SAL maak nuwe loonaanbod midde dreigende staking

SAL-SAA

Foto: Commons.wikimedia.org

SAL het Woensdag gesê vlugskedules gaan tans soos normaal voort nadat die lugredery ʼn kennisgewing van een van die vakbonde ontvang het van sy voorneme om te staak.

Die vakbond Satawu het Vrydag SAL se instandhoudingsfiliaal, SAA Tegnies (SAAT), met ʼn kennisgewing bedien van sy voorneme om te staak weens werkers te ontevredenheid oor salarisse. Volgens SAL strook die kennisgewing met arbeidswetgewing aan SAAT bedien en is die SAL-vlugskedules sedertdien nie deur die kennisgewing geraak nie.

Tlali Tlali, woordvoerder van SAL, het Woensdagmiddag gesê daar is intussen “aansienlike vordering” gemaak met die onderhandelinge rondom die lugredery se loongeskil met drie vakbonde wat werkers by SAL verteenwoordig. Volgens Tlali het die bestuur van SAL Woensdag met verteenwoordigers van Satawu, Uasa en Numsa vergader om ʼn hersiene aanbod aan hulle voor te lê.

“Die aanbod is nie onmiddellik verwerp nie en die vakbonde het tyd versoek om met hul lede oorleg te pleeg,” het Tlali gesê. “Terugvoer sou deur die loop van [Woensdag] van twee vakbonde ontvang word en die derde vakbond sal teen Donderdag terugvoer gee.”

Tlali het gesê die lugredery het sedert hy die stakingskennisgewing ontvang het ook sy gebeurlikheidsmaatreëls hersien om te verseker dat ʼn staking minimale impak op SAL se bedrywighede sal hê.

“Die bestuur van SAL is toegewyd om saam met vakbonde te werk om oplossings te vind wat werknemers se eise kan akkommodeer en ʼn staking kan vermy. Hoewel die maatskappy begrip het vir eise vir hoër salarisse, moet dit gedoen word binne die raamwerk van die huidige finansiële beperkings wat die maatskappy in die gesig staar en moet sulke eise getoets word aan bekostigbaarheids- en volhoubaarheidsbeginsels in loononderhandelinge.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Chris Ws ·

Gesien in die huidig benarde finansiele toestand van die’ lugredery, moet SAL sy poste vir grondpersoneel met 3/4 verminder en eers dan met die oorblywende personeel oor lone onderhandel.

Eish ·

Dit is verseker n goeie begin. Volgende die loodse se voordele en salarisse sny tot op die been. Die buitengewone voordele vir loodse wat geen ander lugdiens ter wêreld bied nie kos hul R2b per jaar en sluit onder andere in 180 dae siekverlof per jaar, gratis besigheidsklas vlugte vir die gesin en uitgebreide gesin indien geskei, gratis vlugte na SA aangesien sommige loodse in ander lande bly en ook vir ander lugdienste vlieg. Verder kry die vlieëniers wat 12% van die werksmag is, 48% van die totale salarisrekening. Dan, hoe op aarde BEE nie by die vlieëniers plaasgevind het nie, gaan my verstand te bowe! Van die 225 senior kapteins is 217 blank!

Koebaai tata ·

Mens kom nerêns, as jy op dooie perd klim en nogal probeer vlieg! Stinkend lankal dood gedoem. Gee weg probeer verkoop aanvaar eerste beste aanbod NET om ontslae te raak van die meulsteen om die nek van bankrotstaat.

Chris Ws ·

Gelukkig met ons oorsese reis jare gelde het ons met Qantas gevlieg.Sal SAA nooit ondersteun nie en het baie kennisse oorsee wat SAA ook nie ondersteun nie agv van regstellende aksie!Wens ons kon nog meer mense oortuig om dieselfde te doen!

Boet Fasie ·

Personeel en vakbonde sien daar is nie geld nie, maar nee hulle wil meer geld he. Die SAL is ‘n sinkende skip maar die rowers soek nog steeds meer geld terwyl hulle sink. Al wat oorbly is dat daar ‘n kommissie aangestel moet word om te kyk of al die personeel werklik nodig is en of SAL nie dalk op ‘n bankrot veiling weg gegee moet word nie.

HPV ·

Reddingboei skaars ontvang en daar gaan die geld alweer. Stop die bodemlose put. Winsgewende privaat lugdienste sal dadelik die vlugroetes oorneem en die belastingbetaler is ontslae van ‘n las. Niemand sal die SAL mis nie.

Toppie ·

HPV – niemand gaan ook vir Zuma mis nie – so ons kan hom saam met SAL weggee , vir die gelukkige nuwe eienaar

Adam ·

Looneise vanuit die geledere van die SAL val werklik vreemd op. Die SAL personeel se vergoeding is bo-gemiddeld en hulle produktiwiteit is skokwekkend laag. Die SAL se verhouding van aantal personeel per vliegtuig is meer as 5 keer die markgemiddelde. Wat ‘n bodemlose put, iets wat ongelukkig onafwendbaar is indien die regering staats- en semi- staatsinstellings as werkskeppingsorganisasies vir sy ondersteuners aanwend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.