SAL ʼn las en nié ʼn bate, sê Maimane

Argieffoto

Mmusi Maimane, leier van die DA, sê die regering kan nie verder bekostig om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) van ondergang te red nie terwyl daar daagliks sowat vier kinders aan hongersnood in Suid-Afrika sterf.

Maimane het Maandagmiddag tydens die oprigting van ʼn advertensiebord in Johannesburg, wat die SAL se verliese beklemtoon, gereageer op adjunkpresident Cyril Ramaphosa wat verlede week in die media gesê het die SAL is ʼn “nasionale bate”.

“Waarom subsidieer die regering die rykes wat kan bekostig om te vlieg ten koste van die armes en die werkloses? Hoekom moet ons SAL konstant red? Niemand in die regering kan dit verklaar nie. Ons red die mislukte SAL omdat dit net nóg ʼn goeie plek is vir kaders om geld te maak,” het hy gesê.

“Ek sou gedink het ʼn sakeman soos Cyril ken die verskil tussen ʼn bate en ʼn las. Om SAL ʼn nasionale bate te noem, is nie ʼn goed genoeg antwoord op ons vrae nie. Ons semistaatsinstellings het massiewe kitsbanke geword waaruit die bloedsuiers wat ons kosbare hulpbronne gebruik elke maand geld neem. Ons word gedwing om die SAL te borg.”

Maimane het gesê dat die nasionale lugredery R35 miljard van die staat ontvang het sedert 1999 om sy ondergang te verhoed. Hy sê die regering het dié geld aan die SAL gegee wetend dat sowat 4 900 kinders volgens die departement van gesondheid oor die afgelope drie jaar dood is aan wanvoeding.

Malusi Gigaba, minister van finansies, sal na verwagting Woensdag tydens die mediumtermyn-begrotingstoespraak bekommernisse oor die wettigheid aanspreek van die geld wat hy einde September aan die SAL toegeken het.

Gigaba het verlede maand R3 miljard vanuit die nasionale inkomstefonds gebruik om die SAL te help en te verhoed dat die lugredery se lening van Citibank misluk. Dit volg kort nadat hy in Junie vanjaar ook R2,2 miljard aan die SAL gegee het.

Maimane het gesê die SAL behoort gestabiliseer en dan verkoop te word.

“Die groot bedrae geld wat ons sal spaar, kan reguit teruggeploeg word in enige programme wat die armes regverdig bevoordeel,” het Maimane gesê. “Ons sal nie die eerste land wees wat sy nasionale lugredery prysgee nie, en ons sal beslis ook nie die laaste wees nie. Die lewe sal voortgaan ná die SAL – dié keer met meer geld vir die armes en minder vir korrupte amptenare.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

bgj van der westhuizen ·

verkoop en betaal skuld al maak in verlies op verkoop sal dan keer om in die toe kom verlies te wees

Spieël ·

Ja, mens moet ‘SAL’ in ‘n spieël lees, daarom is dit ‘LAS’.

Adam ·

Briljant!!!! Cyril Ramaphosa is ‘n mega-ryk sakeman en hy beshou die SAL as ‘n bate, ‘n bate wat miljarde se verliese maak. Dit is ‘n sprekende voorbeeld van hoekom jy nie eens ‘n politikus kan glo wat vertel dat hy asemhaal nie. Niemand sal ooit glo dat Cyril gewoon so onnosel is nie. Nou ja, indien ‘n man wat sulke uitsprake maak die beste presidents-kandidaat is, is dit nie moelik om SA se droewige toekoms te visualiseer nie.

HPV ·

Mnr Maimane, wanneer gaan die opposisie ophou praat en daadwerklik begin optree. Is dit nie waarom julle daar is nie, om iets te doen? Ons almal weet die SAL is ‘n las, so is Eskom en ‘n lang lys ander, ons hoor dit tot vervelens toe. Stop praat en doen iets!

tokkie ·

Weet hulle is ‘n las. Maar ongelukkig is dit die enigste lugredery wat perth toe vlieg. Ek hou nie van stop overs en lang vlugte. So ek hoop maar daar kom ‘n oplossing. ek weet dit gaan ons biljoene kos

koos ·

die SAL kan gered word indien 75% van die bestuur afgedank word want die een weet nie wat die ander een doen nie en meeste van hulle skep net en hulle verdien dit nie

Katy ·

Maimane het’n punt beet oor die lugdiens en kinders, daar hy probeer veld wen vir hom. Terwyl hy vergeet van oumense en plaas moorde, aanvalle en alle arm mense. Stel voor dat die regering begin betaal vir alles soos ons mense en op hou om dit verniet te wil hê net omdat hul ‘n amp besit.

Frikkie Geld en huis ·

Mmusi moet ook maar versigtig wees om te veel geld op die armes te spandeer, as sou sy party eendag aan bewind kom. Bou vir hom ‘n huis, en hy begin onmiddellik te teel, wat kan veroorsaak dat die toename in die getal armes, op die ou einde die SAL na ‘n vulletjie kan laat lyk.

Eish ·

Volgens rekenkundige praktyk is Cyril reg om die SAL n bate te noem. Na verafrikaaning is dit nou n lastige bate.

Leahim ·

Daar is n paar staats departemente wat n totale mors van belastingbetalers se geld is die sal en saps privatiseer die eerste ontbind die tweede en laat elke dorp sy eie metro polisie kry wat verandwoording aan die dorp of stadsraad doen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.