SAL: ‘Ons bedrywighede gaan voort’

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het sy kliënte en aandeelhouers die versekering gegee dat vlugte na alle bestemmings soos normaal voortgaan.

Tlali Tlali, woordvoerder van SAL, het gesê die lugdiens is bewus van mediaberigte wat beweer dat die lugredery sy bedrywighede gaan staak.

“SAL bly daartoe verbind om deursigtig met alle belanghebbendes, insluitend kliënte, te kommunikeer oor wesenlike of beduidende bedryfsveranderings wat ʼn invloed op vlugskedules kan hê.

“Waar daar vlugroosterwysigings kan wees, sal sulke bedryfsveranderings bestuur en gekommunikeer word in ooreenstemming met die bedryfsnorme en -praktyke.”

Intussen het Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, gesê daar was die naweek ʼn vergadering tussen die sakeredder en die departement. Die departement is nou in gesprek met die tesourie om geld vir SAL bymekaar te kry soos vroeër onderneem is.

Dit kom nadat finansierders R2 miljard as na-aanvangsfinansiering voorsien het om SAL in staat te stel om voort te gaan met sy bedrywighede, terwyl die regering, deur die nasionale tesourie, ʼn gelyke bedrag beloof het.

Volgens Gordhan wil die regering egter die patroon van reddingsboeie breek aangesien dit ʼn morele gevaar geword het.

“Die sakereddingsproses is ongekend op hierdie vlak en in die openbare sektor. Dit is ʼn beslissende stap wat wys dat die regering met vrymoedigheid die nodige stappe sal doen om sy bates op so ʼn manier te herposisioneer dat dit nie van die fiskus afhanklik is en belastingbetalers daardeur belas nie.”

Gordhan het gesê die regering gaan voort om met die sakereddingspraktisyn saam te werk met die primêre doel om ʼn herstruktureerde, moderne lugredery daar te stel wat miljoene meer toeriste kan meebring en ʼn baken van sake-innovasie en doeltreffendheid kan wees.

“Ons is vasbeslote om ʼn bydrae te lewer tot die sakereddingsproses sodat ons werkverliese kan minimaliseer en ʼn verjongde SAL kan oplewer waarop alle Suid-Afrikaners trots kan wees. Gesamentlike pogings is nodig om SAL ʼn voorste Afrika-lugdiens en Star Alliance-lid te maak.

“Die totstandkoming van ʼn volhoubare, mededingende en doeltreffende lugredery met ʼn strategiese ekwiteitsvennoot bly die doel van die regering met hierdie oefening.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Free Spirit ·

Ook gedink die gans wat die goue eiers le, die belastingbetaler, gaan nooit kla nie! Soos hulle ons mos vertel het, tel net die Rand op, dis mos maklik. Verstaan hulle nie dat die SAL BANKROT is nie?

Michael P ·

Enige Besigheid wat bankrot is maak sy deure toe dan nie Nou wat se gedeelte verstaan die Regering nie.

Nugter ·

Nie Ramaphosa, Eishhj.. Magashule of enige van hul laventeltrappers kan Suid Afrika meer red nie. Ons loop maar dieselfde pad as Zimbabwé. Die wat nie weet nie, Zimbabwé is ‘n gemors. Suid Afrika gaan net vinniger afdraend.

Kallie ·

Nou waarom sal arm mense nou trots wil wees op die SAA? Hulle vlieg ook nie.

CallieL ·

Bly hartverskeurend dat sekere bevolkings groepe glad nie die basiese beginsels om n besigheid te bedryf verstaan nie. Gedink hulle kan hul onbevoegde kaders, vrinne en familie net indruk. Glo mos daar is geld. Nou is alle resewes op, alle SOE’s is totaal bankrot. Hoe kon die wittes hulle tog so te nagekom het. Dit my vrinne, bewys weereens vir oud dr Verwoerd reg

Feite ·

Die ANC probeer hulle verflenterde beeld poets, maar druip die toets. Beleggers val lankal nie meer vir die ANC se lippetaal en dan teenoorgestelde dade nie, ook nie vir minimum werkverliese wanneer daar maksimum werkverliese veronderstel is om plaas te vind. Beleggers wat 964 werkers per vliegtuig se salarisse moet betaal in plaas van 127 werkers, kan beslis nie somme maak nie!

Ore ·

Hoeveel lande het ‘n eie lugdiens? Hierdie hele oefening is populisties en ‘n poging om die vakbonde tevrede te hou.Ons president moet nou sy voet neersit.Gans te veel base

Jannie van Niekerk ·

Ek kan nogsteeds nie verstaan waarom die regering so aan die SAL bly klou nie. Dit is dan ‘n onderneming wat deur die Apartheidregering begin is?

Arnold Green ·

Wees bang. Baie bang! Sê my as daar nou ‘n katastrofe móét wees…….gaan SAL kan naasbestaandes uitbetaal sonder assuransie?!?!?! Dis sulke goed wat Pan Am en Swiss Air gesink het, ten koste van BAIE ellende!

Ekke ·

Hoe gouer die SAL tot niet gaan hoe beter. Kanaliseer die werkers na ander beroepe en kry klaar.

Bert ·

Die persone wat nog steeds SAL kaartjies koop moet nie huil nie as hulle nie sal kan vlieg nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.