery.

Chris ·

Die land het krag en water nodig, maar 99% van die mense in die land het nie die SAL nodig nie! Ek verstaan nie wat die probleem is nie, likwideer die SAL, of gee hom as geskenk vir die Guptas.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.