SAL ‘binnekort’ weer in die lug

(Foto: SAAT)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se lugvaartbedryfsertifikaat is hernieu en vlieëniers en bemanningslede ondergaan opknappingsopleiding.

Volgens die departement van openbare werke, wat LP’s gister op die hoogte gebring het van die stand van sake by verskeie staatsbeheerde ondernemings, sal die lugdiens sy bedrywighede “binnekort” hervat, maar geen datum hiervoor is nog bekend gemaak nie.

Die omsigtigheidsondersoek na die SAL se nuwe vennoot, die Takatso-konsortium, is volgens die departement in ʼn gevorderde stadium en ʼn verkoop-en-koop-konsepooreenkoms is opgestel en word bespreek.

Volgens die departement sal die afhandeling van dié ooreenkoms die staking van die regering se beheer oor die lugdiens aandui. Takatso sal voortaan 51% van die SAL besit.

Mango

Die departement het aan LP’s gesê ʼn sakereddingspraktisyn is reeds vir die sukkelende laekostelugredery Mango, ʼn filiaal van die SAL, aangewys. Die redery is op 28 Julie in vrywillige sakeredding geplaas en Sipho Sono van OPIS Advisory is sedertdien as sakereddingspraktisyn aangestel.

Mango het verlede maand sy bedrywighede onbepaald opgeskort weens ʼn gebrek aan geld.

Volgens die departement hoop hy dat die sakereddingsproses binne die drie maande, soos voorgeskryf deur wetgewing, afgehandel kan word.

Die regering het reeds finansiering vir die herstruktureringsproses by Mango beskikbaar gestel, maar volgens die departement gaan dit nie genoeg wees om aan Mango se huidige verpligtinge te voldoen nie. Die redery ondervind volgens die departement “ernstige likiditeitsprobleme en kan nie sy skuld betaal of sy verpligtinge nakom wanneer hy moet nie”.

Ander filiale

Die SAL se tegniese afdeling, SAAT, is ook besig met die inwerkingstelling van sy afleggingsproses om personeel te verminder en volgens die departement is geld beskikbaar gestel om uitstaande salarisse te betaal en instandhoudingskontrakte af te handel.

Nog geld sal binnekort beskikbaar gestel word om afleggingspakkette te finansier.

“Die onderneming ná die herstrukturering sal kleiner wees, maar met ʼn sterk grondslag vir groei,” het die departement aan LP’s gesê.

By Air Chefs, nog ʼn filiaal van die SAL, is herstrukturering ook nodig en die bestuur moet dié proses van stapel stuur. Geld is ook beskikbaar gestel om uitstaande salarisse te betaal.

By SA Express het die hof op 28 Julie ʼn verlenging van die redery se voorlopige likwidasieproses toegestaan. ʼn Voornemende koper het ʼn gewysigde aanbod gemaak en daar word tans gewag vir ʼn bankwaarborg om die aankoopproses te bekragtig.

Die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging (Sacca) het hulle egter tot die Konstitusionele Hof gewend om die likwidasie van SA Express, sonder die betrokkenheid van die parlement by die proses, te betwis.

Die departement sal ʼn beantwoordende verklaring op die aansoek indien.

Kommer oor bestuur by SBO’s

Die parlementêre komitee oor openbare ondernemings het tydens die voorlegging sy kommer gelug oor die bestuur van en geldelike probleme wat staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) in die gesig staar.

Die komitee het ook die departement se rol bevraagteken om die uitdagings te pak, asook die maatreëls wat ingestel is om probleme te bowe te kom.

Khaya Magaxa, komiteevoorsitter, sê die departement is verantwoordelik om probleme wat die behoorlike funksionering van entiteite én die bestuur en finansiële administrasie daarvan belemmer, te hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Chris ·

Nooit die regering het mos baie geld. Hoe sal hulle dan nou bankrot wees.

Klipkop ·

Laat hulle liewer op die grond bly. Hulle kos die belastingbetaler minder op die grond en selfs onder die grond as in die lug. Die skade is lankal reeds aangerig deur ANC politici en burokrasie en dis nou mosterd na die maal.

JohanR ·

Augustus 2022 soek hulle al weer geld. Vlieg maar want ek sal nooit weer saam vlieg nie!

Anoniem ·

O nee……………..dit is waarvoor daar nou ‘n mediese versekering moet ingestel word en die werkersklas tussen 8% en 12% moet opdok wat eers 2026 in werking gestel gaan word om die lugrederye weer in die lug te kry!

Niklaas ·

Ek hoop daardie aantal gebergde SAL vliegtuie , Boeiing 747 , 707 , 737 ‘ s ens is almal goed gediens intussen, anders kan dit nogal fataal vir heelwat passasiers wees. Ons weet wat is die BEE standaarde . Ek sal beslis nie oorhaastig wees om by hulle ‘n vlugkaartjie te koop nie.

Anoniem ·

Waar gehasie? Daar is dan nie eens geld vir brandstof nie hoe op aarde droom jy nou van ‘n ordentlike diens!

Tubac ·

Sal beslis nie weer hulle gebruiknie. Wil nie weer my vingers verbrand nie.

marius ·

Opknappings opleiding . ‘n Tang , stuk bloudraad en ‘n drie poot pot .

Vrijburger ·

Mmmm en is daar nou al uitsluitsel of Takatso deur ons pensioengeld gefinansier word? (Maar net ‘n skelm manier om ons geld te gebruik vir SAL en boonop BEE te finansier.)

Tino ·

So gaan hulle kubaanse ingeneurs kry om die werk te kom doen by SAAT?

Tubac ·

Nee die dokters wat hulle ingevoer het kan sommer die joppie ook doen. Multiskilling.

Benita ·

Julle moet maar lekker vlieg, ek vlieg nie saam nie dankie.

Ria ·

WIE STEL die sakeredders aan. Is dit staatsbeheerde instansies. Indien wel, staan my hare klaar regop

Hennie ·

Ek sit nie my voet in hierdie BBEEE maatskappy nie. Vermy hulle al vir meer as 25 jaar…

Nico ·

SAL kan wel weer vlieg, ek sal nooit weer gebruik maak van SAL se vlugte, sal eerder van die ander rederye gebruik maak.

Caroline ·

I fly often but has long stopped flying SAA and SAA will never see me in one of there seats

Hennie J ·

Hoe sal jy n ‘nuwe’ sal vliegtuig uitken?
1. die een met versoolde bande
2. die een waaruit n oorverdowende musiek lawaai kom met n lemoen op die lugdraad
3. die een waar hulle die lugwaardinne saam met die pruikbokse met n laaigraaf oplig
4. die een waar die pilot ten minste n halfuur laat is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.