SAL se herstrukturering gefinaliseer

(Foto: Maroela Media)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gaan nié gelikwideer word nie en die regering gaan die geld beskikbaar stel om die herstrukturering van die nasionale lugredery af te handel.

Sam Mkokeli, woordvoerder van die departement van openbare ondernemings, het Vrydag gesê ʼn aankondiging daaroor sal in die wetsontwerp oor aanpassings en toewysings, wat binnekort aan die parlement voorgelê word, gedoen word.

Volgens Mkokeli gaan die herstruktureringsproses binne die volgende paar weke afgehandel word. Leningsinstellings gaan gevra word om dié proses te finansier en die vrywillige skeidingspakkette en afleggings wat aangebied is, te eerbiedig. Die departement gaan terselfdertyd die aanbiedinge wat finansiers uit die private sektor, private ekwiteitsbeleggers en vennote gemaak het, oorweeg vir ʼn toekomstige, herstruktureerde lugdiens.

“Die departement het simpatie met die SAL-werkers terwyl hy voortgaan om saam met ander staatsdepartemente, waaronder die nasionale tesourie, te werk om te verseker dat die redery se herstruktureringsplan suksesvol in werking gestel word,” het Mkokeli gesê.

“Die departement glo op die pad vorentoe is die sleutel tot die oplossing van probleme by die SAL, die afhandeling en inwerkingstelling van die sakereddingsproses, gevolg deur die aanvang van ʼn herstruktureerde lugdiens, die aanstel van nuwe nie-uitvoerende direkteure en ʼn leierskapspan, asook die vasmaak van ʼn geloofwaardige, strategiese ekwiteitsvennoot wat die nodige tegniese, finansiële en bedryfsvaardigede kan bring.”

Alf Lees, ʼn DA-lid van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), het Vrydag gesê die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, en die sakereddingspraktisyns het die land mislei oor nog ʼn reddingsboei vir die SAL. Lees sê dit is waarskynlik hoekom Les Matuson en Siviwe Dongwana, die sakeredders, weier om ʼn brief van die nasionale tesourie oor die kwessie bekend te maak.

Lees sê volgens die DA se inligting het die minister van finansies, Tito Mboweni, en die nasionale tesourie nie ingestem tot ʼn regeringsreddingsboei vir die SAL nie en dat dit ook nie in die nabye toekoms gedoen gaan word nie.

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

“Gordhan plaas oënskynlik druk op pres. Cyril Ramaphosa en die kabinet om Mboweni opdrag te gee om ʼn reddingsboei aan die SAL te gee – indien nie dadelik nie, dan in die mediumtermynbegrotingstoespraak se aanpassingsbegroting in Oktober vanjaar,” het Lees gesê.

Die DA sê hy verstaan dat die nasionale tesourie weier om bes te gee oor die kwessie en dat die sakeredders oneerlik was deur voor te gee dat die brief van die nasionale tesourie ʼn onderneming gegee het dat finansiering dadelik beskikbaar gestel gaan word.

Lees het gesê as Gordhan en die sakereddingspraktisyns van dié siening verskil, kan hulle die brief wat die nasionale tesourie vanoggend daaroor uitgestuur het, bekend maak sodat alle Suid-Afrikaners, en SAL-werkers in die besonder, kan bepaal wat die ware stand van sake met ʼn reddingsboei vir die redery is.

“Dit blyk dat die sakeredders besluit het om saam met Gordhan te werk om die regering gyselaar te hou om nog ʼn reddingsboei beskikbaar te stel aan die dooie eend wat die SAL is,” het Lees gesê.

Konsultasies vir die mediumtermynbegrotingsraamwerk het reeds begin en Lees sê Gordhan en die departement van openbare ondernemings probeer sonder twyfel druk op die nasionale tesourie uitoefen om te verseker die reddingsboei van R10,4 miljard word daarby ingesluit.

Die DA sê hy gaan voort om enige verdere reddingsboei aan die SAL teen te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gawie ·

Besef hulle nie, jy kan nie lewe in ‘n dooie donkie in skop nie!

Peetjie ·

Bly maar geld in die water – of is dit in die lug – gooi…
Daar is geen manier, behalwe met ‘n ordentlike bestuurspan om die sinkende skip te red nie

JohanR ·

Reddings booi – een of ander manier sal dit belastingbetalers se geld wees. Engels – by hook or by crook! ANC ken nie hook nie, net crook!

Nie Verbaas ·

Gordhan, en wat gebeur oor n jaar? Nog geld, en nog, en nog? Begrawe die dooie donkie.

Persheks Adri ·

Hoeveel geld wil julle nog mors? Dis ‘n gemors en mors van ons geld. Skryf dit af en kry klaar gebruik ander lugdiens. Hoe moeilik is dit om te verstaan?

4ntj13 ·

Ai! Lyk my die ANC sukkel nou met SAL omdat die Lugmag polities te moeilik was om te misbruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.