SAL soek glo strategiese vennoot

SAL-SAA

Foto: Commons.wikimedia.org

Vuyana Jarana, SAL se uitvoerende groephoof, het ʼn skriftelike onderneming aan Solidariteit gegee dat dié redery onmiddellik gaan begin met ʼn proses om ʼn strategiese vennoot te kry.

Dit volg nadat Solidariteit vroeër vanjaar sy planne bekendgemaak het om ʼn proses te begin om die lugredery onder sakeredding te plaas ter wille van belastingbetalers reg oor Suid-Afrika.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het Dinsdag gesê dié onderneming is in skrille kontras met SAL se vorige houding dat die redery eers “omgedraai” moet word voordat ʼn strategiese vennoot verkry kan word.

“In die lig van SAL se skrywe waarin omvattende ondernemings gegee word, het Solidariteit besluit om sy aansoek om SAL onder sakeredding te plaas, voorlopig op te skort. Dit is moeilik om onmiddellik voort te gaan met litigasie as die teenparty op skrif aan die meeste van ons eise toegegee het,” het Hermann gesê.

Hermann het gesê dié skriftelike onderneming volg op gesprekke tussen Solidariteit en SAL oor die vakbond se aansoek vir sakeredding.

In die skrywe bevestig Jarana dat die regering aangekondig het dat daar deelname van die private sektor in SAL se eienaarskapstruktuur moet wees. Jarana skryf voorts dat die aandeelhouer, die SAL-direksie en die bestuur daartoe ingestem het om, in die lig van die druk om SAL te befonds, onmiddellik tot die proses oor te gaan.

SAL het ook onderneem om op ʼn gestruktureerde wyse met Solidariteit te skakel oor die projekplan om ʼn strategiese vennoot te kry.

SAL het aan Solidariteit bevestig dat dit wenslik is dat die verdere kapitalisering van SAL hoofsaaklik deur ʼn strategiese vennoot gedoen moet word. Die omvang daarvan is egter nog nie gefinaliseer nie.

Volgens Hermann is Solidariteit se aansoek om sakeredding gefinaliseer en gereed om beteken te word. Dit is ʼn omvattende aansoek van meer as ʼn duisend bladsye. Voorste Suid-Afrikaanse en internasionale lugvaartkenners soos Barry Parsons, Guy Leitch, Nico Bezuidenhout en Monwabisi Kalawe is deel van Solidariteit se span. Sakereddingspraktisyns wat reeds bevestig het dat hulle beskikbaar is, is ook deel van die aansoek.

Die span was veral daarby betrokke om ʼn alternatiewe omkeerstrategie vir SAL as deel van die aansoek te ontwikkel. Die strategie sluit vergelykende studies met buitelandse lugrederye, wat in soortgelyke omstandighede is, in.

“Ons is nie naïef nie –SAL se skriftelike ondernemings is voldoende om die aansoek op te skort. Ons is egter baie skepties daaroor of die ondernemings deurgevoer gaan word. Ons het vertroue in mnr. Jarana se goeie bedoelings en gee hom in dié stadium die voordeel van die twyfel. Ons het egter minder vertroue in die aandeelhouer se politieke wil om radikale besluite oor die private eienaarskap van SAL te neem,” het Herman bygevoeg.

Hy het gesê Solidariteit skort die aansoek dus tydelik op. “Ons sal egter as waghond bly optree. Indien dit blyk dat SAL nie sy ondernemings gestand doen nie, of as die situasie versleg, gaan ons onmiddellik voort met die aansoek om sakeredding. Ons het die valbyl dus gelig, maar dit is steeds daar. Ons stukke vir die aansoek is gereed vir betekening.”

SAL het verder onderneem om net die beste vaardighede en kennis te verkry. ʼn Onderneming is ook gegee dat alle bewerings van onbehoorlike optrede op ʼn versnelde basis ondersoek sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

John ·

Holla! Hoera! Ons glo ons Indiese vriend. Hier gaan ons alweer!

Grassie ·

Met Ramaphosa se beleid van drastiese ekonomiese transformasie beteken dit dat enige moontlike vennoot sal moet besef dat hy ‘n minderheidsvennoot gaan wees. Dit beteken die vennoot sal baie geld moet belê maar besluite gaan deur die onbevoegde ANC-kaders in die senior posisies geneem word. Nou wonder ek – waar gaan hulle iemand kry wat bereid is om baie geld in ‘n bankrot flenterbas mislukking van ‘n onderneming te belê onder die huidige omstandighede. Dink maar aan daardie bank van Venda.

Vryheid ·

Wie in hul gesonde verstand sal met SAL in besigheid wil gaan, gaan kyk maar net na hul “track record”….. Sinking ship.

IK ·

Nie ekke nie!! Ek sal nie eers ‘n dooie hoender belê in SAL. Baie veiliger om ‘n saamstapklub te stig en met die poot te loop . . .

Judge Dredd ·

Dis maar net om Solidariteit te paai. Oor 2 jaar is daar nog steeds geen vennoot.

Koos B ·

Ek glo die enigste manier wat dit kan werk is as jy ‘n private maatskappy is moet jy van die top bestuur tot by die skoonmakers almal vervang anders gaan jy net jou geld en tyd mors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.