SAL-pryse vir repatriasievlugte onbekostigbaar

SAA-toonbank by Kaapstad- Internasionale Lughawe (14 November 2019) (Foto: Henk Kruger/African News Agency/ANA)

Die Demokratiese Alliansie (DA) gaan in ʼn brief aan die Mededingingskommissie versoek dat die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se repatriasievlugpryse onder die loep geneem word. Dit volg nadat die pryse van repatriasievlugte binne ʼn kwessie van ʼn week met meer as 100% toegeneem het.

Daarbenewens is verskeie buitelandse vlugte deur ander lugrederye die naweek verbied om in Suid-Afrika te land.

Volgens SAL se webwerf het die pryse van repatriasievlugte van Washington in Amerika na Johannesburg met 133,3% toegeneem. Vlugkaartjies se pryse het van R15 000 tot R35 000 in minder as ʼn week se tyd gestyg.

Maroela Media het ook klagtes ontvang van repatriasievlugte van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) wat omtrent oornag met R5 500 toegeneem het. ʼn Gestrande Suid-Afrikaner in Abu Dhabi, wat graag anoniem wil bly, sê hul repatriasievlug deur SAL van Dubai na Johannesburg, wat glo volgende week sal plaasvind, het van R15 000 tot R20 500 toegeneem.

Volgens dié Suid-Afrikaner het hulle direk by SAL navraag gedoen, waar daar aan hulle bevestig is dat hulle steeds die aanvanklike bedrag van R15 000 vir ʼn vlugkaartjie gaan betaal. Op SAL se webwerf word die kaartjieprys van Dubai na Johannesburg vir dié spesifieke dag egter as R20 500 aangedui.

Van die gestrandes het nie begroot vir nóg R5 500 nie. Die meeste van hulle trek finansieel swaar omdat hulle in die afgelope drie maande geen bron van inkomste gehad het nie. Party se geld en medikasie is ook reeds heeltemal uitgeput.

“In die lig van lugvaartowerhede wat vlugte van ander lugrederye die naweek verhoed het om te land, wil dit voorkom of SAL met dié prysstygings poog om die repatriasiemark te monopoliseer en sodoende ons mislukte nasionale lugdiens op te hef,” sê Ghaleb Cachalia, die DA se skaduminister van openbare ondernemings, en Mat Cuthbert, die DA se skaduminister van handel, nywerheid en ekonomiese ontwikkeling.

Cachalia en Cuthbert sê prima facie-bewyse dui daarop dat daar ʼn duidelike saak teen die SAL is. “Die DA verwag dat die Mededingingskommissie hierdie saak met die nodige omsigtigheid sal ondersoek,” sê Cachalia.

“Dit is net regverdig en konsekwent om staatsbeheerde entiteite oor dieselfde kam as privaat ondernemings te skeer as dit kom by die beskerming van Suid-Afrikaanse verbruikers teen uitbuiting ten tyde van die Covid-19-pandemie,” sê Cachalia.

Cachalia sê hulle wag in spanning vir die uitkoms van die ondersoek en vertrou dit sal op ʼn vinnige en oordeelkundige manier hanteer word om te verhoed dat Suid-Afrikaners weer toegang tot hul eie en ander lande weerhou word.

Intussen is meer as 1 000 Suid-Afrikaners steeds in lande in Asië gestrand. Prenisha Naicker, die HomeAwayFromHome- (HAFH-)verteenwoordiger van Asië, sê daar is tans ongeveer 400 Suid-Afrikaners in China, 200 in Pakistan en honderde altesaam in Viëtnam, Kambodja, Indië, die Filippyne, Maleisië, Korea, Japan, Indonesië, Singapoer, Laos en Bhoetan.

ʼn Groot groep Suid-Afrikaners van dié lande kon wel met Qatar Airways terugvlieg. Dit het hulle egter ʼn groot bedrag geld uit die sak gejaag. Van die Suid-Afrikaners wat steeds in die lande gestrand sit, kon nie die Qatar-vlugte bekostig nie.

“Die Suid-Afrikaners wat nou al so lank in vreemde lande gestrand is, is emosioneel, finansieel en fisiek gedreineer. Die HAFH-groep doen alles in sy vermoë om hierdie Suid-Afrikaners weer veilig by die huis te kry,” sê Naicker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Annelize ·

Ja, erens moet die SAL nou geld probeer maak, en watter makliker teiken is desperate en gestrande mense nie. Dis ‘n skreiende skande. Daar is ‘n hengse verskil tussen wins maak, en day light robbery.

marius ·

Brief ? Waarom nie ‘n protes optog met die nodige passie nie ?

Remlut ·

Verkla hulle dit is bedrog net soos die pryse van maskers.

Willem ·

Dischem word n groot boete opgele maar taxis en soe niks snaaks

Fedup ·

If the da can think just one step ahead this time.
Sue saa for this price hikings.
It is illegal in any country and language.
It is your right to drag them through their own little dried up pockets.
Please wake up.

Jaco ·

as ek in die buiteland was, sal ek nie na SA toe terugkeer nie, al is die vlugte ook verniet. Wie WIL nou terugkom na ‘n land met beurtkrag, swak of geen munisipale dienslewering, swak vuil staatshospitale, lae standaard onderwys, regstellende aksie ens ens ens. My lys kan einlik BAIE langer wees.

Nico ·

Ek sal nooit weer SAL se dienste gebruik nie, ek sou nou Duitsland toe gevlieg het, het R23000 vir ‘n dubbele retoer kaartjie betaal, sou met Lufthanse gevlieg het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.