SAL: Sakeredders moet verduidelik

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Die DA sê hy het groot respek vir en simpatie met werkers by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) wat nou deur ʼn bitter onseker toekoms in die gesig gestaar word. Elke moontlike poging moet aangewend word om ʼn billike skeidingspakket vir hulle te beding.

Maroela Media het vroeër berig werkers by die sukkelende lugdiens het nou tot Vrydag kans om die voorgestelde afleggingsooreenkomste te onderteken.

Die besluit kom nadat die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, Saterdag ʼn hoëvlakvergadering tussen die regering, vakbondverteenwoordigers en ander werkersverteenwoordigers gelei het om die status van die sakereddingsproses te bespreek.

Die departement en vakbonde het ooreengekom op ʼn gedeelde visie van ʼn “nasionale bate wat internasionaal mededingend, lewensvatbaar, volhoubaar en winsgewend is”.

“Die leierskap is deeglik bewus watter uitdaging dit is, maar is onomwonde verbind daartoe om die SAL te red,” het die departement ná die vergadering gesê.

Alf Lees, ʼn DA-lid van die parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge, het Sondag gesê dit is tyd dat die minister hom aan die proses onttrek en die sakereddingspraktisyns – Les Matuson en Siviwe Dongwana – toelaat om hul werk te doen.

“Oor ʼn tydperk van vyf maande het hulle herhaaldelik die bekendstelling van ʼn sakereddingsplan vertraag en dit lyk of nog R5,5 miljard in belastinggeld daarmee heen is,” het Lees gesê.

“Die geld wat aan die sakeredders en konsultante betaal is, beloop luidens berigte gemiddeld R60 miljoen per maand. Ons wag nog vir ʼn antwoord op ʼn parlementêre vraag aan die minister oor of dié inligting korrek is.”

Hy sê tensy daar private beleggers aan die deur klop, is die likwidasie van die SAL onvermydelik. Uitstel deur die sakeredders gaan net die koste van die proses verder opjaag.

“Enige poging wat aanhou geld mors op ʼn wanfunksionele instelling soos die SAL is verraad aan alle Suid-Afrikaners wat met hoë werkloosheidsvlakke en ʼn wankelende ekonomie sit.”

Die DA sê hy win ʼn regsmening in oor watter stappe gedoen kan word om te verseker dat Matuson en Dongwana verantwoordelik gehou en gedwing kan word om tersaaklike bepalings in die Maatskappywet te volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Danie ·

Ek stem saam dat daar n gewldige stank is. Daar is al klaar bewerings van n nuwe lugredery en waar kom die gelde vandaan. Is hierdie nie net n front om van al die wittes ontslae te raak.

Manie ·

Die bedrae verklaar die versoeke vir uitstel. Die sg sakeredders behoort vervolg te word.

Eerlik ·

Klink soos opsetlikke uitstel….hoe langer dit vertraag word hoe meer geld in die sakke!!!

Danie ·

Ag asseblief tog. Hier gaan ons alweer. Die SAL se beplande aflegging is natuurlik teleurstellend vanuit beide werkverskaffing oogpunt en nasionale trots. Die skrif is egter lank reeds aan die muur en dit is ons regering se skuld in wese, wat toegelaat het dat die SAL homself bestuur asof dit ‘n staatsdepartement is, in stede van ‘n besigheid.
Geensins verbaas dat die DA weereens sy seile na die wind gooi en skielik vir die paweljoene skree nie. Hulle voel seker maar gesamentlik verantwoordelik vir die faling van die SAL en dekades se verkwisting van staatsgeld nê?
Van die minister praat ek nie eens nie, mens sou verwag het dat hy ten minste in staat sal wees tot nugtere denke, maar nee, syfers en verliese maak seker sin vir hom.
Die skeidingspaket wat vir SAL werknemers aangebied is, is heeltemal wettig en meer as redelik. Hulle probeer net verder geld suig in eie belang en kla met die witbrood onder die arm.
Maak toe die spulletjie, die redding sage het reeds te lank geduur.

Oujongvrou ·

Ek kan nie glo wat ek soms lees nie. Mnr pravin moet ook nou maar gaan. Hoe op dees aarde regverdig R60 miljoen n maand om n bankrot spul te red. Maak toe. Groot asb tog maak toe.

Kobus ·

Die antwoord is: Die sakeredders kon nie hulle mandaat uitvoer nie want die ANC was meer betrokke om aansien te beskerm en om hierdie instansie te red.Mnr Gordhan,ek is seker u het belangriker werk om te doen as om voortdurend in te meng

Adam Adriaan ·

Los die regering. Hulle is baie slim, maar “Slim gaan nog sy baas vang”, sê die spreekwoord. Die ander spreek woord sê “Honger is die beste kok”. Die mense sal nog praat. Hulle is nog net nie honger genoeg op hierdie staduim nie.

Paul ·

Om die minste te sê; Gordhan is onbevoeg en onbekwaam. Tydens sy termyn as minister van finansies is die land se finansies oor die afgrond in bestuur.

Sarel ·

Akeredders….klink van die begin af meer na ” Begrafnis” o dernemers. My simpatie aan die werkers van iemand wat met ” Dienspaket” moes uittree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.