SAL hervat sommige vlugte in Junie

(Foto: Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het Dinsdag gesê hy behou vir tyd en wyl sy binnelandse vlugskedule tussen Johannesburg en Kaapstad en hoop om teen die middel van Junie dié vlugte te hervat.  Alle buitelandse en streeksvlugte wat beplan is tot en met einde Junie word egter met onmiddellike inwerkingtreding gekanselleer.

“SAL fokus tans daarop om te verseker dat die redery gereed is om dié vlugte te hervat sodra dit toegelaat word,” lui ʼn verklaring wat die SAL Dinsdag uitgestuur het.

Weens die vlak 4-afsondering wat tans in Suid-Afrika geld, word geen binnelandse of buitelandse vlugte toegelaat nie, behalwe om noodsaaklike items te vervoer.  Die SAL is boonop in Desember in sakeredding geplaas en die regering, sakeredders en vakbonde kon nog nie oor die toekoms van die redery ooreenkom nie.

Die SAL sê in sy verklaring sy besluit om buitelandse vlugte te kanselleer het te make met die globale impak van die Covid-19-pandemie.  “Baie inperkingsreëls geld steeds by lughawens wêreldwyd en dit is nog nie moontlik om met vlugte oor Suid-Afrika se grens voort te gaan nie,” sê Philip Saunders, die SAL se hoof van handel.  Mense wat reeds kaartjies gekoop het vir vlugte wat nou gekanselleer is, kan dié kaartjies op ʼn latere stadium verander na ʼn reisdatum tot en met 24 Maart 2022.  Die lugredery sal ook toelaat dat die naam op ʼn kaartjie een keer verniet verander word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Marcia ·

die hotspots is dan juis Johannesburg en Kaapstad, jy kan vlieg maar net nie rook niel

Grassie ·

Net as ‘n mens dink die perd het nou finaal die lepel in die dak gesteek, gee hy weer ‘n paar skoppe. Ek wonder hoe lank gaan ons nog met hierdie ellendige geldvreter opgeskeep sit.

koos10 ·

Mag daar ook net 50 mense per vliegtuig toegelaat word soos vir kerk dienste? En hoe kleiner die vliegtuig hoe minder mense?
Ek sou reken dat ‘n vliegtuig kleiner is as ‘n kerk of hoe, en dan is ‘n erediens 1 uur en ‘n vlug van JHB na Kaapstad 2 ure.
Ek staan al hoe meer verstom oor ons “bevoegde” regering se besluite, solank ons net nie rook nie soos Marcai ook sê.

Elméne ·

Ek was onder die indruk dat die SAL in sy kanon bankrot is en dat die regering nie meer gaan help nie???? Vader weet, julle moet oppas dat die “airie” geld vir brandstof het! Weet nie hoe lekker dit gaan wees as brandstof halfpad op is nie?

JohanR ·

Nee wat….ek stel voor die Phoenix wat opstaan uit SAL moet hulle Piesang Lugdiens noem. Dit sal mooi pas by die land se nuwe naam Piesang Republiek. Daar sal dan twee vrugte in SA vlieg naamlik Mango en Banana! Die nuwe lands vlag kan ‘n groot piesang in die middel he, en die Protea en Springbok sal vervang word met ‘n piesang op die trui.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.