SAL-sakereddingsplan ‘waansinnig’

(Foto: Facebook)

Die vakbond Solidariteit sê hy het met misnoeë kennis geneem van die besluit om die beleërde Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakereddingsplan te aanvaar. SAL se krediteure het Dinsdag ten gunste van die plan gestem, ʼn uitslag wat die departement van openbare ondernemings verwelkom het.

“Die aanvaarde sakereddingsplan takel geen van die kernprobleme nie. Die plan beteken onafwendbaar dat die belastingbetaler, weens die trots en ydelheid van die regering, nog jare lank gekonfronteer gaan word met reddingsboeie aan die sukkelende lugredery,” het Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut, gesê.

“Die sakeredders, krediteure en die departement van openbare ondernemings het as’t ware ’n pleister geplak op ’n pasiënt wat opehartchirurgie benodig – ons gaan binnekort weer in dieselfde situasie wees.”

Die regering het onderneem om teen Woensdag [vandag] waarborge vir die finansiering van die staatslugdiens se omkeerplan te verskaf. Een van die voorwaardes vir dié plan is regeringsfinansiering asook bykomende geld vir die daaglikse uitgawes en om SAL se status as lopende saak te waarborg.

Die bedrag beloop meer as R26 miljard en sluit ook die geld in om te betaal vir die vrywillige skeidingspakkette wat aan werkers aangebied is.

Solidariteit sê die aanvaarding van die plan was ʼn roekelose besluit en vrae moet gevra word oor ʼn staat wat belastinggeld gebruik om ʼn onnodige staatsonderneming te red terwyl die land se ekonomie en gesondheidsorgstelsel in duie stort. “Die regering gaan omtrent ewe veel geld aan SAL se omdraaiproses proses bestee as wat tot op hede bestee is aan hulp vir alle Suid-Afrikaanse burgers wat tydelik hul werk verloor het. Dit is tog waansinnig,” het Mulder gesê.

Die departement het vroeër gesê daar is belangstelling van private beleggers om by die redery betrokke te raak, maar volgens Mulder is dit duidelik dat die regering volle beheer en besit van die redery wil behou. Hy sê waar SAL in November dalk nog gered kon word, het die Covid-19-pandemie dit verander en benodig die hele lugvaartbedryf hulp.

“Stel jou voor jy is Comair of FlySafair en die regering kondig aan dat hy jou belastinggeld gaan gebruik om R30 miljard vir jou mededinger te gee terwyl dié al vir ’n dekade lank insolvent en roekeloos handel dryf en jou boonop geld skuld. Dit benewens die feit dat jy weens regeringsregulasies verbied word om self inkomste te genereer,” het Mulder gesê.

Die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging (Sacca) het gesê hoewel hulle nie heeltemal tevrede met die sakereddingsplan is nie, hulle verlig is dat die uitgerekte proses nou tot ʼn punt kom.

Die vakbonde het in ʼn gesamentlike verklaring gesê hulle het hard probeer om die likwidasie van die redery te keer en om SAL “wat so ʼn belangrike rol in die lugvaart- en toerismebedryf speel van algehele ineenstorting te red”.

Volgens die vakbonde moet daar nou ontslae geraak word van die bestuurslede en uitvoerende hoofde wat “verantwoordelik” was vir die SAL se ondergang. “Ons het kennis geneem dat Philip Saunders as tussentydse uitvoerende hoof van die redery aangestel is. Hy is tans die hoof- kommersiële beampte by die SAL en ʼn lid van die huidige uitvoerende bestuur. Hy is deel van dieselfde rampspoedige bestuurspan wat die redery tot op die rand van die afgrond gedryf het.”

Die vakbonde sê hulle herhaal hul eis dat diegene wat nou in bestuursposte of as raadslede aangestel word, geen vorige verbintenis met die SAL mag hê nie.

Hulle voer aan Saunders het nie genoeg ervaring van ʼn redery van die SAL se grootte nie en dat hierdie gebrekkige ervaring die lugdiens in die steek gaan laat. Die vakbonde sê daar moet begin word met ʼn deursigtige proses om ʼn nuwe hoof, bestuurslede en raad aan te stel.

Hulle eis ook verteenwoordiging op die raad.

“Minstens 2 600 werkers kan hul poste kwyt wees om plek te maak vir ʼn hervormde redery. Dit is veroorsaak deur jare van doelbewuste en sistemiese wanbestuur en korrupsie en nie die huidige raad, die uitvoerende bestuur, of selfs die departement as aandeelhouer het ʼn vinger gelig om die verrotting te stuit nie.

“Pleks daarvan is werkers die spreekwoordelike lam ter slagting wat geoffer word om die mislukkings weg te steek. Hulle is diegene wat altyd die spit van swak leierskap afbyt. Dit moet verander en kan net gebeur as vakbonde ʼn stem op die raad het om die belange van alle aandeelhouers te beskerm en goeie bestuur te waarborg.”

Numsa en Sacca sê die SAL is al verskeie kere tevore geherstruktureer. Elke keer is werkers in die pad gesteek, terwyl diegene in topposte geen gevolge gedra nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Bernard ·

Huidige en uitgetrede ANC politici wil aanhou gratis vlieg. “We demand” gevolg deur “and you will pay.”

Elmarie ·

Daar is nie geld vir armoedsverligtng, skole, paaie, hospitale en, en, en maar hul neuk voort met “reddingsplanne” vir die dooie donkie

Andre ·

Meskien moet die regering eers bietjie somme maak kyk of sy “verwagting ” van toekomstige belasting gaan verewesenlik.Daar is reeds een derde van die belastingbetaler weg as gevolg van werksverliese ens ens.Die koeitjie wat hulle wil tap is leeg en gaan net druppels gee.

Nie Verbaas ·

Regering kan nie eers getalle uitspreek nie, wat nog van somme maak?

Peetjie ·

Waar dink die regering gaan al die miljoene en miljarde waarvan hulle praat en so maklik uitdeel vandaan kom…. Ons land is in die ergste resessie, so baie groot besighede sluit, mense dit sonder werk, inkomste en kos, en al wat hulle doen is net uitdeel… Erens moet iemand n Groot Klok gaan lui dat hulle kan wakker word. En China se geld is nie verniet nie, hulle gaan net eenvoudig oorvat vir alles wat die land al skuld

Pieter ·

“Waansinnig” is nogal ‘n raak beskrywing vir anc. Wat ek eintlik van hulle wil sê sal my in die tronk laat beland.

Anel ·

Die geld gaan seker uit ons pensioenfonds kom? Persoon aan stuur mag nie vorige verbinding met redery hê nie. Nou vertel vir my hoe moet iemand wat geen idee het van hoe dit werk nie dit moet beheer? Seker net sodat daar gesê kan word dat hy niks verkeerd gefoen het nie. En wie gaan nou hulle lewe waag om saam te vlieg?

Jakes ·

Dit is al lankal voor die hand liggend dat die regering alles sal doen om stemme te koop vir volgende jaar se munisipale verkiesing.

Jacobus ·

As sal nie meer daar is nie met watse lugredery gaan die regering en hulle families en hulle vriende verniet vlieg

Jacobus ·

As sal nie meer bestaan nie waarmee gaan die regering en hulle families en vriende asook die groot koppe van die unies verniet vlieg dit meen sal nooit n wins kan wys nie

Hennie J ·

MARK MY WORDS : Almal wat affirmative action, bee, employment equity en ander belaglike kader aanstellings was en nou skeidingspakette gaan kry, sal die pakette kry en dan weer by die nuwe lugdiens in diens gestel word.’ Our people’ kan nie deur ons eie slegtigheid benadeel word nie!

Pampoen ·

Miskien moet ons die SAL laat likwideer en eerder Suid-Afrika in sakeredding plaas.

LANA is ELANè ·

Ek is danksy hierdie wêreld, blonde, en hoef dus nie sin te probeer maak uit sulke uitspattighede vd regering se kant af nie. Maar… ek is ‘n erg omgekrapte belastingbetaler wat wil rebeleer teen enige vorm van belasting, soos dit huidiglik daarna uitsien❗

Jurg ·

Los ons pensioen fondse uit genoeg is genoeg of het die sg president genoeg geld in sy eie sak om daarvoor te betaal. Ek het net 3.5% verhoging op my pensioen gekry en dit is nie eers geld werd om rol toiletpapier te koop na al die eskom en mislikepaliteit verhogings nie. Dit is absoluut korrupsie op sy beste

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.