
(Argieffoto)
Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het Donderdag ten sterkste ontken dat sy tegniese afdeling (SAAT) nagemaakte onderdele gebruik wanneer vliegtuie van sy laekoste-redery Mango – of vliegtuie van enige ander redery wat hy bedien – versien word.
Die SAL se reaksie kom ná ʼn Sunday Times-berig oor ʼn ondersoek wat gedoen word nadat ʼn Boeing van Mango tydens ʼn vlug tussen Johannesburg en Kaapstad skielik begin duik het. Die Valke is ook besig om grootskaalse korrupsie en plundery by die SAL, aan wie Mango behoort, te ondersoek.
Luidens die berig is die skuld vir die voorval gepak op ʼn defektiewe onderdeel wat SAAT geïnstalleer het. “ʼn Voorlopige verslag deur die Burgerlugvaartowerheid (BLO) na verlede maand se Mango-voorval, plaas die kollig op ʼn defektiewe vervangingsmotor met ʼn versieningsrekord wat ‘nie met sekerheid nagespoor kon word nie’,” het Sunday Times berig.
Die koerant het berig niemand aan boord van die vlug is beseer nie en dit het veilig in Johannesburg geland.
Die SAL se raad het nou teruggekap en sê alle komponente en onderdele word van goedgekeurde verskaffers verkry en dat alle ondersteunende dokumente voldoen aan die BLO se vereistes.
“Die SAL wil bewerings in die media dat die redery erken het dat sogenaamde verdagte onderdele of komponente moontlik aan hom verskaf is, ten sterkste weerlê. Hoewel misdadige optrede nie uitgesluit kan word nie, is dit onwaar dat ʼn internasionale misdaadsindikaat die SAL of SAAT binnegedring het en dat [die sindikaat] verantwoordelik is vir tendermanipulasie en/of korrupsie daar nie.
“Daar is geen verband, direk of indirek, tussen die voorval wat tydens die Mango-vlug aangemeld is, en die kwessies wat tans by SAAT ondersoek word nie,” het die raad gesê.
Die SAL het gesê die onderdeel wat tydens die Mango-vlug probleme gegee het, is wettig verkry van die oorspronklike onderdelevervaardiger van Boeing 737-800-vliegtuie. SAAT het die onderdeel op 5 Augustus ontvang en dit is twee dae later geïnstalleer. Dit het na 96 vlugte en 125 vliegure die gees gegee.
“Ons wag vir terugvoer van die verskaffer, aan wie die onderdeel teruggestuur is sodat die oorsaak van die probleem vasgestel kan word. Mango en SAAT gee ook die nodige samewerking aan BLO in sy ondersoek.”
Die raad het gesê SAAT word deur die BLO geoudit, asook deur verskeie onafhanklike internasionale instellings.
“In my 20 jaar lange loopbaan by verskillende lugrederye, waaronder ses jaar in bestuur by Mango, het ek nog nooit gerugte gehoor of is ek bewus gemaak dat SAAT nagemaakte onderdele of onderdele wat nie nagespoor kan word nie, op Mango-vliegtuie gebruik nie,” het Juan Naude, Mango se vlugdirekteur, gesê.
Die raad het ook gesê om te verseker dat die SAL, SAAT en Mango aan alle bepalings voldoen, reik burgerlugvaartowerhede twee sertifikate vir elke vliegtuig in sy vloot uit. Die raad sê sy bedryfsertifikaat én lugwaardigheidsertifikaat is op datum.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
21 Kommentare
Hulle dink dit is n toyota quantum hulle gebruik tweede handse parte
Ek soek ‘n waar borg dat die vliegtuig nie SAL val nie! He-he-he!
Presies hoekom ek nie saa of mango vlieg nie !
Om ‘n bekende Suid-Afrikaner aan te haal: “He-he-he-he-he”. Sal nie verbaas wees as hierdie ouens ook ge-Gupta is nie.
Geen kans dat ek ooit binne een van SAL se vliegtuie sal wees nie. Dat een nog nie neergestort het nie is slegs genade