SAL kap terug na Saapa

Argieffoto

Die direksie van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het in ʼn verklaring teruggekap na die Vlieëniersvereniging van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (Saapa) wat vroeër vandeesweek bekend gemaak het dat die lugdiens se vlieëniers beplan om te staak.

“Ons is teleurgesteld dat dit in die openbare domein geplaas is, terwyl ons besig is om sinvol met Saapa oor ’n aantal kwessies te raadpleeg. Ons is in die middel van ʼn onderhandelingsproses en ons sal verkies dat die proses sy natuurlike loop neem voordat enige partye uitsprake lewer,” lui die verklaring.

Die direksie het besluit om nietemin op die kwessies wat Saapa geopper het, te reageer.

Luidens die verklaring aanvaar die SAL dat hy tans deur verskeie uitdagings in die gesig gestaar word, onder meer inkomstestimulasie en netwerkoptimalisering. Volgens die direksie het ’n ervare uitvoerende beampte in September begin om dié uitdagings te hanteer.

“Die SAL het ook reeds stappe gedoen om die nodige kapasiteit bymekaar te kry om die bestuur [van die lugdiens] te versterk en dit is algemeen bekend en waarneembaar in die onderneming.”

Volgens die verklaring is verskeie aanstellings ook reeds aangekondig, onder meer ʼn hoofbedryfsbeampte, die uitvoerende hoof van SAL Tegnies, asook die uitvoerende hoof van Mango.

Die direksie voer aan dat die lugdiens beplan om nog aanstellings in die nabye toekoms te maak, maar het in dieselfde asem daaraan herinner dat dit ʼn ruk neem om die aanstellingsproses af te handel.

Maroela Media het vroeër berig vlieëniers dreig om vir die eerste keer in 80 jaar aan ʼn staking deel te neem om verandering by dié lugdiens teweeg te bring.

Saapa het bekend gemaak dat hy in Augustus ʼn brief met eise aan die SAL gestuur het waarin hy onder meer op ʼn nuwe uitvoerende hoof binne die volgende 90 dae aandring.

Die vereniging se eise het ook ingesluit die aanstel van ʼn afgetrede of aktiewe vlieënier in die lugredery se direksie, asook ʼn vaardigheidsoudit wat binne 60 dae van alle bestuurders en departementshoofde by die SAL gedoen moet word.

“Die bestuur gaan voort om met Saapa asook ander vakbonde en alle werknemers oorleg te pleeg om vordering te maak en meganismes te ontwikkel om die vele uitdagings die hoof te bied,” het die direksie gesê.

Luidens die verklaring wil die SAL die publiek, sy werknemers en Saapa gerusstel dat hulle ook ommekeer by die SAL wil bewerkstellig.

Die direksie glo ʼn staking sal egter in niemand se belang wees nie.

“Ons is daartoe verbind om ’n sterk en veerkragtige SAL te bou in die gees van samewerking,” het die direksie beklemtoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Zirk ·

Die gewone publiek het na 25 jaar se misleiding en wanpersepsies vanuit die regerende party, immuun en dikvellig geraak teen welsprekende en hoogdrawende, soetsappige persverklarings vanuit ANC geledere. Dit eindig gewoonlik in ‘n dawerende antiklimaks van verbale diarree.

Chris Ws ·

Laat ons nou maar SIEN wat kry die diereksie van SAL reg.Ek persoonlik glo hulle speel net vir tyd.Dit sal SAL vlieeniers dalk loon om ander weivelde te gaan soek en nie te sit en wag op ‘n wonderwerk nie.

Jan Botha ·

Chris
Die SAL se vlieeniers het die beste bedeling van vlieeniers in die wereld.
Google gerus. PAMPERED SAA PILOTS

Eben ·

SAA gee neem belaglikke stappe om die lugdiens om te keer omdat hulle nooit in die situasie moes beland het nie. Nou word nog meer geld spandeer, nog mense aangeste, om die lugdiens te red. Sake redding of likwidasie is al opsie. Mens kan nie elke keer presies dieselfde doen en dan ‘n verskillende vebeterde uitslag kry nie.

JA NEE. ·

SAL speel vir tyd. Gaan mooi woordjies bak vir n lang tyd. Dit is nie net top bestuur wat onbevoegd is nie, maar ook middelbestuur en laer. Saapa moet met die Minister onderhandel en nie direk met SAL nie. Moet nie net dreig nie maar voeg daat by die woord en wys hulle dat daar nie gespeel gaan word nie. Dit is al taal wat hulle verstaan . Kyk hoe vinnig verander dinge as een van die groot vakbonde daat by die woord voeg.

SjN ·

Terwyl jul vergader, verkoop sommer die bodemlose put, probleme vir almal vinnig uitgesorteer.

Jack Klok ·

So lank as wat die ANC se arbeids en swart bevoordelings ideologie van krag bly sal geen omkeer strategie enige indruk op die SAL se benarde situasie maak nie.

Die probleme is onbevoegde bestuur, politieke inmenging en dan regtellende aksie sowel as swart ekonomiese bemagtiging.

Ek het voor 1994 trots met SAL oor die hele wereld gevlieg. Dit was ‘n lugdiens om op trots te wees. Die ANC en hulle beleide het dit tot in die grond in verby bankrot bestuur. Dit kos belasting betalers miljarde om die SAL vanuit die kloue van skuldeiesers te hou. Tyd dat ons die SAL weggee.

MH ·

Die ANC se onbevoegde en korrupte bendes gee ons darem altyd iets om oor te lag, al is dit gewoonlik met ‘n traan in die oog: “Ons is daartoe verbind om ‘n sterk en veerkragtige SAL te bou in die gees van samewerking”, het die direksie beklemtoon.

Gert van Wierdapark ·

Die enigste “ommekeer” wat die SAL se bes-tuur sal kan doen, is om met nog groter bakhande vir miljarde Rande te gaan bedel met betraande ogies ala Brian kroko-diltraan Eskom

Compensation ·

Dit is wat “affirmative action” as beleid vir ons as land gedoen het. Ons land kry dit as ons cadres aanstel ipv persone wat eintlik weet wat aangaan.

m ·

Ja, bla, bla, bla SAL. Ons is “teleurgestel” dat julle deur jul onbevoegde besteur die lugredery in sy dinges in besteur het, maar net soos julle mooi woordjie gaan dit nie ‘n verskil maak nie. Julle is net plain weg incompetent en ons betaal vir die grap!!

Donald ·

Aan wie se kant is ek? Die mense wat vliegtuige vlieg, of die die ou in die kantoor?

Johanna Botha ·

Netso teleurgesteld dat julle so belasting mors ….maak tog net die ding toe ! Vlieg gladnie saa ,mango of express nie uit beginsel !

Scalla ·

Skaamteloos, wat is fout oom Jan, wat gaan deesdae aan in die government? Auh

Alida ·

Mens kan in elk geval nie waag om plek by SAL te bespreek nie want hulle staak sommer net en mens is onseker oor jou vlug.

Domvraag ·

Die kriteria wat gebruik word by aanstellings lei daartoe dat onbekwame mense aangestel word. Mense op die direksie wat geensins enige finansiële kwalifikasie het, hoort nie op n direksie nie.
Die mees onbekwaamste persoon is die een wat nie instaat is om sy/haar eie tekortkominge te kan begryp nie, kan nie bedrae uitspreek nie en se universiteitsgraad het geen finansiële vakke nie.
Wat is die kwalifikasies van die Direksie?

Wieletjies ·

Die probleem is dat die vliegtuig nie ‘n Taxi stuurwiel en orals stop plek het nie. Nou verstaan die bestuur dit nie. Al wat naby die Taxi kom is bestuurders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.