SAL dien amptelik aansoek om ondernemingsredding in

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het sy aansoek om ondernemingsredding by die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) ingedien.

Adv. Rory Voller, kommissaris van die CIPC, het aan eNCA gesê SAL moet nou binne vyf dae ʼn ondernemingsredding-praktisyn aanstel. Sodra die praktisyn aangestel is, moet daar binne tien dae ʼn vergadering met krediteure gehou word en ná 25 dae moet ʼn ondernemingsreddingplan goedgekeur word deur die al partye wat geraak word.

SAL het vroeër in ʼn verklaring gesê sy direksie het ʼn resolusie aanvaar om die lugredery so gou as moontlik in ondernemingsredding te plaas.

“Die eenparige gevolgtrekking was om die onderneming in ondernemingsredding te plaas ten einde ʼn beter opbrengs vir die krediteure en aandeelhouers van die maatskappy te skep, as wat die resultaat is van enige ander beskikbare oplossing,” het Tlali Tlali, woordvoerder van SAL, gesê.

SAL wil ook waardevernietiging van sy filiale beperk en die beste vooruitsigte bied vir geselekteerde aktiwiteite binne die groep om suksesvol in bedryf te bly.

“SAL verstaan dat die besluit moontlike uitdagings en onsekerhede vir personeel tot gevolg mag hê. Die maatskappy sal hieroor kommunikeer en ondersteuning vir alle werknemers gee in dié moeilike tyd.”

Dit volg op Solidariteit se versoek aan die hooggeregshof dat die vakbond se aansoek vir ondernemingsredding van SAL reeds volgende week aangehoor moes word.

Dirk Hermann. Foto: Reint Dykema

“Dit is ’n historiese gebeurtenis. Dit is die eerste keer dat ’n staatsonderneming in ondernemingsredding geplaas word. Die ondernemingsreddingsproses wys ook dat wanbestuur en plundering wel ’n einddatum het – in hierdie geval teen ’n groot koste,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

“Dit is egter nie ’n vrywillige ondernemingsreddingsproses nie; dit is afgedwing deur Solidariteit se aansoek. Die regering probeer nou meer beheer kry oor ’n proses wat hy voorheen teengestaan het. Solidariteit gaan die ander vakbonde versoek om gesamentlik te eis dat georganiseerde arbeid invloed moet hê in die aanstelling van die ondernemingsreddingspraktisyn.

“Ons verwelkom egter die ondernemingsreddingsproses. Dit is ’n oorwinning vir Solidariteit en belastingbetalers,” het Hermann gesê.

In wat die eerste van sy aard is, het Solidariteit op 21 November ʼn aansoek ingevolge art. 131 van die Maatskappywet (No. 71 van 2008) gebring om SAL onder toesig te plaas en om met ondernemingsreddingsverrigtinge te begin.

SAL en die minister van openbare ondernemings het toe kennis gegee van hul voorneme om die aansoek teen te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vranet? ·

Wat is daar om gered te word? Ek weet Mango is weer onder die bestuur van ‘n bekwame man. Hy sal seker Mango weer op die wenpad kry wat dit was voor hy daar weg is. Privatiseer elke afdeling en laar dienste dan aan die verskillende afdelings gelewer word soos in die privaatsektor. Maar sonder enige politieke aanstelling.

André-Chris ·

Kan iemand aub help sal ek waardeer. Wat is die verskil tussen ‘sakeredding’ soos wat Dr Hermann in die eerste berig oor Solidariteit wat dit gebruik, en ‘ondernemingsredding’ soos wat Maroela gebruik? In watter geval gebruik mens die een en wanneer die ander een?

André-Chris ·

Gebruik: ‘n Onderneming word in sakeredding geplaas, of dan lyk dit my in kort kan mens soos Maroela doen, sommer van ondernemingsredding praat.

André-Chris ·

En daar is Les Matuson van Matuson Associates in Johannesburg sommer vanmiddag al as die sakereddingspraktisyn van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) aangestel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.