SAL-sakeredders vergader vir die eerste keer

SAL-SAA-Airbus-A330-243

Drie van SAL se Airbus A330-243 vliegtuie staan by Heathrow-lughawe in Engeland in 2012. Foto: Alex Beltyukov/RuSpotters Team/Commons.wikimedia.org

Die sakereddingspraktisyns van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het Vrydag vir die eerste keer vergader.

Die beleërde lugdiens se krediteure het bepaal dat daar ʼn redelike vooruitsig is dat ʼn suksesvolle ondernemingsredding uitgevoer kan word.

Die doel van die vergadering, wat deur sakeredders Les Matuson en Siviwe Dongwana belê is, was om die krediteurskomitee aan te stel en geldige eise van krediteure te ontvang.

“Ons doelwit is om SAL te red deur óf die bedrywighede, onderneming, eiendom, skuld en ander laste en ekwiteit te herstruktureer, óf ʼn plan te ontwikkel wat ʼn beter opbrengs sal lewer vir die maatskappy se krediteure of aandeelhouers eerder as om die SAL onmiddellik te likwideer,” het Matuson gesê.

Hy het gesê ondernemingsredders in Suid-Afrika volg gewoonlik die tweede opsie.

“Die gesamentlike sakereddingspraktisyns is van mening dat daar ʼn redelike vooruitsig is tot ʼn suksesvolle ondernemingsredding, ondanks die onafwendbare risiko’s en uitdagings.”

Hy het gesê hulle is van mening dat die ondernemingsredding “ʼn beter uitslag sal oplewer vir alle aandeelhouers, in teenstelling met ʼn onmiddellike likwidasie”.

Een van die redes is dat die SAL meeste van sy vliegtuie huur, en het gevolglik beperkte bates wat verkoop of herverdeel kan word aan sy krediteure.

Matuson en Dongwana het gesê hulle het versoek dat die sperdatum van 13 Januarie uitgestel moet word om die sakereddingsplan te publiseer om hulle kans te bied om hul voorkeur scenario met alle belanghebbendes te kommunikeer.

Matuson het tydens die vergadering versoek dat die sperdatum tot minstens 28 Februarie 2020 uitgestel word om die plan te publiseer, maar hulle het onderneem om dit so vinnig as moontlik bekend te maak.

Die sakereddingspan is twee weke gelede aangestel ná ʼn staking die SAL se verliese verhoog het. Die lugdiens het die afgelope 13 jaar sowat R28 miljard verloor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.