SAL: Gemengde gevoelens oor Mboweni se uitlatings

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Shayne Robinson/SAPA

Organisasies het met gemengde gevoelens reageer ná die minister van finansies se uitlating dat dit nie langer die moeite werd is om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) te probeer red nie.

Tito Mboweni het Donderdagaand by ʼn beleggerskonferensie in New York gesê die beste raad is om die lugredery toe te maak.

Alf Lees, woordvoerder van die Demokratiese Alliansie het Vrydag gesê hy verwelkom Mboweni se uitlatings.

Die SAL het sedert 2011 nog nie ʼn wins getoon nie en oorleef slegs op staatswaarborge. Die regering het verlede maand voorgestel dat R5 miljard aan die lugredery oorbetaal moet word.

“Ons sal waarskynlik nie die situasie kan oplos nie, so my siening is dat ons die lugredery moet sluit,” het Mboweni gesê. “Dit is onwaarskynlik dat mens ʼn privaat vennoot gaan kry wat by die bate sal wil aansluit.”

Die SAL het in 2014/15 verliese van R5,6 miljard getoon, R1,4 miljard in 2015/16, R5,5 miljard in 2016/17 en R5,7 miljard in 2017/18. Die lugredery se omkeerstrategie maak voorsiening vir verdere verliese tot die 2020/21 finansiële jaar.

Lees het gesê die lugredery dreineer die fiskus. Volgens hom het die DA lankal aangedui dat die SAL nie “aan die lewe gehou moet word” met die belastingbetaler se geld nie en as die lugredery wil voortgaan, moet dit geprivatiseer word.

“Mboweni se siening oor die SAL is verfrissend en in skrille kontras met die ANC se herhaaldelike siening dat die lugredery ʼn ontwikkelingsinstrument is en nooit geprivatiseer moet word nie,” het Lees bygevoeg.

“Die eerste stap wat gedoen moet word om die SAL en ongeveer 10 300 poste te red, is om die SAL onder sakeredding te plaas. As dit onsuksesvol is, is daar geen ander opsie nie as om die lugredery te likwideer.”

Die vakbondfederasie Cosatu het egter gesê Mboweni se uitlatings is kommerwekkend. “Dit is die tweede keer wat minister Mboweni sy persoonlike posisies voorhou wat nie strook met ANC-beleide nie.

“Enigiemand met ʼn gesonde verstand gee toe dat die SAL se huidige situasie nie volhoubaar is nie,” het Sizwe Pamla, woordvoerder van Cosatu, gesê. “Die SAL se situasie word nie aangehelp deur Gulf Airlines wat begunstig word deur petrodollar-subsidies terwyl ons meer vir brandstof betaal wat ons invoer nie. Dit is al hoe moeiliker vir ʼn lugredery wat onder wanbestuur deurgeloop het en geplunder is.”

Pamla het gesê ʼn dialoog tussen alle belanghebbendes moet plaasvind, omdat werkers se poste in gedrang is.

“Dit is roekeloos vir die minister van finansies om ʼn staatsentiteit as ‘waardelose gemors’ te beskryf by ʼn beleggerskonferensie. Ons weet nie hoeveel vlakke van onkunde mens moet deurgaan voor jy met sulke tipe goed vorendag kom nie.”

Pamla voeg by die minister se uitlatings is onaanvaarbaar en buitensporig en kan slegs gesê word deur iemand wat op soek is na ʼn vinnige applous en goedkeuring van sy “neoliberale heersers”.

“Ons wil graag sy planne hoor om die land se ekonomiese probleme te takel met weldeurdagte beleide en regeringstegnieke.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Adam ·

Sizwe Pamla, daar is ‘n geskenkie vir jou en Cosatu op pad. Julle kan die SAL verniet kry as lopende saak* (dit sluit natuurlik die miljarde skuld in). Dit sal jjulle in staat stel om die poste te behou en julle in die bevoorregte situasie plaas waarin julle dan self die salarisse van die werkers uit eie fondse kan betaal. Welgedaan Mnr Mboweni, ek het geweet jy sal nie die narre se stories sluk nie en jou teenwoordigheid en Magashule se probleme dra nou daartoe by dat die President tande kry en sy eerste “byt”, nl Tom Moyane van SARS was ‘n welkome een.

IK ·

Daardie laaste woord in die berig ‘Regeringstegnieke’ sê dit alles. Mens is slim genoeg as jy besef dat jy nie alles weet.

zoom zoom ·

Verkoop SAL aan die Zumas Guptas Gigabas en Zumpie se girlfriend Dudu.

John ·

Dis presies wat die Guptas wou he: ‘n poegaai SAL sodat hul lugredery kon oorneem. Ons moet net oppas dat ‘n soortgelyke groep nie hul vingers in die paai kry nie, soos Mams van China en die miljarder-Emirate dan volg nog en nog oornames en uiteindelik buig ons voor vreemde gode.

marco polo ·

Waar val jy uit met China? Daar is geen redery wat direkte vlugte tussen China en SA het nie. Ek en die duisende ander SAners in China sal dit verwelkom as ons met een vlug na SA kan vlieg

Chris Ws ·

Ek het laaaaankal gese die SAL /SAA wat ook al moet GESLUIT word.Suid Afrika HET HOM NIE NODIG NIE.HY is ‘n bodemlose put waarin miljarde rande elke jaar gestort word.

Bertie ·

Die SAL was winsgewend, toe hy SAA geword het, het hy sy agteruitgang begin sien. Die SAA en SAL moet nie eers met mekaar vergelyk word, of in dieselfde sin gebruik word nie.

Hennie ·

Verkeerde mense, verkeerde resultate. Kry die regte mense wat die SAL moet bedryf en siedaar, ‘n wonderwerk vind plaas. Verwyder almal en kyk weer na die mense wie SAL jare lank winsgewend bedryf het, mense wie vandag vergete is.

Willem Grobler ·

Ek onthou hoe my ouers ons in my kinderdae na Jan Smuts lughawe gevat het om na elke nuwe Boeing te gaan kyk wanneer die SAL ‘n aankoop gemaak het. Ons was só trots om te gaan kyk na die vliegtuig met die oranje, wit en blou vlag en springbok op sy stert! Nou het hierdie nuwe regeerfers met hul kader ontplooiïng, lang vingers en onvermoë om enige ingewikkelde stelsel te bedryf dit alles deur hul agterente getrek. Soos ook Eskom, 75% van die land se munisipaliteite, die spoorweë, SARS, die SAP en en en. Kortom – hulle regeer Suid-Afrika die afgrond in.

Karolis ·

Haal al die diewe/skelms uit dan sal pamla sien watse enorme wins maak SAL.

Judge Dredd ·

Jy kan net so lank in droomland leef, maar uiteindelik sal realiteit jou beetkry.

Judge Dredd ·

@Marco Polo – Hong Kong is in China laas wat ek gekyk het. En ja FlySAA het dit nog as een van hul bestemmings.

marco polo ·

Op papier is HK deel van China, maar dit word onafhanklik bestuur. Jy kan sonder visa soontoe gaan, maar benodig ‘n visa vie China. Chinese benodig ‘n spesiale permit, soos ‘n visa, as hulle HK toe wil gaan. Om daar te kom, moet mens ‘n aaklige vlug op ‘n ingedrukte, klein sitplekkie onderneem, dan vlieg jy Johannesburg toe, waar hulle jou ekstra laat betaal vir jou oorgewig bagasie, omdat die vlug na Kaapstad nou nie meer ‘n buitelandse vlug is nie. Dieselfde geld vir vlugte van China na HK.
Daar is geen manier wat jy met een vlug van vasteland China na bv Kaapstad kan vlieg nie. Beste opsies met heelpad internasionale vlugte is Emirates (baie lank) en Ethiopian (nie so goed, maar goedkoop en drie vlugte). Ek oorweeg nie eens SAA nie, want die enigste keer wat ek met hulle gevlieg het, het die vliegtuig uitmekaar geval en die BEE lugwaardinne het moeg geraak na die eerste uur en is daarna selde gesien.

Gert de beer ·

HULLE KAN MAAR NET SOWEL DIE R5 MILJARD DIREK IN DIE ANC SE REKENING INBETAAL WANT DIT IS IN ELKGEVAL WAAR DIT OPEINDIG. HULLE SAL MOS NOOIT HUL MELKKOEI TOEMAAK NIE…

Andre ·

Marco Polo….miskien moet jy bietjie jou huis werk doen Air China vlieg daagliks tussen SA en China.

bgj van der westhuizen ·

stem saam maak toe ons belasting betalers is moeg om saa oop te hou as hy nie vir hom self kan oop hou nie sluit dit

Sarel ·

Cosatu moet hulle kommunistiese bekke tjoepstil hou, hulle is net so verantwoordelik vir SAA se ondergang . Die pot moet nie die ketel verwyt nie. Vakbonde is die grootste oorsaak van werkloosheid in SA .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.