SAL-sakeredders daag nie by Skoor op

Die sakereddingspraktisyns het nie Dinsdag voor Skoor verskyn nie. (Argieffoto: Michele Spatari/AFP)

Die sakereddingspraktisyns wat aangestel is om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) op sy voete te help kry, het Dinsdag versuim om voor die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) te verskyn.

Siviwe Dongwana, een van die twee sakereddingspraktisyns, het in ʼn brief aan die komitee gesê Les Matuson het ʼn sterfte in die familie gehad en die sakereddingspraktisyns kan dus nie die vergadering bywoon nie omdat hulle nie hul voorlegging aan Skoor kon afhandel nie.

“Hoewel dit heeltemal verstaanbaar is dat Matuson weens die verlies in sy familie nie teenwoordig kon wees nie, is ons dronkgeslaan oor Dongwana en die ander uitvoerende hoofde van die SAL se afwesigheid,” sê Alf Lees, ʼn DA-lid van Skoor.

Lees sê twee sakereddingspraktisyns is aangestel en 18 maande het nou verloop sonder enige teken van ʼn “redding”.

“Daar is absoluut geen rede waarom die sakereddingspraktisyn wat nie deur die sterfte geraak is nie, nie voor Skoor kon verskyn nie.”

Hy sê Dongwana se afwesigheid is veral ergerlik omdat die sakeredders tot dusver al sowat R300 miljoen vir hul dienste betaal is en nog nie enige redding van die redery bewerkstellig het nie.

“Nie net het hulle groot geld van die belastingbetaler gevat sonder om enige redding by die SAL te bewerkstellig nie, hulle stel nou ook voor dat een van hulle – Dongwana – en sy sakevennoot, Bongani Nkasana, as sogenaamde ontvangers vir die SAL aangewys word.”

Lees sê dit is oënskynlik om hul selfverryking voort te sit deur die miljarde rande in reddingsboeie, wat sowat R32 miljard beloop, uit te deel.

Hy sê miljoene Suid-Afrikaners is werkloos en op die rand van hongersnood weens die ANC se irrasionele inperking van die ekonomie. Hy sê hierdie mense kan gehelp word deur die miljarde rande wat bestee word om die SAL aan die gang, maar heeltemal onproduktief, te hou.

Lees sê minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, asook die sakeredders, moet wanneer hulle binnekort weer voor Skoor verskyn, onder andere verduidelik watter verdere reddingsboeie aan die SAL gegee gaan word en wanneer dié betalings gestaak gaan word.

Die DA wil ook weet hoeveel Dongwana en Matuson en hul verwante sakeondernemings al in die geheel vir die sakereddingsproses betaal is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Marita ·

Dit raak nou n afgesaagde storie en landsburgers word by die sekondes armer en korrupte ministers en venotte word ryker en ryker.

Thelsa ·

Hulle is nie stupid nie. Hoe langer hulle die proeses uitrek hoe meer kan hulle die ‘konsultasiefooi’ rek

Alet ·

Ja ne. Wys jou net soos ou Mietie sou sê. BEE en SEB en allerhande sulke beginsels en dan wonder almal hoekom de Ruyter swart besigheded by Eskom wil uitkry.

Blikkies ·

Met al daai miljoene rande wat die konsultasie maatskappy betaal is kon Pravin maar self die SAL se sakerreding suksesvol afgehandel het. Hoe lank vat dit om die taak af te handel, as ons hoor kry die sakeredders nog geld, en nog geld en so gaan dit aan. Wat doen hulle nou eintlik?

Dup ·

Daar sal een van die dae ook sakereddings praktisyns vir SA aangestel moet word.Die tenders sal eersdaags binne regerings en kader kringe aangevra word.

Stefan ·

Natuurlik het hulle versuim om op te daag.
Hulle was te besig om die vet rekeninge op te stel.

Johan ·

Ek voorspel dat ons die begrafnis van die Lugdiens net uitstel…ou verrotte vliegtuie,geen bekwame vliëniers,gèèn passasiers,geen bekwame tegniese onderhoud nie,zero vertroue!

Sarel ·

Die Regering het hulle aangedtel en moet antwoord.
Nou seker lznd uit. Lankal vrae gevra oor die spul masr nou ja nog ouens wat net geskep het. Pravin Goddon waar is jou mens
Skoor moet tande kty om mense te dagvaar en disdiplinere stappe te nedm

Ria ·

Dit sal net stop as daar ernstiger opgetree word teen hulle. Hulle het geen rede om bang te wees vir gevolge nie. Is dit nie skokkend nie

quartus ·

Maar Pravin het die SAL mos reeds ” gered ” Wat moet nou verder gebeur ?

Sarel ·

Geen respek vir die wet nie dn weet dat Skoor nie die mag het om.op te tree nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.