SAL: Sakeredding enigste opsie – Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa.

Die regering het geen ander keuse gehad as om die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) in ondernemingsredding te plaas nie. Só sê pres. Cyril Ramaphosa in sy jongste nuusbrief.

“Suid-Afrika se staatsbeheerde entiteite is steeds van baie waarde en ons sal dit nie laat ondergaan nie. Al beteken dit dan dat ons drastiese stappe moet doen, soos om SAL in ondernemingsredding te plaas.

“Ons land het verskeie staatsbeheerde entiteite en, ondanks erge finansiële en operasionele probleme én ʼn swaar skuldlas, beskik hierdie maatskappye oor ʼn groot, diverse aantal vaardige werknemers en enorme kapasiteit. Hulle beskik dus oor die potensiaal om by te dra tot die groei van ons ekonomie en werkskepping,” sê Ramaphosa.

Daarom, sê die president, kan Suid-Afrika dit nie bekostig dat enige van hierdie entiteite ondergaan nie. Alle moontlike stappe, selfs drastiese stappe, moet gedoen word om hierdie maatskappye gesond te hou.

“Dit is waarom ons verlede week die besluit ondersteun het om die Suid-Afrikaanse Lugdiens in ondernemingsredding te plaas. Daar was geen ander werkbare oplossing om ʼn toekoms vir die lugdiens te verseker nie, aangesien die finansiële krisis van die lugredery onuithoudbaar geword het.”

Ramaphosa het Suid-Afrikaners egter verseker dat die SAL sal voortgaan om te funksioneer tydens die herstruktureringsproses, met behulp van die regering, bestuurders en finansierder.

Die president sê ondernemingsredding is nie noodwendig die voorkeurmetode om staatsbeheerde entiteite reg te ruk nie, maar dit wys dat die regering vasbeslote is om alles moontlik te doen om staatsentiteite, waaronder Eskom, Denel en Prasa, reg te ruk.

Ramaphosa sê sy regering het reeds groot vordering gemaak in dié verband sedert hy in Februarie verlede jaar as president oorgeneem het. “Nuwe rade is aangestel en uitvoerende hoofde met die nodige kennis en ervaring is aan die stuur van maatskappye geplaas.”

Ramaphosa sê dit was veral ʼn uitdaging om die korrupsie hok te slaan wat ʼn aantal entiteite op hul knieë gedwing het. “Verskeie individue is reeds aangekla en in sommige gevalle is van die gesteelde geld teruggewin. Dié werk moet voortgesit word totdat alle korrupte aktiwiteite blootgelê is en skuldiges vir hul dade verantwoordelik gehou word,” sê Ramaphosa.

Nóg ʼn belangrike ingryping is om te verseker dat staatsbeheerde entiteite onafhanklik van herhaaldelike finansiële reddingsboeie deur die staat sal funksioneer. “Daarom werk hierdie maatskappye hard om hul wins op te stoot, uitgawes te verminder en vermorsing van geld te beperk. Ons wil dit graag duidelik maak dat die regering in beheer sal bly van alle entiteite wat strategies is, sodat hierdie entiteite die noodsaaklike bydrae kan lewer tot ekonomiese ontwikkeling,” sê Ramaphosa.

Hy het wel die versekering gegee dat maatskappyrade en die bestuur van dié entiteite die vryheid gegun sal word om hul werk te doen sonder onnodige politieke inmenging.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Agge Nee ·

Sakredding? Opskrif? Nuwe woord om jou persoonlike finansies te red. Is dit nie sakeredding nie?

Morrie ·

Agge Nee, ek dink ek moet myself in Sakredding plaas. Ek voel ek is ook van baie waarde vir SA en dus is dit noodsaaklik om myself te beskerm en drastiese stappe te neem soos om myself in sakredding te plaas. LOL

Niklaas ·

Kan dieselfde nie nou met Eskom ook gereel word nie ? Ons staar groot (en letterlik donker) tye in die gesig.

wraggies ·

Die hele SA is klaar in sakeredding, dis net die ANC wat dit nie weet nie.

Dries ·

R2 Miljard om weer SAL ‘te red’, maar oa. net R30 miljoen vir boere wat sorg dat ons kos het…

Ja swaer ·

Hoe gouer ‘n likwidasie proses begin hoe beter. Maar mnr Mutason moet darem seker ook sy pond vleis kry

Johan Maritz ·

SAL moet gered word want daar is nie waardevolle werknemers nie maar wel ANC kiesers watse lojaliteit behou moet word.

Francois ·

Hoekom nou eers na etlike Biljoenne Rande tot die besef kom. Bonusse, onproduktiewe en oorweldige sogenaamde werkerskorps indiens neem. Raak ontslae van die spaarwiele, anders privaatiseer.

Alex ·

So baie teenstrydighede in sy nuusbriefie. Dit is duidelik dat hy ook nie meer weet watter kant toe nie. Foeitog!

HPV ·

Sakeredding is beslis nie die enigste opsie nie, ‘n ander beter opsie is sluit dit en haal dit sodoende van die belastingbetaler af.

André-Chris ·

So het Ramaphosa nou ‘n nuwe woord geleer. En die werklikheid het na twee jaar tot hom deurgedring.

André-Chris ·

O ja, en ek dog die sakeredder gaan in beheer van die SAL wees, nou sien ek Cyril beduie die regering , bestuurders en finansierder gaan help. En die finansierder is?

Ander Koos ·

President hou van mooi praatjies maak en probeer terselfdertyd om die” krediet” wat Solidariteit toekom te “kaap”. “Shame on you” Mnr. Die President en jou anc regering, gelukkig is die waarheid bekend

Pietpompies ·

Op die stadium is geen van die staatsbelange of entiteite bydraende tot die groei van die ekonomie nie. Dit is maklik om ‘n klomp ding wat vir jou geskryf is af te lees, maar dit is gekigheid om dit wat jy gelees het te glo en dink daar is 50 miljoen dom mense in Suid Afrika.
Die ANC en sy affiliate is die enigste party wat nog nie weet dat Suid Afrika en sy staatsbelange reeds onder sakeredding is nie. ????

Kobus ·

So sal die herstel van die SAL nie suksesvol wees nie. Die Parlement is die oorsaak van alles en dit sal steeds BEE wil toepas .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.