SAL se konsortiumvennoot: Meer vrae as antwoorde

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die Demokratiese Alliansie sê die nuwe strategiese ekwiteitsvennoot vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) kan dalk te min te laat wees vir die bankrot lugdiens en daar is talle vrae oor die ooreenkoms.

Maroela Media het vroeër berig die regering het sy meerderheidsaandeel in die SAL laat vaar en Vrydag ʼn nuwe ekwiteitsvennoot bekend gemaak om die lugdiens weer operasioneel te kry. Die aankondiging is as geskiedkundig bestempel en kom 19 maande nadat die sukkelende redery in sakeredding geplaas is.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het gesê die Takatso-konsortium sal voortaan ʼn 51%-aandeel in die SAL hê, terwyl die regering 49% behou.

Die konsortium bestaan uit Harith, een van die grootste beleggers in Afrika-infrastruktuur met sterk bande met die ANC en die OBK, en Global Airways, ʼn bestaande Suid-Afrikaanse redery, en sal in Suid-Afrika gesetel wees. Harith besit onder meer die Lanseria-lughawe.

Alf Lees, DA-lid van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), sê die eerste rede tot kommer is die raad van Harith General Partners se voorsitter, Jabu Moloketi. “Moloketi was voorsitter van die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) en was ook adjunk- finansiesminister toe Harith in 2006 aanvangskapitaal van R17 miljoen ontvang het. Dit is noemenswaardig dat, waar die ANC ook al by staat-privaat vennootskappe betrokke raak, die ANC-hoës altyd die grootste voordeel daaruit trek.”

Lees sê die DA is ook baie besorg oor die regering se bevestiging dat die konsortium nog sy normale omsigtigheidsondersoek moet doen voor die ooreenkoms afgehandel kan word. “Dit is kommerwekkend in die lig van die feit dat minister Gordhan vol vertroue blyk te wees dat die konsortium R3 miljard se kapitaal sal verskaf vir die ‘nuwe SAL’. Daar moet duidelikheid verskaf word oor wat sal gebeur as die konsortium nie met die ooreenkoms voortgaan nie.”

Gordhan het onderneem dat die nuwe SAL onafhanklik van die fiskus en die belastingbetaler bedryf sal word. “Dit is dus noodsaaklik dat dié belofte nagekom moet word voor die belastingbetaler weer in die toekoms vir die SAL moet opdok. Die regering is nog steeds verantwoordelik vir die geskiedkundige skuldlas van die SAL en benodig R14 miljard in dié verband – waarvan R10 miljard uit die wetsontwerp oor spesiale bewilligings moet ko, wat tans voor die parlement dien.”

Die minister het ook gesê die langtermyn doelwit is om die SAL op die aandelebeurs te noteer deur ʼn aanvanklike openbare aanbod. “Duidelikheid moet hier verskaf word oor die aandelehouding wat die konsortium sal behou indien die SAL genoteer word – indien dit ooit gebeur en indien die ooreenkoms voortgaan.”

Lees sê die DA is ook besorg oor die filiale van die SAL, hoofsaaklik Mango. “Die minister het slegs gesê dat die toekoms van die filiale nog bepaal sal word deur ʼn gesamentlike assessering met die konsortium, maar nie enige verdere besonderhede verskaf nie. Dit is kommerwekkend dat die aankondiging van ʼn strategiese ekwiteitsvennoog gemaak word in die lig van die feit dat die konsortium nog nie sy omsigtigheidsondersoek afgehandel het nie en dat die kwessie rondom SAL se filiale nog nie eers naby aan opgelos is nie. Die regering blyk ook nie gewillig te wees om binnekort uiteindelik die SAL te laat gaan nie, gegewe die feit dat hulle vir hulself ʼn ‘goue aandeel’ van 33% van stemregte toeëien met ‘sekere gebiede van nasionale belang’. Dit is ook nie duidelik of die Wet op Openbare Finansiële Bestuur noukeurig gevolg is toe ʼn ekwiteitsvennoot gekies is nie.”

Volgens Lees is die DA besorg dat die departement van openbare ondernemings dalk te vinnig reageer het op die saak in ʼn nuttelose poging om belastingbetalers gerus te stel wie se geld gemors word op ʼn lugdiens wat in sy geheel al lankal verkoop moes word.

Intussen het Solidariteit die verkoop van ’n beherende aandeel in die SAL aan privaat aandeelhouers verwelkom, soos vervat in Solidariteit se sakereddingshofstukke met die aanvang van die sakereddingsproses.

“Van die begin af het Solidariteit dit onomwonde gestel dat privaat eienaarskap die enigste denkbare pad vorentoe vir die SAL is,” sê Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut. “Inteendeel, in besigheidsplanne vervat in Solidariteit se sakereddingshofstukke was dit duidelik dat die uiteinde van enige sakereddingsproses ’n strategiese ekwiteitsvennoot moet wees.”

Mulder sê die belangrikste is dat die albatros nou nie meer om die belastingbetaler se nek hang nie. “Na ’n dekade se reddingsboeie en boonop nog ’n pandemie is die regering en SAL as’t ware deur Solidariteit se sakereddingsproses na die kansel toe gesleep.”

Weens die konsortium se bande met die OBK sal Solidariteit fyn dophou hoe die proses ontvou. “Daar sal sterk opgetree word teen enige ongerymdhede wat gemerk word – dit is nou tyd vir ingryping van die mark eerder as die minister,” voeg Mulder by.

“Wat jammer is, is dat duisende werkers hulle werk verloor het en miljarde rande met verskeie mislukte planne vermors is waar die staat sy beheer oor die lugredery probeer behou het. Privaat eienaarskap is al in 2008 as enigste opsie voorgestel, en nou 13 jaar later word dit uiteindelik geïmplementeer. Daarom is dit kritiek dat daar nie weer politieke inmenging in die nuwe SAL mag wees nie. Dit is tyd om besigheidsmanne besigheid te laat doen eerder as burokrate.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Jan ·

Nou is DA se blaf alweer erger as sy byt.DA is nooit met enigeiets tevrede nie Mag is al waarin hulle belangstel net soos die ANC

Jan ·

Die wat duime onder geruk het stem seker DA ek sal nooit miskien is daar mense wat nie weet maar ek ‘n vraag vra:het julle geweet dat uit hulle mond gese het hulle sal dit oorweeg om koalisie met ANC te sluit.Stem DA en julle mag indirek vir ANC stem?

Anton ·

SAL op die aandelebeurs….die Minister wys darem hy het ook ‘n sin vir humor :-)

Oros Soros ·

En daar is die Staatsdienspensioenfonds ook finaal gekaap. Die OBK gaan hierdie honger gedierte die heeltyd moet voer met pensioen geld.

capie ·

In 2006 het OBK voorsitter Moloketi aan Harith R17 miljoen toegestaan as aanvangs kapitaal. Nou is Harith voorsitter, einste Moloketi op soek na nog R3miljard se kapitaal. ‘n Dooie rot in mens se kamer ruik nie lekker nie.

marius ·

Dit kom steeds uit die belasting betalers se sakke . Glo dit maar .

Thereza ·

ooh genade, klaarblyklik is die redder betrokke by korrupsie???? te laat vir SAL

annie ·

Dit wil blyk of Gordhan half buite die spulletjie staan. Was hy ooit opgewasse vir sy taak as minister van finansies? Baie kokke in die kitchen dui op te veel spices in die paai. Groot onmin wag en raai wie moet die eetwerk doen èn opdok?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.