SAL: Sakeredders gaan appelleer teen besluit oor afleggings

(Foto: Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakereddingspraktisyns gaan appelleer teen ʼn suksesvolle hofaansoek van die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse kajuitbemanningsvereniging (Sacca) om die afleggingsproses by die SAL te stuit.

ʼn Woordvoerder vir Les Matuson en Siviwe Dongwana het bevestig dat hulle teen die arbeidshof se beslissing gaan appelleer. Dit is nie duidelik op grond waarvan hulle die uitspraak gaan betwis nie.

Die toutrekkery oor die toekoms van die sukkelende staatsredery duur nou al maande lank.

Die sakeredders het verlede maand aangedui die SAL kan ná April nie meer werkers se salarisse betaal nie en skeidingspakkette is aan werkers aangebied. Hulle het ook gesê alle bedrywighede by die redery moet die afgelope Vrydag gestaak word. Die SAL het daarna egter gesê hy gaan voort met sy vrag- en repatriasievlugte.

Numsa en Sacca het in die hof aangevoer die sakereddingspraktisyns het tot dusver geen reddingsplan voorgelê nie en dat hulle nooit in die belang van werkers opgetree of hulle in samespreking oor die toekoms van die redery betrek nie.

Die sakeredders het tot dusver nagenoeg R5,5 miljard by die staat gekry om met ʼn sinvolle oplossing vir die SAL vorendag te kom. Daar is nou al hoe meer vrae oor hoe dié geld bestee is.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het verlede week gesê alles moontlik word gedoen om die SAL as ʼn lewensvatbare redery met private vennote en minimale staatsfinansiering te bedryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Burgermeester ·

Ek sal baie graag die sakereddingspraktisyns se kant van die storie wil lees. Ek dink hulle is om elke hoek en draai verhinder om hulle werk te verrig, en daarom kon hulle tot nou toe nie ‘n volhoubare reddingsplan voorlê nie. Ek was onder die indruk dat sakereddingspraktisyns onafhanklik moet optree, maar duidelik het die regering en die vakbonde hulle neus weereens in gedruk waar dit nie hoort nie.

Deon ·

Begrawe tog nou net asseblief hierdie dooie perd… Of gee alles net soos dit is vir die unies en wie ookal hierdie mense verhinder sodat hlle dan nou maar die arme mense se werke kan red, gee die hele redery vir hulle dat hulle dit as n besigheid bedryf, hulle weet mos nou beter as die geleerdes.. Laat ons sien of hulle die Mas sal opkom.

Sobymykoolkop ·

Appél is LEKKER en MAKLIK as jy nie daarvoor betaal nie. Solank die belastingbetaler betaal maak ons die regslui nog ryker. Sodra hulle self betaal sal daar min sake op appél geneem word. Laat die sakeredders betaal met fie miljoene wat hulle ” verdien” met belastinggeld.

Aai ·

Laat hulle werk dan kyk ons wat gebeur as hulle nie salaris kry want daar is nie.

Willem ·

Ek vermoed die sakeredders is nog heeltyd op die regte pad maar die unies

Adam ·

Wat ‘n lagwekkende beslissing. Nie eens ‘n towenaar sal SAA op die regte pad kry nie. Sluit toe en kry klaar. Ons is hopeloos te lank op die pad na ekonomiese selfmoord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.