SAL ‘kan nié gered word’

(Foto: flysaa.com)

Die staking van werkers by die reeds sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) is in volle swang, terwyl kenners waarsku dit gaan die staatslugdiens ʼn verlies van miljoene rande kos – iets wat hy in dié stadium kwalik kan bekostig.

Werkers verbonde aan die National Union of Metalworkers of South Africa (Numsa) en lede van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Kajuitpersoneel (Sacca) het Vrydagoggend begin staak. Hulle het Donderdag ʼn aanbod van die lugredery vir ʼn loonverhoging van 5,9% wat van Maart 2020 betaal sal word en agterstallige bedrae wat van 1 April 2020 in paaiemente betaal sal word, van die hand gewys.

Die vakbonde dring aan op ʼn loonverhoging van 8%, wat teen 13 Desember in werking moet tree, en 50% van die agterstallige betalings wat teen dié datum terugbetaal moet word. Die res moet teen 27 Januarie aanstaande jaar terugbetaal word.

“As ʼn werkgewer bankrot is en die personeelsamestelling is heeltemal buite proporsie – soos die geval by SAL – word ʼn vakbond se bedingingsmag só weggekalwe dat die laaste ding wat hy kan bekostig om te doen, ʼn staking is,” het Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika (Neasa), gesê.

“Wat ʼn werkgewer tipies in só ʼn geval sou doen, is om uit stap en die deure agter hom te sluit. Omdat die werkgewer niks het om te bied of selfs om oor te onderhandel nie, het hy niks om te verloor en word sy risiko beperk, sou daar enigsins ʼn risiko wees.”

Papenfus sê “in die regte wêreld” sou dit die geval wees, maar SAL tree op asof hy nog solvent is – wat hy nié is nie – en asof sy redding afhang van finansiering van ʼn regte kommersiële bank en nie aalmoese van die staat nie.

“SAL tree op of hy onmisbaar is en dit is nie die geval nie. Sy plaaslike en internasionale markaandeel is nagenoeg 20%, wat deur ander rederye oorgeneem sal word as SAL sink. Dié idee van onmisbaarheid maak die vakbonde dapper om onrealistiese eise te stel.”

Papenfus het gesê SAL se handelmerk is reeds so bevlek dat dit eintlik beter vir die land se beeld sou wees as SAL sy deure sluit.

“SAL kan nie gered word nie,” het Papenfus gesê. Hy glo ook hoe vinniger die regering van dié las ontslae raak, hoe beter.

(Argieffoto: ANA)

Die ACDP het intussen ook sy groot kommer uitgespreek oor SAL se kansellering van internasionale vlugte. Die party sê dit het ʼn finansiële uitwerking van R100 miljoen – geld wat die redery desperaat nodig het.

“SAL is ʼn bodemlose geldput. Dit het sedert 2017 meer as R15 miljard in reddingsboeie van die staat gekry, insluitend die R5,5 miljard wat in September aan hom toegeken is,” het die party in ʼn verklaring gesê.

Verlede maand het die minister van finansies, Tito Mboweni, boonop aangekondig dat ʼn bykomende R9,2 miljard beskikbaar gestel gaan word om SAL te help om sy immer-stygende skuld te probeer delg.

“Dit kan nie so voortgaan nie. Geld word van dienslewering onttrek om skuld te betaal weens die growwe wanbestuur by ons staatsbeheerde instellings,” het die ACDP gesê.

“Daar kan nie net oor gevolge-bestuur gepráát word nie, dit moet ook in praktyk uitgevoer word. Dis hoog tyd dat diegene verantwoordelik voor stok gekry word en daar nie langer van Suid-Afrikaners verwag word om te betaal vir die foute en hebsug van die elite en politiek-gekoppeldes nie.”

  • SAL het reeds alle plaaslike en internasionale vlugte wat vir Vrydag en Saterdag geskeduleer was, gekanselleer. Slegs vlugte na die hoofstede van Mosambiek, Namibië, Zambië en Zimbabwe is nie opgeskort nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Dan ·

Toe ek hoor hulle gaan staak toe weet ek,ons fabriek het dieselfde pad gestap….as hulle terug keer na hulle werke toe is dit n wonderwerk.

Asmain ·

Hoekom word belasting geld steeds in die bodemlose put gestort? Het SA regtig n staats lugredery nodig? Is daar nie genoeg ander lugrederye wat mense gerieflik reg oor die wêreld kan vlieg nie? Gebruik eerder hierdie geld vir iets soos onderwys of mediese fasiliteite

Feite ·

Die SAL kan nie gered word nie, so ook nie SA onder n “ANC failed state” nie!

Marisa ·

Ek wens net hy wil nou val en klaarkry dat ons kan aanbeweeg en die geld op dienste en publieke vervoer vir die massas spandeer – jammer vir die mense wat daar werk – geen simpatie met die wat net ‘n job daar het nie.

Hendrik ferreira ·

Dieselfde kan gesê word van die piesang republiek van SA of PRSA,hy kan nie gered word nie gee bekwame mense n onafhanklike tuisland of alles is daarmee heen .

Dolf ·

Afstigting is al oplossing. Maar nee, nou moet daar gebou word.

Winston ·

Stem saam Hendrik. Dis nou of nooit. Stem vir VVA vir n onafhanklike land. Geen bodemlose putte nie.

A Klaassen ·

Hulle staak die hele land in sy peetjie in. Nog niks goed het gebeur na enige staking nie. Party wen bietjie meer geld en ‘n hele paar wen afbetaling want hulle word onbekostigbaar. Maar die slim mense leer nooit.

Daan ·

Nog iets wat die ANC gesink het. Ek hoop die unie se vir hulle dat as hulle staak is daar n moontlikheid dat hul almal hul werk gan verloor.

Gerhard ·

Sluit die deure. Ek verstaan in elk geval die SAL vlieeniers werk ook vir ander rederye? Jammer vir die blankes wat oorbly, maar Maak toe die sinkgat.

PJN ·

Maak toe…. Maak toe….. SAL is nie solvent om te kan onderhandel nie.

Stefaans ·

Ja nee kyk, die unies werk hard om maatskappye te sluit en wil dan onregverdigheid gil as maatskappy sy deure toemaak en almal aflê.

Commie ·

En die massas betaal maar elke maand hulle Unies se fooie, en buiten dit staak hulle en raak oproerig en verniel als en die Unie base sit veilig in hulle kantore of Luthuli Huis en druk die hope geld in hulle sakke in. Hulle (die base) gee nie om wat met die gewone werker gebeur nie

koos ·

Die SAL verloor nie R100 mij nie. Hulle spaar in werklikheid.
Hulle werk tans teen ‘n verlies, so as vlugte nie vlieg nie en hulle betaal nie personeel nie dan glo ek hulle spaar geld.
Ek stem saam met Papenfus, SAL gaan omdraai en weg loop en dan is al die werkers sonder werk.

Judge Dredd ·

Die SAL sal nie sluit nie.
Die kommentare het gemis dat Tito Mboweni laasmaand weer R9.2 miljard toegestaan het
EN DIS WAAROM DIE UNIES NOU STAAK !
Daar is mos nou baie geld vir verhogings…..

Judge Dredd ·

….hoe hou julle van my nuwe “positiewe” uitkyk? …..

Willebees ·

@Judge Dredd. Jou kommentaar is oor die algemeen spot on – dankie. Dit is moeilik om positief te wil wees tans in SA (en ek wil graag wees), maar ai, ek kan maar net my kop skud vir al die kognetiewe beperkings.

Ai Tog. ·

Judge,
Die geld word gebruik om skuld te delg. Die bietjie wat dalk oor is gaan vir KFC.
Waar is die geld wat Myeni en haar trawante in Afrika weggesteek het?

Judge Dredd ·

Wees positief – hulle sal dit iewers vind.
Hint: I&J

Piesanglandgbewoner ·

ESKOM ook, BAFANA BAFANA ook, die RSA ook……. Who cares? GO BOKKE!

Kobus ·

Ek stem saam. ANC kaders gaan die SAA vir R1 koop, sonder skuld.

Doris ·

Aangesien die SAL nie gered kan word nie maak hom maar toe, voordat daar van die belasting betalers se geld gevat word. En dan gebeur daar weer sulke dinge soos in die verlede daar word geld gegee maar hulle bly in die moeilikheid. Maak hom toe of sny die die bestuur se top salarisse.

Karel ·

Niemand kan kla ons leef in vervelige tye nie. Dinge raak al hoe interessanter (wat negatief of positief kan beteken). Ons sien hoe geskiedenis gemaak word.

Hester ·

Ek hoop SAL maak nou hulle deure toe. So jammer vir die regte werkers. Mag die regering gou besef hulle moet stakings verban

JohanR ·

Moenie worry nie…..volgende week kry hulle ‘n R350m reddings boot! Betaal belastinbetaler, betaal!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.