SAL se ondernemingsredding: ‘Onafhanklikheid van praktisyn deurslaggewend’

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit. (Foto: Twitter)

Solidariteit sê hy met die nuut aangestelde ondernemingsreddingspraktisyn vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), Les Matuson, asook met die prokureurs van die SAL se raad, vergader.

Die raad het Donderdag besluit om die sukkelende staatslugdiens in ondernemingsredding plaas.

Solidariteit was egter nie tevrede met die proses van aanstelling van die ondernemingsreddingspraktisyn wat gevolg is sonder om arbeid daarin te ken nie.

“Ons meen dit is van kardinale belang dat alle belanghebbendes geraadpleeg moet word in die ondernemingsreddingsproses en in dié verband was daar positiewe skakeling met mnr. Matuson. Arbeid sal ʼn kritieke rol in die omkeer speel, ʼn beginsel wat mnr. Matuson heelhartig onderskryf,” het Dirk Hermann, Solidariteit se bestuurshoof, gesê.

“As Solidariteit het ons versoek dat mnr. Matuson dit oorweeg om ʼn tweede ondernemingsreddingspraktisyn aan te stel in die lig van die omvang en uitsonderlikheid daarvan dat ʼn staatsonderneming in ondernemingsredding geplaas word. Op hierdie manier sal kapasiteit dan nie ʼn beperkende faktor wees nie.”

(Argieffoto: Themba Hadebe/AP)

Solidariteit sê lugvaartkundigheid is van deurslaggewende belang om ʼn suksesvolle omkeer by die redery te bewerkstelling en hy stel voor dat lugvaartkenners, veral kenners op die gebied van rederye wat in nood was, betrek word om daarmee te help. Volgens Hermann is die voorstel goed ontvang en is ooreengekom dat oop kommunikasiekanale tussen Solidariteit en Matuson gehandhaaf gaan word.

“Solidariteit en die praktisyn het tydens ʼn openhartige bespreking ooreengekom dat Cloete Murray – die ondernemingsreddingspraktisyn wat Solidariteit aanvanklik voorgestel het – by die proses betrokke sal wees, waarskynlik as onafhanklike voorsitter van die werknemerskomitee. Mnr. Matuson het Solidariteit ook die versekering gegee dat hy met die voormalige uitvoerende hoof van die SAL, mnr. Vuyani Jarana, sal skakel om te sien in watter opsig hy van hulp kan wees in die proses,” het Hermann gesê.

“Solidariteit het reeds beduidende voorbereidende werk gedoen as deel van ons eie ondernemingsreddingsaansoek en as sodanig het ons aangebied om mnr. Matuson so ver as moontlik te help in die pogings wat nou gaan volg. Dit sluit in toegang tot ons tegniese kundigheid asook tot die kundiges wat ons geraadpleeg het.

“Die onafhanklikheid van die ondernemingsreddingspraktisyn is van deurslaggewende belang. Ons het die resultate gesien van regeringsinmenging in die bedryf van die redery. Solidariteit is die versekering gegee dat mnr. Matuson totaal onafhanklik is en bereid is om tot die stappe oor te gaan wat hy ook al mag nodig ag om ʼn ommekeer te bewerkstellig, onafhanklik van die regering. Solidariteit sal die proses fyn dophou om seker te maak daar is geen inmenging van die regering nie,” het Hermann gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Taxpayer ·

Briljant Dirk Herman. Sorg dat die skroewe styf vasgedraai word. Enige inmenging van die regering kan net weer op n ramp afstuur.

Elizabeth ·

Baie geluk, Solidariteit. Dit was nie SAL of die regering se inisiatief nie, al wil hulle ons so laat glo. Nou kan julle Eskom ook onder sakeredding laat plaas.

John ·

Mnr Hermann se voorstel vir ‘n buite-liggaam se beheer oor die reddingsplan is aanvaar. Verdere betrokkenheid gaan Solidariteitslede net skade berokken. Bly uit! Dit is lekker om die eie beuel te blaas… soos tydens die Sasolsirkus… wat niks gehelp het nie. Wag.

André-Chris ·

Ok, nou kan die Ontvanger my met belasting tegemoedkom, SAL is mos nou van hul hande af en sal hulle oor die volgende paar jaar miljarde der miljarde aan reddingsboeie spaar. Nou moet daar ook net so ‘n paar towerwoorde oor Eskom uitgespreek word, en siedaar, nog besparing wat na my toe afgewentel kan word by wyse van belastngvermindering.

Johanna Botha ·

Maak net die ou saa ding toe ….al SO moeg vir dit !

George in Bloem ·

So “onafhanklik” soos die MRK wonder ek nogal? Die ANC regering sal seer sekerlik die een of ander “loophole” vind om dinge te beinvloed. Die spul is al goed geoefen in die kuns om die leuen te verkoop as die waarheid…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.