SAL staak alle bedrywighede

(Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) se sakereddingspraktisyns het Dinsdag aangekondig dat hulle besluit het om alle lugdiensoperasies onmiddellik te staak, en is besig met ʼn proses om die lugdiens onder bewaring en instandhouding te plaas totdat besprekings oor finansiering voltooi is.

“Ons sal voortgaan om mense wat geraak word ten volle ingelig te hou oor die vordering van hierdie aangeleenthede en hoe dit ʼn uitwerking op die sakereddingsproses sal hê,” het die sakeredders in ʼn verklaring gesê.

Die sakeredders het gesê hoewel daar vordering gemaak is met die finansiering van die groep se reddingsplan, moet die groep na ander opsies kyk totdat die kwessie opgelos is.

Volgens die sakeredders het hulle verlede week met die regering en met verskeie finansierders vergader met betrekking tot die verkryging van finansiering vir die implementering van die sakereddingsplan onderhewig aan sekere bepalings en voorwaardes. Die finansierders was bereid om ʼn deel van die nodige geld vir SAL te voorsien.

Die sakeredders is ook besig om met die regering te onderhandel in verband met die verkryging van die oorblywende finansiering wat nodig is om die plan volledig te implementeer.

Die implikasies vir die onderneming as dit slegs ʼn gedeelte van die vereiste finansiering ontvang, word ook bespreek.

Die sakeredders het aangedui dat hulle tyd nodig het om te bepaal wat die regte stappe is om te doen om voort te gaan indien hulle nie die nodige finansiering kry nie.  Hulle kyk na die opsie van die verkoop van die lugdiens en/of bates van die maatskappy en/of die likwidasie daarvan.

“Ons sal in staat wees om die besluit te neem en die volgende week af te handel,” het hulle gesê.

SAL is in Desember in sakeredding geplaas en benodig R10,4 miljard om gered te word.

Sam Mkokeli, woordvoerder van die departement van openbare ondernemings, het op 18 September gesê SAL sal nié gelikwideer word nie en die regering gaan die geld beskikbaar stel om die herstrukturering van die nasionale lugredery af te handel. Die proses het tot dusver egter gesloer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Johannes Andreas ·

Nog steeds ‘n bodemlose put van onbevoegde kader ontplooing en wanbestuur. Privatiseer. Verkoop aan die hoogste bieër, herwin ‘n gedeelte van die laaste 15 jaar se opgehoopte verliese.
Laat die nuwe eienaar/s die paar bevoegde, nie-korrupte werknemers oorneem en die lugredery onafhanklik bedryf. Genoeg is genoeg. Jy kan nie ‘n vrot appel ‘reg dokter’ deur geld in die mandjie te gooi nie. Gooi die vrot appel weg en spaar die res van die mandjie. Stop die gravy train, of in hierdie geval, die gravy plane. Basiese finansiële bestuursbeginsels moet toegepas word – as iets ekonomies en winsgewend herstel of onderhou kan word, doen dit en vinnig ook. Indien nie, raak ontslae daarvan en opgradeer, of herbesin jou sakeplan.

Pofadder ·

Jy mis een groot punt. Niemand koop ‘n entiteit met laste wat bates ver oorskrei nie, soos die geval hier. SAL is negatiewe geld werd. Jy moet iemand betaal om dit van jou rug af te kry.

annie ·

Die sogenaamde sakeredders vreet geld en niks verbeter nie. Hulle speel met die regering en met die minister wat ook nou maar huistoe kan gaan. Miljarde word deur konsultante opgeslurp; die mees betalende joppie in SA.

JBN ·

Staak bedrywighede permanent en gooi op die ashoop. Dit is tyd dat die Anc kripvreters ophou vreet.

Andre ·

Hier wil hulle dit al weer aan ‘n paar kaders oorgee, en belasting sal maar weer moet spandeer word om hulle ryk te hou.

Stof ·

Hoe raak dit die gebruik van SAL se lughawens soos Jan Smuts en die ander groter lughawens se beskikbaarheid aan ander plaaslike sowel as internasuonale rederye. Sal hulle ander landingsplek moet vind?
So dankbaar dat my voorkeur publieke vervoer, Interkaap is, wat nie van SAL se lughawens afhanklik is nie…

Kiepie ·

Stof, die lugredery en die lughawens is twee heeltemal afsonderlike entiteite. Die lughawens word deur ACSA (Airports Company of South Africa) bestuur en word glad nie deur die stand van sake by SAA geaffekteer nie, behalwe dat hulle dalk nou een minder kliënt het wat van hulle dienste gebruik maak. Maar ek twyfel of dit hulle sal pla want klink nie vir my asof dit in elkgeval ‘n betalende kliënt was nie.

Pofadder ·

Soveel mense sê: verkoop. Die probleem hier is dat laste ver meer is as bates. Niemand betaal geld vir iets met meer skuld en laste as bates nie. Daar is maar net twee werklike opsies – finale likwidasie, of hou aan om geld hier in te pomp. Die regte aksie is likwidasie, maar dit is polities problematies. Daarom, hou maar dop, nog geld gaan vorendag kom.

Gawie ·

Ek is baie jammer vir al die mense wat sonder werk sit, maar waarom is die regering so knaend om SAA te probeer red? Die skip is besig om te sink en enige reddings-aksie gaan ons as belastingbetalers net nog ‘n klomp geld oor die volgend aantal jare kos. Raak ontslae van SAA en begin heel voor met ‘n ordentlike sakeplan.

gatgogga ·

Ons land se ekonomie is deur die ANC verwoes. Ons moet almal dinge pry gee waarmee ons graag sou wou voortgaan. Net die ANC kokkedore is nie gewillig om van die die gerief van SAA afstand te doen nie.

Jakes ·

Dit was te wagte gewees dat die lugdiens tot halt sou kom. Die regering se geldboompie is leeg.

Surfer ·

As die SAL werkers 80% blankes was, was hy al jare terug gelikwideer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.