SAL-raad, hoofde sê oor lugredery se toekoms

Vuyani Jarana, hoof van die SAL, het pas bedank. (Foto: @SA Gov News/Twitter)

Die raad van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), asook sy uitvoerende bestuurslede, sal Vrydag planne bekend maak oor die staatslugdiens se toekoms, veral in die lig van Vuyani Jarana se onlangse bedanking as hoof.

Die bestuur sê hy wil sekere kwessies opklaar en sy kliënte, die markte en aandeelhouers verseker van sy verbintenis tot die lugdiens se strategie en bedryfskontinuïteit.

Jarana het verlede week as groep- uitvoerende hoof van die SAL bedank. Hy het die lugdiens se groeiende skuldlas weens onsekerheid oor finansiering en ʼn gebrek aan regeringsteun vir die implementering van die redery se langtermyn-omkeerplan, as van die redes vir sy vertrek genoem.

Die SAL het in die boekjaar tot einde Maart 2017 ʼn verlies van R5,4 miljard gely en het nog nie weer amptelike finansiële state bekend gemaak nie. Die lugdiens se state vir die boekjaar tot Maart verlede jaar is ook agterstallig, hoewel hy aan die parlement gesê het sy verlies vir daardie boekjaar was R5,7 miljard.

In sy bedankingsbrief het Jarana gesê ʼn groot gedeelte van die R5 miljard-reddingsboei wat SAL in die 2018-’19-boekjaar van die regering gekry het, is gebruik om krediteure tot Maart verlede jaar te betaal. Dit het op die punt gekom waar die redery by drie geleenthede dit byna nie kon bekostig om selfs net salarisse te betaal nie.

“Die gebrek aan verbintenis om die SAL te finansier is stelselmatig besig om die implementering van die omkeerstrategie te ondermyn, wat dit al hoe moeiliker maak om te slaag,” het Jarana in sy bedankingsbrief gesê.

Hy het ook gesê hy moes die meeste van sy tyd afstaan aan kwessies van likiditeit en solvensie.

Die SAL-raad het Jarana se bedanking aanvaar en gesê hy was aan die voorpunt van die implementering van die langtermynstrategie om die lugredery weer finansieel en operasioneel volhoubaar te maak en dit in ʼn posisie te plaas om aan sy mandaat te voldoen.

Werkers wat lede is van die Vereniging van Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningslede het teruggekap en die SAL daarvan beskuldig dat hy Jarana se lewe vergal het. Hulle voer aan Jarana het, deur openhartig met hulle te praat, die steun van kajuitbemanningslede gekry oor sy planne om die redery weer op koers te kry en ʼn wins te toon.

Hulle dreig selfs om te staak as Jarana nie as hoof aanbly nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ben ·

As ‘n groot maatskappy se finansiële state agterstallig is daar groot fout. Dit dui gewoonlik aan op Korrupsie en onbevoegdheid van die personeel veral die Finansiele bestuur. Die feit dat die state agterstallig dui aan dat die Finansieel personeel en bestuur nie meer weet hoe om die korrupsie weg te steek nie. Ons het vandag rekenaar en finansiële stelsel wat help om hierdie take te doen so …… wat is hier aan die gang?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.