SAL mag vlieg vir entstof

Die owerheid was bekommerd oor wanneer laas die SAL se bemanning gevlieg het. (Argieffoto: Michele Spatari/AFP)

Die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO) sê hy het wel – nadat hy verseker het alle maatreëls word nagekom – toetstemming gegee dat ʼn vlug van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) na Brussel mag opstyg.

Die SAL-vliegtuig, wat 80 000 dosisse van Suid-Afrika se besending Johnson & Johnson-entstof teen Covid-19 in Brussel moes gaan haal, kon nie betyds vertrek nie omdat die BLO kommer gehad het oor hoe lanklaas die bemanning gevlieg het. ʼn Ander redery is ingespan om die entstof te vervoer.

Die BLO sê die SAL het nie aanvanklik genoeg besonderhede verskaf oor hoe gereeld sy bemanning gevlieg het nie. Dit is ʼn belangrike veiligheidsmaatreël vir lugrederye.

Die SAL is al in Desember 2019 in sakeredding geplaas en sy bedrywigheide is nou al maande lank opgeskort.

Die BLO het benadruk dat hoewel die lugdiens sy bedrywighede vrywillig opgeskort het, dit nie beteken dat sy lugoperateursertifikaat ongeldig is nie.

“In hierdie opsig is die sertifikaat steeds geldig, selfs al is bedrywighede tydelik opgeskort,” lui ʼn verklaring van die BLO.

Die owerheid sê dit word van enige operateur wat nie gereeld vlugte onderneem nie, of wie se vloot om een of ander rede nie gereeld gebruik word nie, verwag om die nodige instandhouding aan die vliegtuie te doen.

SAL se tegeniese afdeling, SAAT, het met sy werk voortgegaan om dié instandhouding te doen en die BLO was tevrede dat aan alle bepalings voldoen is.

Die toestemming vir die vlug is gevolglik Dinsdag toegestaan.

Die departement van openbare ondernemings het Donderdagaand gesê die SAL gaan “binnekort belangrike verantwoordelikhede in nasionale belang begin nakom. Die publiek sal op hoogte gehou word van hierdie spesiale vlugte”.

Die departement ontken dat die SAL verhoed is om die vlug na Brussel te onderneem en sê die toestemming vir die vlug is bloot later gegee as wat verwag is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piper ·

ek is seker n kleiner goedkoper vliegtuig kan hiervoor gebruik word. seker weer n paar kaders wat vir n plesiervlug wil gaan.

Tanniepetoors ·

Hoeveel duurder is die SAL-vlug as ander beskikbare rederye? Gaan ons nou weer ‘n sirkusvertoning op die aanloopbaan hê as die vlug hier land?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.